Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Die verband tussen die vinger, mag en die penis

Dis die een ding wat Malusi Gigaba nié die afgelope tyd vir die hele wêreld gewys het nie.

Julius Malema het wel, en dit was nie mooi om te sien nie. Trump het ook, en dit was selfs erger, want dit was groter en pienker. Ons praat, liewe mense, van die manlike politikus se geliefkoosde knuppel: Die stokstywe wysvinger.

In ’n variasie op die manlike politici se morbiede beheptheid met hul vingers as fallus-simbool, het Gigaba Dinsdag in die Nasionale Vergadering nie sy wysvinger nie, maar wel sy pinkie vir Mbuyiseni Ndlozi gewaai om te kenne te gee dat Ndlozi minder goed bedeeld sou wees as hy, Gigaba, die baldadige Pornhub-ster.

Asof die seksvideo waarin hy met sy enorme, eie self speel nie erg genoeg was nie, het Gigaba – in ’n week waarin voorblaaie oorheers is deur nuus oor ’n aantal hoëprofiel-hofsake oor vroue en kinders wat ondenkbaar wreed deur mans verkrag is – hom gewend tot die giftige hipermanlike diskoers wat groot penisse met mag assosieer. Daarvoor moes hy, ná ’n klagte van die EFF-hoofsweep, Floyd Shivambo, om verskoning vra.

Maar nog was dit nie die einde nie. Toe die pinkie in bedwang gebring is, was dit tyd vir Julius Malema se wysvinger. Dit help niks dat Suid-Afrikaners die vermanende vinger van PW Botha in die grond in gespit het, en die wêreld saam met sy snorretjie ook van Adolf Hitler se Duitse dirigeerstok ontslae is nie.

Hul lyftaal is universeel en kiesers wêreldwyd herken dit.

Ons moet nog steeds vaskyk in onstabiele orators wie se vingerswaaiery van forte tot fortissimo tot fortississimo vererger soos wat hulle ál meer meegevoer raak deur hul eie reptielbrein-kortekskortsluitings.

“Immer und immer wieder predige ich: Der Wiederaufstieg der deutschen Na-tion!” het Malema vir John Steenhuisen geskreeu terwyl hy sy regtervinger soos ’n getoorde paplepel deur die lug roer.

In Amerika was dit dieselfde storie. “Dann werden wir wieder emporsteigen!” het Donald Trump op ’n mediakonferensie vir die CNN-verslaggewer Jim Acosta gebulder terwyl hy nie net een nie, maar al twee wysvingers in Acosta se rigting gestamp en gestoot het.

Of nee wag. Eintlik was Malema besig om te sê dat Steenhuisen ’n rassistiese jong man is wat al van verkragting aangekla is; en het Trump vir Acosta uitgekryt as ’n ongeskikte, aaklige mens. Dit maak nie juis saak nie, want as politici hul wysvingers begin swaai, raak dit wat by hul mond uitkom, grootliks irrelevant.

Hulle is dan besig met die donker, makabere dans van magsdronkheid. Hul lyftaal is universeel en kiesers wêreldwyd herken dit.

In die 1940-film The Great Dictator het Charlie Chaplin, in die rol van Hitler, meesterlik gespot met die Fascistiese vinger. Sy nabootsing van Hitler se rykskanselier-intreerede fokus op komiese variasies van Hitler se kragtige, herhalende stafbewegings en vingerkonfigurasies. Die draak word gesteek met die verband tussen die vinger, mag en die penis wanneer sy Hitler-karakter koue water by sy broek ingooi om homself af te koel.

Chaplin is skreeusnaaks, maar hy laat mens ook met ’n beklemmende gevoel van naargeestigheid.

Dit is dieselfde gevoel waarmee mens sit ná ’n week soos die afgelope een: ’n Week waarin Hannah Cornelius en Susan Rohde en Courtney Pieters se laaste oomblikke in grusame detail opgeroep is, en ’n kabinetsminister homself in die parlement op die grootte van die wapen in sy broek geroem het, en manlike politici wêreldwyd vinger geswaai het soos die mees berugte leier van alle tye.

  • Dr. Sonja Loots doseer letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Donald Trump  |  Julius Malema  |  Malusi Gigaba  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.