Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Confucius kom konfoes net dinge op Maties

Die aankondiging dat die Universiteit Stellenbosch met behulp van ’n Naspers-borgskap sy bande met die Chinese regering en berugte Confucius-instituut uitbrei, kom neer op ’n kommerwekkende bedreiging vir die universiteit se akademiese onafhanklikheid.

Vroeër vanjaar het die National Association of Scholars (NAS), ’n instansie gemoeid met akademiese vryheid in Amerika, aanbeveel dat Amerikaanse universiteite alle bande verbreek met die Confucius-instituut – die einste instituut wat in beheer is van die Mandaryns-
Chinese program van Maties se departement moderne vreemde tale. Die American Association of University Professors het vroeër ’n soortgelyke beroep gedoen.

Wat weet die room van Amerikaanse akademici wat die US so sorgvuldig in sy mediaverklarings verswyg?

Eerstens: ’n Chinese staatsagentskap, die Hanban, finansier die salarisse, reguleer die aanstellings, druk die handboeke en keur die kursusmateriaal van dosente wat deur die instituut na kampusse buite China gestuur word. Westerse universiteite wat besluite oor die keuse van dosente en die inhoud van kursusse en handboeke aan die instituut oorlaat, maak “onwenslike toegewings oor akademiese onafhanklikheid”, lui die verslag wat die NAS in April uitgereik het. Hul bevinding is onomwonde: Die Confucius-instituut, volgens The New York Times “die Chinese regering se mees gedrewe poging tot beeldpoetsery”, funksioneer as propaganda-wapen in ’n verbloemde magspel wat behels dat die Chinese regering invloed verkry deur die smee van kultuurbande.

Wat weet die room van Amerikaanse akademici wat die US so sorgvuldig in sy mediaverklarings verswyg?

Volgens die NAS moet universiteite wat nie bereid is om hul bande met die instituut te verbreek nie, sorg dat hulle alleenbeheer het oor voorgeskrewe tekste, kursusinhoud en dosente-aanstelling; en boonop die volle inhoud van kontrakte met die instituut openbaar maak. Daar moet ’n duidelike onderskeid wees tussen die werksaamhede van die universiteit en dié van die instituut, en kursusse deur Confucius-dosente behoort nie krediet­draend te wees nie. Helaas is daar niks in die onlangse beriggewing wat daarop dui dat die US sulke stappe doen om “onwenslike toegewings oor akademiese onafhanklikheid” te voorkom nie.

Dit is finansieel voordelig vir universiteite om die dienste te bekom van dosente wie se salarisse hulle nie hoef te betaal nie. Daarom is daar, benewens Stellenbosch, ook ander universiteite – Ikeys inkluis – wat problematiese verhoudings met die Confucius-instituut aanknoop.

Terwyl Suid-Afrikaanse universiteite veronderstel is om finansiële belange op te weeg teen die beginsels van ’n vrye opvoeding, bly dit egter onaanvaarbaar dat hulle so kniebuigend en onkrities omgaan met die gedienstige gesante van ’n regering wat daagliks menseregte vertrap en wêreldwyd, naas Turkye, die meeste skrywers en joernaliste in aanhouding het.

“In onderwys moet ons nuwe bondgenootskappe smee en ek kan aan geen beter bondgenoot dink as die Chinese regering nie,” het prof. Hester Klopper, US-
viserektor: strategie en internasionalisasie, luidens mediaberigte oor die jongste Confucius-kampuskaping vertel, so borrelend soos die inhoud van die glas wat sy in die gepaardgaande foto teen sy eksellensie Lin Songtian s’n klink. As Matie-alumnus en konvokasiebestuurslid, en as oudvoorsitter van ’n plaaslike tak van Pen Internasionaal, wat hom wêreldwyd beywer vir vryheid van spraak, moet ek Klopper herinner aan die skrywer en digter Liu Xiaobo, wenner van die Nobelprys vir Vrede, wat vanjaar oorlede is nadat die Chinese regering hom sedert 2008 gevange gehou het. Word sy werke deur die US se Confucius-dosente voorgeskryf?

Oor Klopper se sjampanjepraatjies dat sy aan geen beter bondgenoot as die Chinese regering kan dink nie, kan daar myns insiens net een reaksie wees. Dit is moeilik om te dink aan ’n slegter een.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Dieander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.