Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Die vergeefse stryd teen dankbaarheid

Ek en ’n vriendin stap verby ’n vakansiehuis met ’n groot naambord met die woord “Dankbaar”. Dit is vermoedelik een van etlike vakansiehuise met dieselfde naam oor die land. ’n Pragtige huis met ’n pragtige uitsig en dit is duidelik dat die eienaars inderdaad baie het om oor dankbaar te wees.

Nietemin reageer ons onvanpas wrang. My vriendin vertel van ’n familielid wat so dikwels die woord “kosbaar” mymerend geuiter het – as kinders oulik is by familiesaamtrekke, as iemand ’n snaakse grap vertel en sommer ook as sy braaibroodjie lekker proe – dat sy skoon allergies geraak het daarvoor.

Ek voel so oor die hutsmerk “blessed” en as ék in hierdie dae ’n naam vir ’n strandhuis moes kies, skerts ek, was dit “Gatvol”. Want al is die see elke dag tydens my vakansie flonkerend blou, mag ek nie daarin swem nie. Al is die strand verlate, mag ek nie daar stap nie. Al is ek ’n matige drinker, mag ek nie ’n biertjie gaan koop om langs my braaivleisvuurtjie te geniet nie. As ek die kinders neem om roomys op die promenade te gaan koop, word ons aangegluur deur gemaskerde polisiemanne. Vir ekstra oemf is daar beurtkrag, vreesaanjaende nuusberigte oor vol hospitale en die knaende vrees oor wat alles nóg vir ons voorlê.

Vreemd genoeg bly dié terloopse gesprekkie my die res van die vakansie by. Elke keer as ek geseënd en gelukkig, gekoesterd of tevrede voel, hoor ek in my gedagtes: Wees dankbaar. Erger nog: Elke keer wanneer ek kwaad, gefrustreerd of onseker voel, hoor ek dit ook: Wees dankbaar.

Dankbaarheid bevorder ook jou fisieke gesondheid.

Nou weet ek so goed soos enigiemand anders dat dankbaarheid wonderlike medisyne is. Hoewel dankbaarheidstudies eers sedert 2000 ’n belangrike navorsingsterrein in die sielkunde geraak het, is daar reeds ’n magdom gesaghebbende navorsing en verstommende bevindings oor die terapeutiese voordele van dankbaarheid. Dit is geen ouvroustorie nie.

Mense wat dikwels en intens dankbaar voel, is gelukkiger, minder depressief, minder gestres en meer tevrede met hul lewe en sosiale verhoudings. Dankbaarheid dien as buffer teen depressie omdat dit jou help om positiewe ervarings te erken en daaruit te put. Dankbare mense het hoër vlakke van selfaanvaarding en meer positiewe maniere om probleme die hoof te bied. Hulle slaap beter omdat hulle minder negatiewe en meer positiewe gedagtes dink net voordat hulle gaan slaap. Daarbenewens kan ’n persoon se dankbaarheid die verhoudingstevredenheid van hul maat beskerm.

Dankbaarheid bevorder ook jou fisieke gesondheid. In een beroemde eksperiment het tieners wat ’n maand lank dankbaarheidsjoernale gehou het, vanself gesonder kos begin eet.

My voorbehoud oor dankbaarheid is egter dat dit te dikwels gebruik word om mense se emosies, of ten minste hul verwoording daarvan, aan bande te lê. Volgens ’n berig in The Guardian hou die Covid-19-pandemie die grootste bedreiging vir die mensdom se geestesgesondheid in sedert die Tweede Wêreldoorlog. Wanneer mense eensaam of paniekbevange is, gaan dit nie help dat die een of ander Bitsige Bettie vir hulle preek oor hoe dankbaar hulle eintlik moet wees oor wat hulle wel het nie. Dankbaarheid moet spontaan beleef word en nie afgedwing word nie.

Ons leef in ’n era van omwenteling en is nog besig om woorde te vind vir die komplekse, geskakeerde emosionele landskap waarin ons rondstrompel. Dankbaarheid is ’n deel, maar slegs ’n deel daarvan.

Tussen sulke gedagtes deur raak dit toe eindelik tyd om op te pak. Die vakansie is verby. Op die laaste dag, net voordat ons in die pad val, vra ek my dogter om gou te kyk of daar nog plek oor is in die asdrom voor die huis. Sy maak so en kom staan hande in die sye voor my, so tergerig soos net tieners kan wees. “Mamma,” moet ek hoor, “die asdrom is halfleeg of halfvol, afhangend van jou perspektief.”

Ek lag vir haar en toe ek my weer kom kry word ek al weer onverhoeds betrap deur – ek kan dit nie ontken nie – dankbaarheid.

Dêmmit.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.