Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Geduld is net 'n vinger lank

Ons moet geduld hê. Julle moet geduld hê. So het Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, sussend gefluister nadat die EFF haar, haar medeparlementslede en die president ’n uur lank verneder het – en gekke gemaak het van die miljoene mense wat die staatsrede wou hoor.

Dit was die tweede beroep op geduld in minder as ’n week, want nadat oudpres. Jacob Zuma hom met ’n siekbriefie uit die siepsop gekry het, het die ANC ’n persverklaring uitgereik waarin Suid-Afrikaners gevra is om geduld met Zuma te betoon. “Wees tog geduldig” is blykbaar besig om die regering se nuwe mantra te raak.

Terwyl Modise uitgemergel oor die gehawende LP’s uittuur en radeloos oor geduld sit en prewel het, het ek kopskuddend Leipoldt se woorde hoor opklink: “Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!” Dit kom uit die gedig “In die konsentrasiekamp (Aliwal-Noord, 1901)”. As jou siel gemartel word en jy deur smarte gepla word, dig Leipoldt, bly daar geen ander troos nie as geduld, o geduld.

Sy poëtiese standpunt, wat hy wortel in die ontberings van die Anglo-Boereoorlog, plaas hy in groter perspektief deur sy gebruik van ’n aanhaling uit die werk van Dante Alighieri as motto: “O, pazienza, pazienza che tanto sostieni!” Die strofe wat Leipoldt in Italiaans aanhaal, kom uit Die goddelike komedie, Dante se magnum opus oor ’n pelgrimstog in die hiernamaals, van die hel deur die vagevuur tot in die paradys. Die aangehaalde woorde word gelê in die mond van ’n heilige siel wat kla oor die verdorwenhede van die pousdom.

Leipoldt gooi dus ’n nogal wye draai deur die eeue en gelowe heen, maar die raakpunt is verdrukking, want die siel se kritiek in die Middeleeuse gedig is gerig teen die magshebbers van vervloë tye. Soos die pouslike mamparras van die Middeleeue, argumenteer Leipoldt, laai die Britse koloniseerders die swaar gewig van geduld op die skouers van mense wat hulle koloniseer.

‘Leipoldt, Dante en Modise praat uit dieselfde mond.’

En so kom dit dat Leipoldt, Dante en Modise almal uit dieselfde mond praat. Wanneer jou kersie droef flakker op ’n koue aand in die konsentrasiekamp, wanneer vraatsige pouse so vet raak dat hulle rondgedra moet word, en wanneer ongeskikte knapies in rooi speelpakkies ’n grap maak van ’n land se grondwet en parlementêre prosesse, is daar net een raad. Geduld.

Maak geen fout nie: Dit is veel gevra. Die woordeboek omskryf geduld as die vermoë om te verdra; om moed te hou; om te wag sonder om te kla; om rustig met iets voort te gaan; lydsaamheid; verdraagsaamheid en volharding. Maklik om te sien waarom dit die regering sal pas as kiesers almal geduld beoefen. Met korrupsie, met elektrisiteitsonderbrekings, met die SAL. Met swak basiese onderwys, vrotfunksionerende tersiêre onderrig, gebrekkige gesondheidsorg, onbetroubare dienslewering, misdaad, bendegeweld, padsterftes. Noem maar op, geduld is ’n antwoord wat perfek is vir enigiemand wat aanspreeklikheid wil ontduik. Dit is ’n skild vir die duimedraaier en luiaard, vir die besluitelose en ruggraatlose.

Reeds eeue lank word ons vertel dat geduld die metgesel van wysheid is. Ons ken almal variasies hiervan: Die Engelse sê “patience is a virtue”, die Chinese sê met geduld kan gras in melk verander, in Persië praat hulle van geduld as ’n boom met bitter wortels wat soete vrugte dra.

Tog raak ons samelewing kollektief meer ongeduldig. Terwyl tegnologie alles vinniger laat gebeur, raak ook die aandrang op oplossings dringender. Luister maar na die retoriek van Greta Thunberg en ander jong klimaataktiviste: Daar is geen geduld meer met voetslepery nie, want geduld is net ’n vinger lank.

Hoe nou, hoor ek u vra. Die spreekwoord sê mos lekker is net ’n vinger lank? Ja, maar wanneer landsburgers vir veels te lank deur hul leiers bedrieg is, en wanneer ’n korrupte regering regverdige woede probeer blus deur praatjies oor geduld, is daar nuwe spreekwoorde nodig. Dis tyd vir kiesers om ons regering te laat verstaan: Geduld is net ’n vinger lank. En ons weet almal van watter vinger ons praat.

Meer oor:  Thandi Modise  |  Sonja Loots  |  Skuinskyk  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.