Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Donker prins van punk en Coleridge-reëls bring heimwee

Nou bekommer ek my al selfs oor Iggy Pop, van alle mense.

Dit begin met ’n ompad, by The Ancient Mariner Big Read, ’n digitale kunswerk gemaak deur ’n formidabele groep akteurs, digters, romansiers en filosowe. Ek wink my langhaartiener nader en, in ’n poging om hom ’n kriesel meer opgevoed te kry ná langer as vier maande weg van die skoolbanke, dwing ek hom om saam met my daarna te luister. Om dit as 18de-eeuse rapmusiek te bemark was dalk oorbodig, want Coleridge se epiese fabel oor die boetedoening van ’n matroos wat ’n albatros met sy kruisboog doodgeskiet het, oorstyg alle grense. Die eerste groot Engelse letterkundewerk oor isolasie en eensaamheid, en oor die gevolge van die mens se misbruik van ons natuurlike omgewing, is sprekend van al die dilemmas van die hier en nou.

’n Skip seil deur krakende ysberge na die ewenaar, maar dan kom die noodlots-oomblik: “With my cross-bow / I shot the ALBATROSS.” Dit is die begin van spookagtige verskrikking. Die skip word in ’n lang windstilte vasgevang en die bemanning hang die dooie albatros om die nek van die een wat hom doodgeskiet het. Hy word deur elkeen van hulle vervloek voordat hulle van dors dood neerslaan. “For all averred, I had killed the bird / That made the breeze to blow.”

Die stemme van die kunstenaars wat aan die projek meegewerk het, kom van ver en oor ’n ontsaglike uitspansel van water na ’n mens aangedryf. “ ’n Drywende demi-monde,” beskryf ’n resensent van The Atlantic dié 40 randfigure.

Die beleë gekraak van die Britse akteur Jeremy Irons met sy sagte staaldraadsnor, die rokerige chanteuse-stem van Marianne Faithfull...

’n Onverwagte hoogtepunt vir my is die Gotiese gegrom van Iggy Pop. In Miami het die donker prins van punk, die gehawende ou likkewaan, die wildste van die wildes, sy iPhone uitgeruk en die Coleridge-reëls in die mikrofoon ingebrul.

In my geestesoog sien ek die mank man met die ysbergblou oë wat wonder bo wonder nog met ons is ná ’n lewe van rowwe roekeloosheid, uitflappery en uitspattigheid, bloed en dwelms en konserte wat dikwels kragmetings met vyandige skares was. “Ah! Well a-day! What evil looks / Had I from old and young.”

Geen wonder die een wat pop versinnebeeld sonder dat hy ooit populêr was, verstáán die gehawendheid van Coleridge se matroos so dermdiep nie.

Wat ’n wonderlike simbool is daardie albatros nie! Dit staan vir alles waarna ons gierig gegryp het, alles wat ons opgemors en vernietig het, elke waterbottel en winkelsak van plastiek, elke sterwende koraalrif en smeltende ysberg, al die besluite wat ons laat beland het in hierdie windstilte tussen ’n verwoeste wêreld en wat ook op ons wag. Maar benewens aardverwarming en eensaamheid is die vers hierdie keer vir my oor iets heeltemal anders.

Iggy sal kokaïen oor sy ontbytpap strooi as hy moet weet, maar hy laat my die opname wéér luister sodat ek juis die ouer stemme kan waardeer: Die beleë gekraak van die Britse akteur Jeremy Irons (71) met sy sagte staaldraadsnor, die rokerige chanteuse-stem van Marianne Faithfull (73), die yl heksiegekrys van die romanskrywer Hilary Mantel (68) en die majestueuse gemymer van die slotreëls deur Alan Bennett op die rype ouderdom van 86.

Ek verluister my en raak oneindig weemoedig oor ’n hele samelewing se gemis van die silwerkoppe wat ons op die oomblik nie kan sien en vashou nie. Terwyl ouer mense wêreldwyd kontak met jonger familie en vriende moet beperk of heeltemal daarvan afsien, is almal om hulle se lewe armer.

Wat het jy toe van Coleridge gedink, vra ek die ongeletterde wat verveeld verby drentel en my gedagtegang versteur. Nie te bad nie, meen hy. Skielik wens ek hy kon die tyd eerder bestee het in die vlees-en-bloed geselskap van die twee oupas en twee oumas wat hy voor die inperkingstyd laas gesien het. Hulle is die oorlewendes van hul eie verhale, sy eie ancient mariners. Ons het almal op die oomblik te min van hul stories en te min van hulle.

Om Coleridge aan te haal: “ ’Twas sad as sad could be.”

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.