Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Fyn, pikkewyn: ek bedank uit die taalpolisie, dit reën katte!

Toe die RSG-aanbieder Sue Pyler vroeër die week oor die radio vertel dat dit letterlik katte en honde reën, was ek bekommerd. Haelskade is een ding, maar sal die versekering betaal vir die skade aan my motor wat op so ’n ongewone manier berokken is?

Ek het by die venster uitgeloer, maar die fenomeen was skynbaar beperk tot Auckland Park, want in die Kaapse verkeersknoop waar ek op daardie oomblik sit en oudword het, was daar net gewone, gietende reën.

’n Mens het deesdae letterlik hare op jou tande nodig as jy radio wil luister, het ek gebrom voordat ek diep asemgehaal en myself tot kalmte gemaan het. Die lewe is kort en so aan.

Teen die middel van die week is die vreedsaamheid van my brose gemoed opnuut versteur toe ek, tydens ’n vergadering in ’n lokaal wat ’n taal-en-kultuurliggaam huisves, op ’n kennisgewing let wat in Engels gebied: “An old fashion apology is in order. Tell us if you broke something.” In die sekonde lange verwarring wat gevolg het, het ek gespanne geloer na my uitrusting, ook al weer ’n seisoen of wat oud. Die besef dat my sin vir mode nie bevraagteken word nie, maar dat die skrywer eintlik ’n beroep wil doen op ouwêreldse hoflikheid wanneer besoekers glase of koffiekoppies breek, het gepaard gegaan met magtelose woede oor mense wat glase heel wil hou, maar taalreëls fyn en flenters breek (met ’n voetnoot in my getraumatiseerde denke oor die feit dat dit Anglisisties is om in korrekte Afrikaans te praat van reëls wat gebreek word).

Ek was skaars weer my gemoedelike self toe ek teen die einde van die week moet aanhoor hoe ’n senior leerling van ’n Afrikaanse hoërskool vir ’n opvoeder kom vertel dat haar gesin eersdaags na Amerika emigreer en dat sy daarom ’n paar vorms “nodig”. Dit is dalk maar beter dat sprekers wat vorms “nodig” pleks van “benodig”, emigreer, het ek stilweg sit en stoom.

Sy ‘nodig’ daarom ’n paar vorms?.?.?.

In geen van hierdie gevalle het ek egter ’n dooie woord gerep nie. Ek het nie RSG gebel en gekla, die kennisgewing met ’n rooi viltpen bygedam of die stomme kind ingevlieg nie. Die vuurspuwende draak, berserkte beer en sissende slang wat in my kop begin raas het, het ek streng stilgemaak en beveel om mooi soet te gaan lê. Om taalfoute te korrigeer, is deesdae ’n groter misstap as die taalfout self.

Die figuur van die taalgeneraal, die taalpolisie, die spel- of grammatika-nazi, is verdag. Hul gesteldheid op korrekte spelling en taalgebruik word geassosieer met meerderwaardigheid, konserwatisme en kleinlikheid. As jy ander mense se taal- of spelfoute korrigeer, loop jy ook gevaar om gebrandmerk te word as ’n Luddiet, want selfone en sosiale media is nuwe taalwêrelde waar die ou reëls nie meer geld nie. Voorskriftelikheid oor taalgebruik en spelling is onbeleef en nie politiek-korrek nie, aangesien dit een van die maniere sou wees waarop ’n opgevoede elite sosialehiërargieë bekragtig. Spelsnobisme is onsensitief teenoor mense met disleksie.

Dit is dus die lot van dunvelliges wat maklik deur spel- en taalgeweld ontstel word om so eensaam soos die laaste dodo en die man op die maan hul anachronistiese ontsteltenis te verduur. Gedagtig aan die nuwe mores van ’n nuwe era probeer ek dus nou afsien van alle verontwaardiging oor actually, obviously en anyway. Dis fyn, pikkewyn, as jy sê jy gaan die dokter sien (so, daar is gelukkig nie probleme met jou sig nie); as jy sê jy wens daar was meer tyd vir golf speel; as jy sê jy het uit koffie gehardloop (binne-in tee in). Dis ook maar reg as jy nie die dubbele negatief gebruik.

Terloops: Ek is in die jogaklas as iemand my soek. Al wat ek nog te sê het oor taalfoute, is “ohmmmmmmm”. Ná die jogaklas gaan ek ’n paar potplante van my stoep tot in my sitkamer dra, want wie weet, dalk reën dit volgende week weer letterlik katte en honde.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.