Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Dan sien mens broosheid van vlugtelinge raak

Die skrywerjoernalis Willemien Brümmer het jare gelede beskryf hoe sy, nadat sy ’n kursus oor aandagtigheid bygewoon het, ’n dronk man uitgeput in ’n modderpoel sien neersak het. Die aandagtigheid het haar aangespoor om voetjie vir voetjie nader te stap, hom op te help en te aanskou hoe sy lyding kortstondig plek maak vir ’n glimlag.

Aan daardie oomblik van teerheid oor grense heen dink ek toe ek dié week oor die Sydney-biënnale lees.

In opdrag van die stad Sydney het die Britse kunstenaar Tracey Emin byna 70 bronsbeeldjies van voëls geskep en op lamppale, sypaadjies en vensterbanke in die sentrale sakegebied laat neerstryk.

“Die stad is enorm, maar die voëls is klein, kwesbaar en broos – net soos ons,” vertel sy in ’n kortfliek oor haar kunswerk. Sy hoop dat die lewe van almal wat die beeldhouwerkies opmerk vir minstens één kortstondige oomblik sal verlangsaam. Dalk is daar dan tyd genoeg om op te let dat sy in die straat waarin die voëls stilletjies om aandag vra, ook ’n groot voëlbad van klip opgerig het met die naam van die kunswerk daarop gegraveer: “The distance of your heart”.

Daardie titel sou eintlik ewe gepas gewees het vir die Chinese andersdenkende Ai Weiwei se biënnale-bydraes. Een daarvan is ’n 60 meter lange rubberboot waarin byna 300 reusagtige, gesiglose figure saamgebondel is. Die kunswerk, so groot dat dit in ’n voorraadskuur op Cockatoo-eiland gehuisves word, is gemaak van dieselfde swart rubber as die bote waarin vlugtelinge die verraderlike Middellandse See probeer oorsteek. Weiwei protesteer hierdeur teen die behandeling van vlugtelinge wêreldwyd. Hy wys die vinger ook na Australië, wat al jare lank vlugtelingbote in die waters noord van hul vasteland aankeer en vlugtelinge laat terugkeer na waar hulle vandaan gekom het (gewoonlik Indonesië).

Aan daardie oomblik van teerheid oor grense heen dink ek toe ek dié week oor die Sydney-biënnale lees.

Meer verskillend kan dié twee kunstenaars se werke nie wees nie. So klein soos Emin se voëlbeeldjies, so enorm is Weiwei se vlugtelingboot. So hard soos Emin se brons, so sag is Weiwei se rubber.

Tog doen albei ’n beroep op aandagtigheid as teenpool vir hardvogtigheid. Hulle vra dat ons let op die weerloosheid wat ons omring: ’n voëltjie, ’n boot vol vlugtelinge of, les bes, ’n besope boemelaar.

Só wys hulle weer dat dit kunstenaars is wat die ontsnaproetes uit al die wêreld se skaakmatkonflikte ken en kan uitwys: nie die politici, sakelui of akademici nie, maar die kunstenaars.

Die kunstenaars is ook goeie gidse by die lees van berigte oor Peter Dutton, Austra­­lië se minister van binnelandse sake, se entoesiasme oor ’n instroming van wit boere uit Suid-Afrika; en dr. Mbuyiseni Ndlozi van die EFF se reaksie dat wit mense gerus maar hul koffertjies kan pak en kan skoert.

Gewone Suid-Afrikaners het die sonderlinge vermoë om, wanneer ons aandagtig op mekaar fokus, oor grense heen te kommunikeer. Dáár begin ons oplossings.

Dit is hoog tyd dat ons van politici vergeet en as deel van ons daaglikse doen en late die afstand tussen ons harte oorbrug (in Tracey Emin se taal).

Ekstremistiese populiste soos Ndlozi moet maar weet dat wit mense nie vir sy plesier na Australië gaan verkas nie.

En Dutton kan sy gasvryheid aan wit mense eerder begin rig aan die bote vol diep ontredderde, van-alle-hoop-verlate-vlugtelinge wat gereeld deur sy land weggewys word.

As hy nie verstaan waarom dit die regte ding sou wees om te doen nie, weet ek van ’n kunsuitstalling wat hom kan help om aandagtiger te leef en helderder te dink.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.