Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Dink weer oor droombeeld dat jou geluk elders lê . . .

Soos ’n verveelde goudvis wat uit ’n klein bak verlangend loer na die wye wêreld daar buite: Só het dit gevoel om verlede naweek op die rusbank te lê en sport kyk.

Terwyl ons hier sirkels draai in ons Covid-19-ingehokte bestaan, was die televisieskerm ons enigste poort na ’n skynbaar sorgvrye somer in die Noordelike Halfrond.

Skoon váál van verlange het mens geraak by aanskoue van die tennis opWimbledon. Dit was bitterlik koud langs my televisieskerm, maar lekker warm langs die grasbane. As een van die dom drommels wat onverhoeds betrap is deur die drankverbod, het ek die toeskouers veral ook beny oor die glasies Pimm’s en limonade wat hulle agterna sou klink.

En toe was dit tyd vir die Euro2020-eindstryd tussen Engeland en Italië op Wembley. Soveel plesier, soveel jolyt!

Terwyl sosiale samekomste hier verbode is, was dit bisar om te kyk hoe die skare sing en skree met geen masker in sig nie.

Ai, ek wens ek was nou dáár, het ek gewens, soos die man op die trein in Totius se gedig “Repos ailleurs” (“Die rus is elders”). Die man op die trein kyk verlangend deur die venster na ’n tentjie in die veld en sug: “Was ek net/ in die tentjie klein, ek sou tog so gelukkig syn.”

Die verlange na elders het heftiger geraak terwyl die onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal woed. Om beeldmateriaal van plundery, armoede en geweld op te weeg teen die luilekker lewe langs die sportvelde van Europa, was ’n resep vir mismoedigheid.

Dit verbaas nie dat die firma New World Immigration in Kaapstad die afgelope week glo ’n 1 500% toename in navrae en aansoeke om te emigreer ontvang het nie.

Menswees verknoop met jou wortels.

So sensasioneel was die nuus oor ons eie geweld en plundery, dat ’n mens byna die nasleep van die sokkerwedstryd op Wembley gemis het. Reeds by die stadion was daar woeste moleste en het die polisie 53 mense in hegtenis geneem. In Leicester Square en Charing Cross Road het die boewery voortgegaan. Dit het nie gebly by die gooi van bierbottels en die breek van winkelruite nie. Die Engelse spelers Marcus Rashford, Jadon Sancho en Bukayo Saka is ná Engeland se nederlaag aan kru en wydverspreide rassisme onderwerp. Data-ontledings en ’n verklaring deur Twitter onderstreep dat rassistiese aanvalle op hierdie spelers heftig en grootskaals was.

Intussen was daar ook in Kuba en Frank­ryk oproer, in pas met ’n tendens wat aangestip word in die Globale vredesindeks (GPI).

Die Instituut vir Ekonomie en Vrede se jongste verslag wys dat daar sedert die koms van Covid-19 wêreldwyd ’n afname in vreedsaamheid en stabiliteit is.

Teen die einde van die week was sake aan die tuisfront weer rooskleuriger. Die oproer was in bedwang, Jacob Zuma was steeds in die tronk en ek kon met dankbaarheid registreer vir my inenting.

Rashford se nederige, maar beginselvaste reaksie op die storm wat om sy kop losgebars het, het my ook diep ontroer. Hy kan kritiek oor sy spel verduur, maar sal nie om verskoning vra vir sy velkleur en wie hy is nie, het hy gesê.

Nog treffender as die tranebui ná sy mislukte skop op Wembley, was sy plekgebonde siening van self: “I’m Marcus Rashford, 23-year-old black man from Withington and Wythenshawe, South Manchester. If I have nothing else, I have that.”

Rashford se insig dat sy menswees belangriker is as seges op die sokkerveld; en dat dit verknoop is met sy wortels in ’n sekere plek en gemeenskap, is besonders vir iemand so jonk. Dit is ook ’n mooi teenvoeter vir jeukerige voete en die droombeeld dat geluk en betekenis elders is.

Terwyl die man in Totius se gedig verlangend uit die trein na die tentjie in die veld staar, staan ’n kind langs die tent en staar na die verbygaande trein. Sy dink: “Ag, was ek maar net/ in die vrolike trein,/ ek sou tog o so gelukkig syn.”

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.