Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Dante herinner skeppers sing die laaste lied

Dit is weer tyd om die grote Durante di Alighiero degli Alighieri, bekend as Dante, van die rak te haal. Die Italianer se beroemdste werk, Die goddelike komedie, handel immers oor ’n reis wat op Goeie Vrydag begin; en dit is puik leesstof vir die komende Paastyd.

Moderne lesers sal boonop vergewe kan word as die Middeleeuse meesterstuk hulle met die gevoel laat dat min deur die eeue verander het. Die Romeinse Ryk en Florentynse stadstaat van Danté se tyd is – soos ons eie leefwêreld – gekenmerk deur politieke verdeeldheid, magsmisbruike, gierigheid, verkwisting en korrupsie.

“Inferno”, die eerste gedeelte van die drieluik, kan onder meer gelees word as ’n wraakfantasie oor wrede strawwe vir die korrupte en magsdronk bewindhebbers van sy tyd.

Terwyl daar tans in hierdie en ander koerante berig word hoe Afrikaans en haar inheemsheid onder skoot kom, is ook Dante se beskouings oor taalpolitiek opnuut relevant. Hy het sy magnum opus immers nie in Latyn geskryf nie, maar in ’n Toskaanse dialek van Italiaans. Dit was ’n keuse wat hy onder meer in sy Convivio en De vulgari eloquentia verdedig het.

Vir die bewindhebbers en opgevoede elite van Dante se tyd was Italiaans nie gepas vir intellektuele en amptelike aangeleenthede nie. Ondanks die kerk en staat se miskenning en neerhalende houding het verskillende dialekte en aksente van vroeë gesproke Italiaans, die “vulgêre tale”, egter onder gewone mense gedy. Dit het ook aanhang onder kunstenaars geniet.

Dante was ’n vroeë kampvegter vir die waarde en waardigheid van hierdie inheemse volkstale. Hy het byvoorbeeld gekies om poësiekommentare in Italiaans eerder as Latyn te skryf omdat hy die gebruiksfunksies van sy moedertaal wou uitbrei.

Wat Dante reggekry het in die taal waarop pouse en koninklikes neergesien het, strek egter eeue later oor taal-, land- en tydgrense heen. Dit leef voort in een van die bakens van die Westerse letterkunde en is gekanoniseer as ’n toetssteen van belesenheid.

Hy het uitgewys dat Italiaans die taal is waarin sy ouers mekaar leer ken het; en dat hy daarom sy ganse bestaan aan dié taal eerder as Latyn te danke het. Hy het verduidelik dat sy moedertaal nie as opvoedingstaal erken word nie, maar dat hy wel daarin opgevoed is, omdat hy Latyn nooit sou bemeester het as dit nie in Italiaans aan hom verduidelik is nie.

In Convivio skryf hy oor die rol van Ita­liaans teenoor Latyn: “Dit sal ’n nuwe lig wees, ’n nuwe son wat sal opkom waar die ou son gesak het en wat lig sal gee aan diegene wat in skadu en donker lê omdat die ou son nie meer op hulle skyn nie.”

In De vulgari eloquentia skryf hy dat die waarde van vernakulêre vorme misgekyk word deur mense wat soos blindes ronddwaal omdat hulle dink die toekoms van Latyn lê voor hulle, terwyl dit eintlik agter hulle lê.

Soos die pleitbesorgers vir veeltaligheid en minderheidstale vandag steeds doen, verduidelik Dante reeds doer in die donker 1300’s dat ’n volksmond-diskoers magtige instellings die stryd kan aansê; en dominante maniere van dink en praat kan uitdaag.

Nóg meer waardevol as sy insigryke argumente oor hierdie kwessies, is egter dat hy met soveel talent, liefde en toewyding in Italiaans gedig en gewerk het. Die destydse beleidsdokumente wat Latyn bevoorreg en Italiaans benadeel het, asook die opstellers daarvan, is vergete en irrelevant. Wat Dante reggekry het in die taal waarop pouse en koninklikes neergesien het, strek egter eeue later oor taal-, land- en tydgrense heen. Dit leef voort in een van die bakens van die Westerse letterkunde en is gekanoniseer as ’n toetssteen van belesenheid.

Dit is nie die burokrate, rektore, professore, senate, kunsministers en onderwysdirekteure wat die laaste woord sal spreek oor ons eie “vulgêre taal” nie. Dit is nie geslepe beleidstukke of hofuitsprake wat bepalend is nie. Die laaste lied, vers, kwatryn en spreekbeurt behoort altyd aan die digters, dramaturge, skrywers en sprekers. Hul nalatenskap seëvier oor bewindhebbers wie se invloed en aansien vervlietend is.

Die Middeleeuse Katolieke Florentyn leer ons ’n lieflike les. Grys mannetjies kom en gaan. Hul klein oorwinnings word in vergetelheid in gelees en geskryf.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.