Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Dieselfde reg op oorlewing geld vir almal
Foto:

Oral ter wêreld geld dieselfde riglyn vir die beskikbaarmaking van entstowwe teen die koronavirus: Die kwesbaarste lede van ’n samelewing word eerste ingeënt.

Wanneer die vraag na iets groter is as die aanbod, bepaal prys pleks van behoefte gewoonlik wie eerste geholpe raak. Die prys styg en slegs diegene wat dit kan bekostig, raak geholpe.

Die rykes hoef gewoonlik ook nie hul beurt af te wag nie. Hulle het persoonlike bankiers, assistente vir inkopies, faktotums vir administratiewe rompslomp, vroeë toegang tot konsertkaartjies en die voorreg om eerste aan boord te stap wanneer hulle besigheidsklas reis.

Dat die wêreld so gewoond is aan afsonderlike reëls vir ryk en arm, maak dit wonderbaarlik dat geen meningsverskil woed oor die feit dat skaars inentings eerste gegee word aan die kwesbaarstes nie.

Die mensdom is gedwing om te erken dat inentings aan almal, ryk of arm, die enigste manier is om die pandemie in sy spore te stuit. Kennelik is daar ook groot eenstemmigheid oor ’n belangrike morele beginsel: Mense met geld en mag het nie ’n groter reg om te oorleef as ander nie.

Met goeie rede is gesondheidswerkers en bejaardes dus wêreldwyd eerste gestel. In Amerika het 16 state voorkeur gegee aan rokers en, soos hier in Suid-Afrika, het 44 besluit onderwysers mag vroeër ingeënt word. Tog bly die klem deurgaans op dié wat dit die nodigste het.

Soos gewoonlik word dié wat die meeste geraas maak die beste gehoor.

Mense wat geld en mag probeer gebruik om voor in die tou in te druk, ontlok oral afkeer. In Peru, Argentinië en Ecuador is politici gedwing om te bedank nadat hulle inentings vir vriende en familie onregmatig bekom het. In Brasilië, Kanada en Brittanje was daar soortgelyke skermutselings. Die Suid-Afrikaanse miljardêr Johann Rupert het koerantvoorblaaie gehaal omdat hy in Switserland ingeënt is by ’n Mediclinic-filiaal.

Hoe ironies dat einste die joernaliste wat so smalend oor Rupert berig het, nou self na heel voor in die Covid-19-tou beweeg danksy die misbruik van kontakte. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het vandeesweek aangekondig dat die regering ingestem het om voorkeur te gee aan joernaliste.

“In Januarie vanjaar het Sanef ’n harts­togtelike beroep op die nasionale bevelsraad gedoen dat joernaliste in die tweede fase van die bekendstelling geprioritiseer moet word. Ons het ook pres. Cyril Ramaphosa beywer.”

Soos gewoonlik word dié wat die meeste geraas maak die beste gehoor. En wie maak ooit meer geraas as joernaliste; en wie het beter toegang tot die bevelsraad en die president?

Talle vakartikels kan geskryf word oor die melodrama en grootheidswaan van Sanef se mediavrystelling. Joernaliste “het die afgelope tyd elke dag hul lewe gewaag” en “die land deurkruis” om “na hospitale, klinieke, inentingspersele, massa-byeenkomste en perskonferensies” te gaan “in diens van die land om te verseker dat die publiek voldoende ingelig is”.

Dat die vreeslose kruisvaarders wat hier uitgebeeld word, ’n klein handjievol mense is, raak duidelik wanneer mens tussen die reëls lees: “Sanef waardeer veral die besluit van die regering om nie net joernaliste in die frontlinie in te ent nie, maar om alle kategorieë mediawerkers te akkommodeer.”

Met ander woorde: Elke joernalis wat sedert Maart in pantoffels tuis sit en werk, sowel as die baas én die sekretaresse wat hy in die donker knyp, word bevoordeel omdat Sanef die oor gehad het van die bevelsraadslede en die president.

Statisties volg gevangenes ná dokters en verpleegsters op die lys van mense wat die grootste kans het om Covid-19 op te doen. En watter groter gevaar loop enige van die Sanef-bestuur en hul lede as taxibestuurders, huiswerkers, bankkassiere, kelners, skoonmakers en konstruksiewerkers? Wat van die kassier wat joernaliste se supermark-inkopies oplui?

Die gejaag van verskillende professies om te probeer aantoon waarom húlle nou die eerste of volgende moet wees om ingeënt te word, is onfatsoenlik. Dat Sanef skaamteloos hieraan meegedoen het, is ’n absolute skande.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.