Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Dit is Sweedse tiener se kritici wat histeries is – nie sy nie

Die klein en tenger klimaatsaktivis Greta Thunberg het in ’n kort tydjie al vele groot vyande gemaak.

So het die Sweedse 16-jarige glo geweier om Donald Trump te ontmoet omdat sy meen dit sou tydmors wees. Sy sarkastiese twiet oor haar toespraak by die Verenigde Nasies se spitsberaad oor klimaatsverandering het gepaardgegaan met ’n kwaai aanval deur Wladimir Poetin by ’n fossielbrandstofbedryfberaad in Rusland.

En dis maar net die begin.

Sedert die begin van haar opspraakwekkende “skolstrejk for klimatet” (“skoolboikot vir die klimaat”), en veral die afgelope maande terwyl haar impak en invloedrykheid al hoe groter word, is veral mans se reaksies op haar veelseggend.

“Ek het nog nooit so ’n jong meisie met soveel geestesversteurings gesien wat deur soveel volwassenes as ’n ghoeroe behandel word nie,” het ’n Australiese joernalis oor Thunberg geskryf. Op Sky News is sy ’n “histeriese tiener” genoem, op Fox News ’n “geestelik siek Sweedse kind”. Sy word gereeld as “chronies angstig” bestempel. Een kommentator het beweer Thunberg het ’n pak slae nodig, ’n ander een vergelyk haar aktivisme met “Middeleeuse heksery”.

Thunberg se kritici noem haar byna altyd ’n kind, maar op byna 17-jarige ouderdom is sy eerder ’n jong vrou. Laasgenoemde is die onderliggende rede waarom mans se infantilisering van haar so dikwels gepaardgaan met beskuldigings van ooremosionaliteit, histerie, geestelike versteurdheid en ’n onvermoë om selfstandig te dink. Dit is alles stereotipiese beskuldigings wat gebruik word om “moeilike” vroue, met ander woorde vroue wat sterk standpunt inneem, te ondermyn en stil te maak. Die strategie is desperaat en effens lagwekkend, maar nie onbeduidend nie. Die geskiedenis is immers besaai met voorbeelde van vrouestemme wat as “skril” en “histeries” gebrandmerk is om hulle te diskrediteer. Vroue soos Thunberg hoor al eeue lank hulle het rus of medikasie nodig.

Sy deins nie terug nie en laat haar nie inpalm nie.

Gelukkig weet Thunberg skynbaar presies wat gaande is. Die afgelope week met Halloween het sy in ’n tong-in-die-kies-twiet opgemerk dat sy nie eens ’n kostuum hoef aan te trek om sommige mense bang te maak nie. Haar invloed, en die byna patologiese woede en verontwaardiging wat sy ontlok, het onder meer te doen met die feit dat sy ongewoon direk kommunikeer. Toe sy wêreldleiers in die VN-hoofkantoor in New York moes toespreek, het sy hulle gekonfronteer sonder om te giggel of te glimlag, sonder om te flirteer of hulle te vlei. Sy het boonop die vermetelheid gehad om passievol te wees, om woedend te wees, en om hulle aanspreeklik te hou.

Die subteks van haar betoog was: Ek voel vere vir wie julle is en vir jul sosiale en politieke hiërargieë. Jul gesaghebbendheid is ’n rookskerm en tot tyd en wyl julle daadwerklik optree, verdien julle nie respek nie.

Wat ’n kopseer is sy nie! Sy deins nie terug nie en sy laat haar nie inpalm nie. Sy beroep haar keer op keer op gesaghebbende wetenskaplike bevindings. Boonop voeg sy voortdurend die daad by die woord, waarmee sy wys dat sy ’n opregte opstandeling pleks van ’n voorgee-rebel is.

Hoe kan haar vyande haar bykom en diskrediteer? Daar is vir hulle net een uitweg. Om die aandag van haar boodskap af te lei, speel hulle nie die bal nie, maar die vrou.

Die kritiek word nie gerig op haar argument nie, maar op wie sy is: Iemand wat die aarde probeer red. ’n Kind. ’n Vrou.

Thunberg se aandrang op stappe teen klimaatsverandering is heeltemal rasioneel. Haar pleidooi dat ag geslaan word op gesaghebbende navorsing is redelik. Dit is nie sy wat histeries is nie, maar haar kri-tici. In samehorigheid met die taai klein Sweed met die vlegsels behoort vroue wêreldwyd hierop te reageer.

Miskien sommer, kort en kragtig, in Thunberg se eie woorde: “How dare you?”

Meer oor:  Sonja Loots  |  Greta Thunberg  |  Bewaring  |  Skuinskyk  |  Klimaatsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.