Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Dikvel-Engels se gedreun ’n klap in ander tale se gesig

Die regstreekse televisie-uitsendings van pres. Cyril Ramaphosa se toesprake die afgelope maand is boeiend om meer redes as die veelbesproke geworstel met sy masker Donderdagaand.

Geweldig openbarend is onder meer die enorme seggingskrag van gebaretaal wat, danksy die klein venster op jou TV-skerm, vir almal toegankliker geraak het.

Dit is treffend om Ramaphosa se toesprake oor gewigtige sake op een skerm te volg en op die ander hoe daar met gelaat en gebaar, met knik en blik, uitdrukking gegee word aan wat die president besig is om onder woorde te bring. Selfs sonder kennis van gebaretaal hou mens onwillekeurig vir Ramaphosa en die tolk saam-saam dop.

Só raak die twee skerms deel van ’n samespraak en raak dit duidelik dat die tolk ook segspersoon, interpellant, verteller, vertolker en voordragkunstenaar is. Die inhoud van die toesprake word nie net vertaal nie, maar ook vertolk, toegelig, benadruk en ingekleur.

Deur die veelseggendheid van gebaretaal word die geykthede van gesproke taal vars gemaak. Ook kom ander nuanses na vore wat vir ’n meer geskakeerde ervaring sorg. Byvoorbeeld: Hoewel die president onwrikbaar ernstig is en Suid-Afrikaners se gemoed in die algemeen swaar, kan ons darem af en toe glimlag wanneer die tolke se energieke doen en late aan mimiek en selfs pantomime herinner.

Omdat gebaretaal so grondig van gesigsuitdrukkings en liggaamstaal gebruik maak, gebeur daar ook iets anders om die woorde heen.

Terwyl Ramaphosa redelik strak en feitelik kommunikeer, registreer gebaretaal die emosionele gewig van sy woorde. In die tolke se sintuiglike en meelewende beliggaming van dit wat ons hoor, vind ons iets terug van die heftigheid en gevolglike groot impak van die aankondiging. In ontstellende tye is dit ’n vreemde soort troos en toeverlaat.

Ons is gelukkig. Die toevoeging van gebaretaal tot die uitsendings stel ons in staat om op genuanseerde wyse te luister, te begryp en te beleef. Dit is ’n mooi voorbeeld van hoe veeltaligheid begrips- en belewingshorisonne verbreed.

‘Miljoene mense verstaan Cyril nie.’

Nogtans is dit vir aktiviste wat al dekades lank groter erkenning vir Suid-Afrika se amptelike landstale bepleit ’n bittersoet belewenis.

Terwyl daar moeite gedoen word met gebaretaal, word niks gedoen om die ander amptelike landstale te erken nie.

Dowe mense kan die president nie hoor nie, maar dit is ongelukkig ook so dat die miljoene mense wat hom wel kan hoor, nie noodwendig almal Engels verstaan nie. Engels is die taal van die stede, van die openbare lewe, van die media, die sakewêreld en regering. Dit gaan egter hier om gesondheidsboodskappe waarvan die relevansie nie beperk is tot die tradisionele magsentrums van invloed, opvoeding en rykdom nie.

In die 2011-sensus is mense gevra watter twee tale hulle die beste beheers. In die Oos-Kaap, Vrystaat, Limpopo, Noord-Kaap en Mpumalanga het verreweg die meeste inwoners Engels nie op daardie lys geplaas nie. Met ander woorde, Engels is ten beste hul derde taal. Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap is die enigste provinsies waar die meeste sprekers Engels as een van hul twee toptale gekies het. Baie eenvoudig gestel: Daar is betroubare data wat wys dat die Engelstalige toesprake van Cyril Ramaphosa oor die koronavirus swak begrypbaar of totaal onbegryplik sal wees vir etlike miljoene Suid-Afrikaners.

Terwyl geldarmoede ’n onderwerp is waaroor daar baie geskryf en gepraat word, herinner die feit dat die regering belangrike gesondheidsboodskappe slegs in Engels en gebaretaal uitsaai aan ’n ander armoede waaronder die land gebuk gaan. Die manier waarop die land se tale doodgeswyg word en die gedreun van die taal wat dikvellig en bedrieglik bly voorgee om allemansvriend te wees, is die gevolg van onregverdige en kortsigtige taalbesluite en -beleid van die laaste dekades.

Terwyl die simultaantolk die president se boodskappe oordra aan dowes en hardhorendes, luister die sprekers van tien ander tale hoe die president praat in ’n taal wat hulle kan hoor, maar nie noodwendig kan verstaan nie. Die langdurige verwaarlosing van taalregte beteken dat hulle maar moet opsnork.

Vir miljoene van hulle is daar geen taal of tyding nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.