SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Menings
Sonja Loots: Geniet tyd van fop en bedot – dis beter as rampspoed
Foto:

Joernaliste noem dit komkommertyd: hierdie slap nuustydperk met dun koerante en min harde nuus. Die presiese herkoms van die frase – wat in Afrikaans, Nederlands, Duits, Jiddisj en Engels bekend is – is effens onseker, maar dit word reeds sedert die 1700’s gebruik met verwysing na die stadiger tempo tydens die somermaande, wanneer komkommers in seisoen en die meeste belangrike en invloedryke mense met vakansie is.

In Engels was dit aanvanklik ’n kleremakersterm, omdat kleremakers min te doen gehad en dus min verdien het wanneer die goedgeklede adelstand tydens vakansies die stad vir die platteland verruil het.

Intussen het dit veral van toepassing geraak op die nuuswêreld, want in die seisoen van komkommers bekommer joernaliste hulle oor die nuustekort. In Nederlands is “komkommertijd” boonop byna sinoniem met ’n ander idiomatiese uitdrukking uit die nuuswêreld: “Zeeslangen”, oftewel die soort stories waarmee koerante sedert die begin van die 20ste eeu vorendag kom wanneer daar min is om oor te berig.

Peter Burger, ’n navorser wat die fenomeen van seeslange in Nederlandse koerante sedert 1850 bestudeer het, skryf dat koerante aanvanklik die skeiding tussen feit en fiksie probeer aandui het met ’n dwarsstreep wat die koerantblad in twee verdeel het. Bokant die streep is feitelike berigte oor misdade, ongelukke of rampe afgedruk. Onder die streep het rubrieke, grappe, vervolgverhale en dialoë verskyn.

Veral in komkommertyd het die grens tussen feit en verdigsel, berig en gerug, egter vervaag. Weens die kleiner nuusaanbod het koerante begin wemel van onbetroubare of oppervlakkige nuus.

Die triviale hou plek vir katastrofes wat volg.

Die blaaie is gevul met “seeslange” oor geheimsinnige ontvoerings, selfmoordgevalle weens liefdesverdriet, uitbrekings van hondsdolheid en kannibalisme, vreemde natuurverskynsels soos enorme groente en vrugte, sprinkaanreëns en die geboorte van kalwers met twee koppe, asook die verjaardae van buitengewoon bejaarde mense (met wenke oor hoe hulle dit reggekry het om hul gevorderde leeftyd te behaal).

Deesdae het ons ander name vir die mitologiese monsterverhale wat in die komkommertyd op verskillende plekke in die wêreld begin verskyn en verdwyn.

Ons praat van fopnuus, wolhaarstories of pleinweg nonsensnuus (“broodje aap” in Nederlands).

Dit is nie noodwendig onheilspellend nie. Soms gaan dit gewoon om oppervlakkige of saai beriggewing.

Die verskynsel is vir ons ewe bekend as vir 18de-eeuse koerantlesers. Ook óns word in die feestyd nog meer as gewoonlik bestook met bog en bakatel: Bokbrekers wat met skoenlappers trou, Bokbrekers wat pa gaan word; Bokbrekers wat met seer achilleshiele rumoer en rinkink; Bokbrekers se ekse wat katools raak op Twitter; verkleurmannetjiewolwe wat skimpe gooi oor minnesangers van ouds; vuurspoegery deur die verregse dogters van minnesangers van ouds; kletsrymers onder die invloed van brandewyn vir manne; Kersbabas en groot waatlemoene; lyers aan liefdesverdriet.

Mense wat hieroor mor, verstaan nie watter seëning en genade dit is om oor die feesdae uitgelewer te wees aan sulke flouïteite oor uilspieëls en janrappe nie.

Nuusdekking oor die skadelose sotterny van die village idiots getuig van ’n gebrek aan grootskaalse rampspoed. Dit staan slegs daar omdat daar nie genoeg slegte dinge gebeur het om die koerant vol te maak nie. Wees verseker: Dit sal nie lank duur nie. Die triviale dien as plekhouer vir die katastrofes wat later, wanneer die politici en regeringslui uit hul roes ontwaak en na hul dagtake terugkeer, weer die botoon sal voer. Die gekwinkeleer oor die ware kleur en krulgehalte van Nádine se kapsel is slegs ’n tydelike respyt.

So, moenie knorrig raak as jy prul kry pleks van harde kopie oor taai probleme nie. Eet springmielies, skop jou skoene uit en knak ’n biertjie. Laat jou ’n slag fop en bedot. Ons weet almal dit is ’n valse vrede, maar net vir ’n week of wat is dit presies wat ek almal van ons toewens: Dun koerante vol seeslange.

Bo én onder die streep.

Meer oor:  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.