Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Dié tuiniers se bome gooi ’n lang skaduwee

Aan drie onvergeetlike tuiniers het ek die afgelope week geloop en dink terwyl die dreigende gevaar van grondonteiening sonder vergoeding summier ’n einde gebring het aan die kort respyt van Cyrilforie.

Die eerste was Ralph Henry Arderne, in wie se arboretum ek gaan wegkruip het vir die Kaapse droogte en die gerammel van politieke onweer. Dié Brits gebore botanis het sy eerste saailing in 1845 vir ’n hele vyf pond van ’n skeepskaptein gekoop, dit in Claremont in die grond kom inspit en begin droom oor ’n tuin vol bome van regoor die wêreld. Sy seun, Henry Mathew, het hom gehelp. Pa en seun het die hulp ingeroep van ’n ander pa-en-seun-span: sir William en sir Joseph Hooker van Kew in Londen. In ruil vir sade uit Suid-Afrika het die Ardernes sade uit Kew en ander botaniese tuine ontvang en só het hul tuin teen die hange van Tafelberg begin gedy.

Toe Henry in 1914 dood is, het die Norfolk-denneboom wat sy pa jare tevore van die skeepskaptein gekoop het, begin kwyn en gou onverklaarbaar gevrek.

Die res van die tuin het egter oorleef en bly tot vandag behoue as ’n lushof en nasionale monument.

Aan Henry Arderne, wat dwarsdeur die Anglo-Boereoorlog en tot in die Eerste Wêreldoorlog aanhou tuinmaak het, en ook aan die Japannese vrouetuinier Tomoko Watanabe het ek gedink.

’n Mens kan nie onbepaald in ’n tuin wegkruip en jou doof hou vir wat om jou aangaan nie

Watanabe het verlede jaar vier saailinge in die Arderne-tuin kom plant wat gekweek is van sade van die 161 bome in Hirosjima wat die atoombom van 6 Augustus 1945 oorleef het. Hierdie bome, wat almal in ’n radius van sowat twee kilometer groei, dra sigbare tekens van hul trauma, maar hulle lééf en word liefdevol deur Hirosjima-burgers versorg. Watanabe, een van die stigters van die organisasie Groen Erfenis Hirosjima, sorg dat dié bome se sade uitgeplant word en saailinge regoor die wêreld in tuine teregkom om vrede, veerkragtigheid en vriendskap te verbeeld.

As letterkundige het my gedagtes natuurlik ook gedraai by J.M. Coetzee se tuinierkarakter, Michael K. Terwyl ’n burgeroorlog woed, gaan hy stilweg en stadig sy gang as tuinier in diens van die munisipaliteit van Kaapstad. Wanneer sy ma te sterwe kom, gaan strooi hy haar as op die Karooplaas waar sy as die kind van plaaswerkers gebore is. Hy vind die plaas verlate, plant ’n paar pampoenpitte en woon ’n ruk daar, totdat sy vreedsame bestaan omvergewerp word deur die aankoms van ’n groep guerrillavegters. Sy grootste versugting is dat hulle hom met rus sal laat:

“Because enough men had gone off to war saying the time for gardening was when the war was over; whereas there must be men to stay behind and keep gardening alive, or at least the idea of gardening; because once that cord was broken, the earth would grow hard and forget her children.”

Michael K se wens vir rus en vrede word verydel (gaan lees maar).

Dalk is dit óns ook nie beskore nie.

“Jy is dalk klaar met politiek, maar politiek is nog nie klaar met jou nie,” het Kallie Kriel Suid-Afrikaners die afgelope week in die parlement gewaarsku.

’n Mens kan nie onbepaald in ’n tuin wegkruip en jou doof hou vir wat om jou aangaan nie, maar jy kan daar gaan moed skep en onthou: Terwyl die politici kibbel, is daar nog tyd om ’n boom te plant.

Dalk gooi die alledaagse, vreedsame gebare waarmee gewone mense vrede en vriendskap kies, op die ou end langer

skaduwees as wat ons ooit sou kon droom.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.