Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Die kinders aan die voete van Mammon

Onlangs woon ek ’n swemgala vir laerskole by waar die organiseerders met skriflesing en gebed open, ondanks wetgewing dat skole hulle nie openlik aan ’n bepaalde geloof mag verbind nie.

Geïrriteerd met hierdie hardkoppige gebrek aan respek vir diversiteit, hou ek tydens die gebed die kinders dop. Verreweg die meeste sit onderlangs en gesels, eet lekkers en aartappelskyfies, of kyk verveeld rond.

Hul gedrag spreek minder van geloofsverskille as van nóg iets wat die organiseerders van die swemgala ignoreer, naamlik dat geweldig baie “ordentlike” kinders uit “goeie” huise deesdae geheel en al sekulêr opgevoed word. Vir gebedjies voor die vlinderslag voel hulle absoluut vere.

Die kinders se houding verbaas my nie. Ek gesels dikwels met mededosente oor hoe studente se voorkennis van seminale religieuse tekste met die jare saam al hoe minder raak. Wanneer ek Adam Small se Kanna hy kô hystoe met derdejaars behandel, begin ek gewoonlik met die vraag: “Wie was Moses?” Ek doen dit omdat die teks nie goed begryp kan word sonder kennis van dié Bybelverhaal nie. Talle kyk na my met leë oë waarin daar geen vonk van herkenning flikker nie.

As kleinkind van ’n predikant, en as iemand wat grootgeword het in ’n huis waar daar dag en nag uit die Bybel aangehaal is (as troos en vermaning, om te berispe of te troos, soms grappenderwys en soms in woede), het ek nogal gesukkel om hieraan gewoond te raak.

Wat my as letterkundige by sulke geleenthede kwel, het niks te doen met die private kwessie van studente se geloofslewe of gebrek daaraan nie, maar eerder met die feit dat die stygende tendens van ’n sekulêre opvoeding ’n kulturele verarming tot gevolg het. Dat kulturele verarming nie die enigste gevolg is nie, raak helaas ook al hoe duideliker.

‘Wie was Moses?’ Leë oë kyk na my.

Navorsing gepubliseer in die British Journal of Psychiatry het bevind dat mense wat hulself beskryf as “spiritueel, maar nie godsdienstig nie”, meer kwesbaar is vir geestesversteurings soos afhanklikheid van dwelms, abnormale eetgewoontes, angs, fobies en neuroses.

Dit is onrusbarend in die lig van onlangse bevindings dat slegs 20% van Amerikaanse en Britse kinders jonger as 18 georganiseerde godsdiens beoefen, terwyl ’n volle 80% hulself as spiritueel beskryf.

Toe hierdie millenniërs in ’n studie deur die internasionale advertensiereus Virtue gevra is hoe hulle na hul siel omsien, het die meeste geantwoord dat hulle na musiek luister of musiekfeeste bywoon. ’n Besoek aan ’n kerk, tempel, moskee of enige ander plek van aanbidding was nommer 18 op die lys antwoorde.

Adverteerders het summier besluit die studie wys dat jong generasies “gehelp” moet word om die gate in hul geesteslewe met handelsname te vul. Laat hulle Coke drink pleks van nagmaalwyn, en McDonald’s eet pleks van nagmaalbrood, spot die Britse satiriese tydskrif Private Eye.

Dié swart grap laat my dink aan een van my gunsteling- Anton Kannemeyer-werke. Dit is van ’n blinkrooi Mercedes-sportmotor met deure wat soos vlerke na weerskante strek, asof die motor uit die hemel neergedaal het. Inderdaad word dit gepresenteer deur hande wat uit ’n wolk verskyn, ’n tong-in-die-kies-uitbeelding van God, en word die motor omring deur ’n groep swart mans wat op hul knieë of met uitgestrekte hande die motor aanbid.

In die hoek van die steendruk verskyn die woorde “In God We Trust”. Die subteks is duidelik: Materialisme as ’n vorm van godsdiens, tesame met die inruil van beginsels vir materiële gewin.

Oor kinders wat aan die voete van Mammon pleks van God of Allah leef, tob ek by die swemgala.

Met die dikvelligheid en gebrek aan respek van die groep wat hul godsdiens in ander se kele probeer afdruk, kan ek my nie vereenselwig nie.

Maar aan die ander kant wonder ek met groot kommer en weemoed wat op aarde gaan word van hierdie generasie; en van watter hulp daardie duur Vans-tekkies aan hul voete, daardie duur Fitbits aan hul polse en daardie Apple iPhones in hul sportsakke tydens hul reis gaan wees?

Meer oor:  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.