SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Dié vroue moet soos mans werk – dit sal soos ’n vakansie voel...

Hierdie rubriek is vir vroue wat baie hard werk saam met manskollegas wat minder hard werk.

Statisties is dít die situasie waarin die meeste vroue in professionele omgewings in alle lande in die Weste hulle bevind. Selfs waar en wanneer hulle dieselfde verdien as hul manlike kollegas en dieselfde posvlak beklee, werk hulle harder.

Ter viering van Internasionale Vrouedag het ek my die afgelope week met dankbaarheid en vreugde gewend tot die Harvard-akademikus Tomas Chamorro-Premuzic se boek Why Do So Many Incompetent Men Become Leaders? (And How to Fix it). Chamorro-Premuzic wonder waarom dit so is dat, terwyl daar wêreldwyd meer vroue as mans op universiteit is en hulle in die algemeen beter presteer as mans, hulle steeds onderverteenwoordig is in leiersposte in die werkplek en die politiek.

Hy haal ritse en ritse hoëprofiel-studies aan wat wys dat vroue bekwamer leiers is, maar dat die professionele wêreld gekenmerk word deur ’n ooraanbod van onbekwame mans in senior poste. Swak bestuurders wie se selfvertroue nie strook met hul skrale talente en liggewig-ver­moëns nie, en base wat onbewus is van hul eie beperkings, is die norm eerder as die uitsondering.

Prontuit gestel: Die meeste leiers is vrot, en die meeste leiers is mans.

Volgens Chamorro-Premuzic gebeur dit omdat oordrewe selfvertroue, bombasme en narsisme by mans verwar word met leierskappotensiaal of talent.

Hy diagnoseer ’n patologiese stelsel wat mans vir hul onbekwaamheid beloon en vroue vir hul bekwaamheid straf. Sy oplossing is dat die lae standaarde wat in professionele omgewings aan mans gestel word, hoër moet wees.

Die meeste leiers is vrot; die meeste leiers is mans.

Aangesien hy self met jota en tittel illustreer en bewys dat die meeste leiers in die werkplek mans met middelmatige of ondergemiddelde vermoëns is, sal daar van sy aanbeveling waarskynlik dadels kom.

Dit is nogtans ’n verfrissend ander perspektief as dié van Sheryl Sandberg van Lean In-faam.

In háár boek skryf Sandberg dat vroue hulself pootjie deur nie genoeg in die werkplek aan te durf nie. Hulle moet ophou terugstaan vir mans en meer uitdagings aanvaar.

Sug. Die probleem met Sandberg se raad dat vroue harder moet werk om te wys dat hulle mans se gelyke in die werkplek is, is dat dit uitputtend is. Dit laat buite rekening dat die meeste mans in leiersposte gemiddeld of ondergemiddeld is en dit is onregverdig om te verwag dat vroue briljant en hardwerkend moet wees terwyl mans met veel minder moeite op bevorderings en salaristjeks kan reken.

Ek hou veel meer van Pilita Clark se reaksie op Chamorro-Premuzic se boek in ’n onlangse artikel in die Financial Times.

Dit is hoog tyd dat vroue die reg opeis om ewe onbekwaam, lui en nutteloos as mans te wees in die werkplek, skryf sy. Dít is ware gelykheid.

Haar aanslag is waarskynlik effens tong-in-die-kies, maar vroue wat tot in hul murg moeg is daarvoor om alewig harder in die juk te trek as hul manskollegas, sal erken dat dit aanloklik klink. Mens sou dit die nuwe “Lean Out”-beweging kon noem. Dink net: Lekker rustig en stadig werk en dan uitgebreid jou eie lof besing, dawerend delegeer terwyl jyself op jou louere rus, en soos ’n pierewaaier rondslenter sonder haas of sorge.

Indien vroue Clark se raad vir te lank volg, sal absoluut niks ooit weer uitgerig of afgehandel word nie, maar as tydelike respyt is dit werklik onweerstaanbaar.

Hoe lui die teksvers nou weer? Gaan kyk na die luiaard, mier, kyk hoe hy nie werk nie en leer by hom. Sela!

  • Dr. Sonja Loots doseer Afrikaans- en Nederlandse letterkunde aan Ikeys.
  • Lees ook haar brief op die brieweblad.
Meer oor:  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.