Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Elon Musk en Tesla-fiasko ’n troos in tyd van skoolrapporte

Dit is skoolrapporttyd. Of dit nou betreur of gevier gaan word, die houvas daarvan bly verbasend sterk. Selfs in ’n era waarin sosialemedia-sukses die eiewaarde van elke muis en sy maat bepaal, bly daardie stuk papier met die skoolhoof se handtekening daarop gesaghebbend.

Vir ons kinders staan die eeue oue ritueel van die rapport as onwrikbare maatstaf in skrille kontras met die res van hul lewe. Anders as hul beeld op aanlyn platforms, is die rapport iets wat hulle nie kan manipuleer nie. Hulle kan nie hul ouers blok sodat die inhoud en opmerkings verborge bly nie. Anders as ’n Facebook-, Instagram- of Tiktok-profiel wat hulle kan sluit as hulle belangeloosheid of negatiwiteit vrees, sál ’n ieder en ’n elk ’n rapport kry, en basta! En in skrille kontras met die efemere aard van hul aanlyn kaskenades is ’n rapport boonop die soort ding wat in ’n laai gebêre word en die nare gewoonte het om dekades later weer iewers uit te dop. G’n wonder dit is senutergend nie – vir kinders en ouers.

In die aanloop tot rapportdag het ek die afgelope week dosyne kere na die video gekyk van Elon Musk wat by die bekendstelling van sy Tesla-trok grootmeneer aankondig dat die trok koeëlvas is en dan beveel dat ’n staalbal na die voorruit gegooi word. Die ruit versplinter, Musk swets vreeslik en probeer dan op sy voete dink deur te vra dat die staalbal na die agterruit gegooi word. Die agterruit versplinter ook. Hy giggel, probeer dit goedpraat en staan dan sigbaar verleë op die verhoog en rondtrap terwyl die aandeelprys daar en dan met 6% en Musk se rykdom met R11,3 miljard krimp.

Soos Elon Musk se Tesla-ruit wat versplinter, verteenwoordig elke oomblik waarin ’n kind hul skoolrapport aan ’n ouer oorhandig, ons almal se stryd met die spook van mislukking. Dit is baie snaaks om te lees dat die terugvoering van een van John Lennon se rapporte gelui het: “Hopeless. Rather a clown in class. He is just wasting other pupils’ time. Certainly on the road to failure.” Dit is egter slegs snaaks omdat hy daarin kon slaag om die onderwyser verkeerd te bewys. Ons weet dat daardie voorreg nie almal beskore is nie en die gedagte hou ons snags wakker.

Sukses is die donker suster van mislukking.

Vir baie kinders is rapporte een van die maniere waarop hulle oor jare leer dat nie alle drome verwesenlik word nie. Die ouers wat die rapporte in ontvangs neem, is al veterane van teleurstelling. Ons weet boonop daar wag in die toekoms allerhande maniere om te misluk wat niks met skoolrapporte te doen het nie. Stukkende huwelike, verspilde geleenthede, versuurde vriendskappe, verlepte loopbane, betreurenswaardige bankbalanse.

Ons weet verder dat rapporte nie slegs vir onderpresteerders ’n mynveld is nie omdat sukses, die donker suster van mislukking, ook gevaarlik kan wees.

Dit maak van jou ’n voorwerp van lofprysing en jaloesie, soms ’n teiken en dikwels maak dit jou meer vatbaar vir latere ontnugtering. Eintlik is sukses ’n illusie omdat byna alle “suksesvolle” mense maniere vind om onvergenoegd te wees met wat hulle in die lewe bereik het. Sukses is alewig nes die spreekwoordelike komkommer. Pluk jy hom, verlep hy sommer.

Niemand wat hul kinders wil beskerm, kan dus die belang van ’n rapport te hoog inskat nie. Die antwoord is ook nie om dit heeltemal te relativeer nie, want die les dat harde werk gewoonlik vrugte dra, is ’n goeie een.

Die beste medisyne, vir ouers en kinders, is waarskynlik bedrieglik eenvoudig: ’n druk en ’n soen, ’n gesprek, ’n grappie, ’n warm bad of ’n koppie tee. Gelukwensings, aanmoediging en berispings alles met ’n knippie sout. En dan hope son en see en vakansiepret om almal tyd te gee om net weer lekker in hul vel te voel.

As dit nie werk nie, wys vir hulle die video van Elon Musk se Tesla-fiasko. Skynbaar is die aandeelprys weer aan’t herstel en is die man steeds ’n multimiljoenêr.

Meer oor:  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.