Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Die behoud wat ’n netjiese kapsel kan bied

Voordat Charlotte Corday in Julie 1793 die politikus Paul Marat in sy bad met ’n kombuismes gaan doodsteek het, het sy haar hare laat doen.

Sy het ’n coiffeur na haar kamer in die Hotel de la Providence, naby die Place des Victoires, ontbied om haar hare ligter te maak, te krul en te poeier. Kort tevore het sy die apokriewe, Ou-Testamentiese verhaal gelees oor Judit, wat die bevelvoerder van ’n vyandige leër onder valse voorwendsels besoek en toe vermoor het.

In Corday se eksemplaar is die paragrawe onderstreep oor hoe dié Jodin haar hare kam en vleg voordat sy Holofernes gaan onthoof.

Corday sou vier dae ná die moord op Marat ’n grusame guillotinedood sterf, maar ure voor haar teregstelling het sy eers nog die skilder Jean-Jacques Hauer ontbied om haar portret te skilder. Sy het hom ook ’n blonde lok gegee sodat hy haar kon onthou. Só het sy enduit die beste waarde moontlik gekry uit daardie laaste besoek van die haarkapper.

Polities was hulle in opponerende kampe, aangesien Corday haar beywer het vir die val van die monargie, maar as daar één mens was wat haar gesteldheid op ’n keurige kapsel sou verstaan, was dit dalk Marie Antoinette. Die Franse koningin se geliefkoosde haarkapper, Léonard Autié, het dekades lank gesorg vir haar asemrowende piramidekapsels met hul pluim van reiervere, edelstene en sylinte.

Haar hare het glo bykans oornag grys geword, ’n teken van haar politieke en persoonlike ondergang.

Die koningin se ma, Maria Theresa, het alewig aan haar gekarring oor ’n meer besadigde voorkoms en op ’n keer ’n portret teruggestuur met die woorde dat haar dogter nie soos ’n koningin lyk nie, maar soos ’n aktrise. (Jammer, aktrises, maar dit was geen kompliment nie. Sy het bedoel haar dogter lyk kommin.)

Marie Antoinette het haar min daaraan gesteur.

Haar kapsels het al hoe hoër en meer verregaande geraak. Sy was baas oor haar hare, nie haar ma of die koning of die Franse volk nie. Selfs ná die val van die monargie en haar gedwonge verskuiwing na die Tuilerieëpaleis het Léonard aangebly as kapper, maar vermoedelik ook vriend en vertroueling. Toe die koninklikes in 1791 na Varennes wou vlug, het sy hóm gevra om haar juwele na haar suster te neem.

Die koningin en haar haarkapper sou mekaar nooit weer sien nie. Dit was die begin van die einde. Haar hare het glo bykans oornag grys geword, ’n teken van haar politieke en persoonlike ondergang.

In gevangenskap, maar voor die teregstelling van haar man, het die koningin steeds haar hare deur ’n diensmeisie laat versorg. Dit was ’n teruggryp na die etiket van Versailles en ’n teken van selfrespek, al was haar kapsels toe eenvoudig.

Volgens Rosalie Lamorlière, die onttroonde koningin se laaste diensmeisie, het Marie Antoinette ná die teregstelling van haar man daarop aangedring om self haar hare te vleg. Sy het dit ook gedoen die oggend voordat sy tereggestel is, maar die laaste afbeelding van haar, die haastige skets wat Jacques-Louis David gemaak het net voordat sy haar kop op die blok gesit het, getuig daarvan dat die laksman haar hare stomp en lelik afgesny het.

Dit is aan hierdie vroue dat ek die afgelope week gedink het toe ons hoor dat haarkappers eersdaags weer hul deure mag oopmaak. Al is die lewe onderstebo en al besef mens terdeë dat só ’n besoek nie sonder risiko is nie, sal hordes nogtans met ’n sug van verligting oor hul drumpels beur. Sommige van ons het selfs tydens die donkerste dae van inperking geheime besoeke gebring.

Die rede is eenvoudig. Soos die vroue van die Franse Revolusie weet die vroue van die virus-era dat jou hare jou vryheid en lewensblyheid verteenwoordig. As alles skeefloop, kan mens darem nog iets aan jou hare probeer doen.

Die teenoorgestelde is ook waar. As dinge skeefloop met jou hare, loop álles verkeerd. So, haal diep asem en maak daardie afspraak.

Jy lyk verskriklik!

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.