Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Dankbaar – en dan winkels toe op soek na nóg

Die leksikograwe van die Oxford Dictionary het pas aangekondig dat “toxic” hul woord van die jaar is. Volgens hulle vang dié woord die giftige etos, bui en bemoeienisse van die jaar vas en word dit deesdae uitermate frekwent gebruik met verwysing na chemikalieë, manlikheid, gasse, die omgewing, verhoudings, kultuur, vermorsing, alge en lug.

Hul aankondiging het saamgeval met die jaarlikse fetisjering van verbruikerskultuur en vermorsing genaamd Swart Vrydag. In Amerika, waar dié karnaval van koopsiekheid sy oorsprong het, word dit voorafgegaan deur Thanksgiving.

Met ander woorde: Ná ’n dag van dankbaarheid oor alles wat jy hét, vaar jy die winkels in op soek na nóg. Wat ’n vreemde, giftige kombinasie.

In Suid-Afrika met sy enorme en onregverdige klasseverskille gaan dankbaarheid oor wat jy het noodwendig altyd gepaard met skaamte en besorgdheid. Aan die ander kant is bewustheid van wat jy nié het nie ’n warm broeiplek vir ongebreidelde begeerte en wrewel.

Die kultuurteoretikus Fredric Jameson het geskryf dat ons almal bewustheid van ander ekonomiese klasse in ons omdra en daardeur bespook word, soos deur geeste wat ons nie kan besweer nie.

Swart Vrydag is ’n Gotiese riller.

Omdat Spookhuis Suid-Afrika ’n plek is waar die armes die rykes, en die rykes die armes buitengewoon erg die skrik op die lyf jaag, is Swart Vrydag hier niks anders as Gotiese riller-materiaal nie.

Voeg daarby dat ons almal soos spinnerakke beef in die donker skaduwees van ’n dreigende verdieping in die resessie, groter werkloosheid en stygende inflasie, en jy sou vergewe kon word as jy grootoog fluister: Is ’n dramatiese opvoering van die arrogansie van ’n skynbaar onaantasbare elite, die vertoonsugtige dekadensie van ’n bourgeoisie met aristokratiese ambisies, en die nabootsing van flagrante ydelheid en naakte materialisme deur parvenu’s – dit alles ten aanskoue van die miljoene wat miserabel krepeer – ’n goeie idee?

“Ja!” antwoord Absa-bank in ’n advertensieveldtog wat hul kliënte aanmoedig om op Swart Vrydag hul kredietkaarte mildelik te gebruik. “Bestee, en kry ’n kans om te wen! Elke keer as jy op Swart Vrydag jou kredietkaart gebruik, verbeter jy jou kans in ons kompetisie!” En só beland ons nou werklik pens en pootjies in een van die Gotiese Victoriaanse romans waarin skrywers soos Charles Dickens, wat 12 jaar oud was toe sy vader weens onbetaalde skuld in die Marshalsea-tronk beland het, telkens terugkeer na die immoraliteit van bankiers en lenings aan mense wat dit nie kan bekostig nie.

In Great Expectations is dit die karakter Pip wat in ’n skuldlokval gelei word; en in Little Dorrit, met sy sterk antikorporatiewe boodskap, verloor Arthur Clennam deur die toedoen van die bankier Merdle alles.

Ook Thackeray se romans getuig van sy haat vir die verworwenheid van die bankier-elite. In The History of Samuel Titmarsh and the Great Hoggarty Diamond vlug die bankier Brough met ’n fortuin na Frankryk nadat hy talle lewens verwoes het.

Maar volgens literators is Dracula, die graaf met die berg juweliersware en munte in sy kasteel, die monster uit wie se bors geld en goue kettings peul wanneer hy met ’n mes gesteek word, die donkerste Victoriaanse metafoor vir die vampier-bankier.

Dracula kan nie net gelees word as ’n beeld van diegene wat verbruikers probeer uitbuit nie, maar ook van verbruikers self en hul grieselrige onversadigbaarheid.

Was ’n mens se hande op hierdie Sondag ná Swart Vrydag minder besig met die afstandbeheer van die nuwe televisiestel, hoë­troustel en hommeltuig, kon ons dalk geblaai het deur ’n stowwerige eksemplaar van Thackeray se Vanity Fair en ons zombiekoppe laat sak het oor sy opsomming van die toedrag van sake, toe én nou:

“Ah, Vanitas Vanitatum! Which of us is happy in this world? Which of us has his desire? Or having it, is satisfied?”

Thackeray het geglo hy leef in ’n “vain, wicked, foolish world”. Om óns samelewing te beskryf, moet ons miskien maar ons toevlug neem tot daardie helaas gepaste modewoord: Toksies.

Meer oor:  Skuinskyk  |  Swart Vrydag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.