Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Die strand is weer ’n plek van monsters, siekte en gevaar

Sorgelose strandvakansies – die soort wat al hoe kosbaarder raak in hierdie era van inperkings en strandsluitings – is eintlik ’n betreklik onlangse fenomeen.

In die antieke letterkunde roep die see en die strand gevaar op. Monsters skuil in maalkolke, grieselrige gedaanteverwisselings word voltrek, skepe sink en mense verdrink. Baie trane word gestort op die strande van Homeros se verbeelding. In die Bybel is die see van Galilea verraderlik onvoorspelbaar, die Rooi See ’n plek van mirakel én mismoedigheid, en word Jona swaar gelouter in die walvis se maag.

Dante se derde sirkel van die hel is vol sand en Shakespeare assosieer die see en strand met woedende storms, chaotiese reise en skeepswrakke. Robinson Crusoe kou harde bene op ’n strand en in Lord of the Flies is die strand waar ’n spul bloeddorstige seuns die grense van beskawing oorsteek.

Soos Daniela Blei in ’n opstel vir Smithsonian.com skryf, was die strand van die vroegste tye ’n plek van onheil eerder as ontspanning. Sy meen die spook van Leviatan of die Kraken het die strand sy dreigende aura gegee, maar ook werklike gevare het daar aan wal gestap, soos seerowers en bandiete, kruisvaarders en koloniseerders, die Swart Dood en pokke.

In die geskiedenis van Suider-Afrika is strande boonop sinoniem met die eerste skermutselings tussen plaaslike bevolkings en Europese ontdekkingsreisigers.

Terwyl dit deesdae vir ons tweede natuur is om strand toe gaan wanneer ons wil rus, het strandvakansies eers laat in die 18de eeu in Brittanje gewild geword en van daar af deur die wêreld versprei.

Die See van Galilea was verraderlik.

Alain Corbin skryf in The Lure of the Sea: The Discovery of the Seaside in the Western World (1750-1840) dat die opkoms van die strandvakansie saamgehang het met bisarre beskouings oor gesondheid. Dokters het geglo dat swem in koue water voordelig was vir “melancholie” en ook vir “milt”, glo veroorsaak deur ’n oormaat swart gal wat mense depressief gemaak het.

Antoine Lavoisier se ontdekking van suurstof in 1778 het gelei tot ’n nog groter opbloei van teorieë oor die gesondheidsvoordele van seelug, waaroor soms geglo is dat dit ryker aan suurstof was.

In daardie tyd het die water en lug in swaar geïndustrialiseerde Britse stede natuurlik al hoe meer besoedel geraak en so het dit gekom dat toerisme en industrialisering eintlik hand aan hand geloop het. Die strandvakansie het een van die Britse kulturele uitvoerprodukte geraak en na die res van die wêreld versprei.

Sedertdien is strande steeds nie altyd die veilige en vrolike vakansieruimtes wat ons van hulle gemaak het nie. In 1945 het die strande van Normandië vir ’n grusame bloedbad gesorg, in die apartheidsjare is Suid-Afrikaners op grond van hul velkleur verbied om op sekere strande te swem, in 2004 het ’n tsoenami gesorg vir tragiese lewensverliese op die strande van Thailand, Sri Lanka en Indonesië. En wie kan ooit weer die foto vergeet van die driejarige Alan Kurdi se lykie op Turkye se Bodrumstrand nadat hy en tien ander Siriese vlugtelinge verdrink het toe hulle na die Griekse eiland Kos wou vlug?

Dit help ons egter min om kennis te neem van die hedendaagse eggo’s van antieke gevare op en om strande. Wanneer ons elke jaar weer by die see gaan vakansie hou, is ons moderne eggo’s van die prins van Wallis, later koning George IV, wat in die 1700’s Brighton besoek het omdat hy aangeraai is dat die see sou help vir sy jig. ’n Deel van ons glo steeds dat die see, die son en die strand ons gesond gaan maak. Juis daarom kan ons dit nie kleinkry dat strande nou in dieselfde asem genoem word as gevaar en siekte nie.

Omdat baie van ons benewens die Britse tradisie ook nog erfgename is van die Nederlandse eeue oue liefdesverhouding met die strand, is my Nuwejaarswens dat 2021 die jaar sal wees waarin strande weer sinoniem raak met skulpvissies en strandkrieket eerder as die vervlakste virus.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Antoine Lavoisier  |  Alain Corbin  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.