Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Debat oor name betrek slegs politiek

Meningsverskil oor skole wat na Jan van Riebeeck genoem is, is eintlik deel van ’n groter besinning oor hoe die 17de eeu onthou moet word.

Nederlanders debatteer tans oor die term “Goue Eeu”. Die Amsterdam-Mu­seum gaan dié benaming skrap omdat hulle wil beklemtoon dat die era van Rembrandt, Vermeer, Christiaan Huygens se ekonomiese voorspoed en ongekende weelde ook ’n eeu van armoede, oorlog, gedwonge arbeid en mensehandel was.

Dit is nie die eerste keer dat daar in Nederland self ook krities gedink word oor koloniale erfenisse nie. In Den Haag is ’n borsbeeld van Johan Maurits van Nassau-Siegen in 2017 uit die voorportaal van die Mauritshuismuseum verwyder. As goewerneur van die Nederlandse kolonie in Brasilië in die 1630’s was Maurits persoonlik betrokke by Transatlantiese slawehandel en het hy geld daaruit verdien.

In dieselfde jaar was daar ’n relletjie oor die naam van die Rotterdamse kunsinstelling Witte de With, in Witte de Withstraat – genoem na ’n seevaarder wat betrokke was by koloniale uitbuiting.

Op die ou end is nóg die Rotterdamse naam nóg die naam van die Mauritshuis­mu­seum verander.

Ook die Amsterdam-Mu­seum se besluit blyk nie toonaangewend te wees nie. Die Ryksmuseum het reeds verklaar dat hulle sal voortgaan om na die Goue Eeu te verwys.

Bitterheid en verwyte bly egter nie uit nie en soos in Suid-Afrika is gesprekke oor koloniale herinnerings sinoniem met gepolariseerde, politieke botsings, dikwels tussen konfor­mis­tiese politieke korrektheid en refleks­bewegings wat verandering as verlies interpreteer.

Die sogenaamde Goue Eeu in Nederland het gepaardgegaan met vieslike vergrype, veral wat slawehandel betref.

Dat mens in sulke gevalle as’t ware gedwing word om kant te kies tussen twee eendimensionele opsies, vervlak almal se begrip van ’n komplekse eeu.

Die sogenaamde Goue Eeu in Nederland het gepaardgegaan met vieslike vergrype, veral wat slawehandel betref. Dit was egter ook ’n tydperk van groter intellektuele en godsdiensvryheid as elders – waarskynlik die rede waarom daar in die 17de eeu in Amsterdam meer boeke gedruk is as in dieselfde tydperk in altesaam alle ander Europese lande. Ook op die gebied van kuns was dit ongetwyfeld ’n uitsonderlik asemrowende tydperk.

Natuurlik kan selfs daardie prestasies gerelativeer word. “Dit is merkwaardig dat soveel mense wat so trots is op mense wat 400 jaar gelede op ongeveer dieselfde plek as hulle gewoon het, hul oë sluit vir die feit dat al die fraai Hollandse binnestede oor 400 jaar deur die Noordsee oorstroom sal wees,” lui ’n siniese, dog skerpsinnige leserskommentaar onderaan ’n berig oor die Goue Eeu-debat in ’n Neder­landse dagblad. Ongewoon van die opmerking is dat dit die perspektief verskuif van politiek na die planeet en omgewingskwessies, en van die verlede na die toekoms.

Dit laat mens wonder hoe anders die gesprek oor Van Riebeeck sou verloop indien die raamwerk nie polities was nie, maar byvoorbeeld natuurhistories of ekokrities. So ’n gesprek sou oorweging kon skenk aan Van Riebeeck se rol as vroeë bewaringsfiguur met byvoorbeeld sy verbod op die oormatige uitwissing van robbe, die afkap van inheemse woude en geelhoutbome. In ’n ander toonaard sou ’n gesprek oor name en die eerste Nederlandse aankomelinge dalk ruimte kon bied vir geamuseerde verwondering oor die feit dat die eerste VOC-tuinier aan die Kaap Hendrick Boom geheet het, en die tweede Jacob van Roosendael.

Gesprekke in planetêre konteks, toekomsgerigte gesprekke, esoteriese of poëtiese gesprekke, gesprekke oor kuns en filosofie en tuinmaak of oor die eerste hase op Robbeneiland raak egter toenemend onmoontlik.

Uit al die moontlikhede tot ons beskikking, uit ’n breë register invalshoeke en onderwerpe, praat ons lankal net op één manier oor Van Riebeeck en sy tydperk. Vir diegene wat sy naam wil uitwis, is dit ’n verhaal oor onderdrukking en ontheemding. Vir diegene wat dit wil behou, ’n verhaal oor aankoms en behoort.

Albei houdings hoort tuis in die raamwerk van identiteitspolitiek en die aanname dat historiese figure óf trots óf skaamte moet wek. Die toevoeg van nuanses bly agterweë omdat afstammelinge van koloniseerders én gekoloniseerdes toelaat dat politici al ons gesprekke kaap. So word ons elke dag opnuut gekoloniseer.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.