Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Geweld ’n klad op dié kinders se goeie name

Dit voel asof ’n mens die koerant na willekeur kan oopslaan om herinner te word aan die vreeslike Afrika-spreekwoord: Dit is die gras wat seerkry wanneer olifante baklei.

So vertel Emsie Schoeman, in ’n hartverskeurende onderhoud die afgelope week, oor die selfdood van twee van haar seuns, hoe die Grensoorlog haar oudste se lewe verwoes het. As skutter was hy in ’n Ratel by Cuvelai in Angola toe ’n skermutseling uitbreek. Hy moes uitklim, in ’n worsteling om sy lewe veg, en nadat ’n Russiese missiel die Ratel getref het, sy makkers met skopgrawe daar uithaal.

Oor sy latere dood onthou sy: “Ek kon vyf jaar lank nie sy naam noem sonder om in trane uit te bars nie, want hy was Johannes, wat beteken gawe van God.”

Soos dikwels sedert haar dood verlede jaar dink ek aan Sinoxolo Mafevuka. Ek het haar nie geken nie, maar die 19-jarige tiener wat met haar gesig in ’n toilet in Khayelitsha gevind is nadat sy in Maart 2016 verkrag en vermoor is, het my nog nooit weer laat los nie. Sinoxolo beteken “ons het vrede”, maar net soos Johannes Schoeman, kon haar naam haar nie beveilig nie, en nie met vrede omvou nie.

“Ek kon vyf jaar lank nie sy naam noem sonder om in trane uit te bars nie, want hy was Johannes, wat beteken gawe van God.”

Ek hark my gedagtes terug na nóú en stuit op ’n berig oor die stadige, onvolledige herstel van Ona Dubula, die pragtige klein 14-jarige wat verlede maand by Hangberg deur ’n polisieman in die mond geskiet is. Die vermoedelik honger mond van ’n kind wat nie in die skool was nie omdat hy geskors is nadat hy met ’n ander kind oor ’n bord kos baklei het.

Van alles omtrent sy verhaal wat mens verdwaas, is daar ook die makabere toeval van sy naam. “Ona” beteken in Wes-Afrika “vuur” en “dubula” is die Zoeloe-woord vir skiet (dink aan die lied “Dubula iBhunu” oftewel “Skiet die Boer”).

Nee wat, probeer ek myself troos, natuurlik het sy naam nie die onheil aangelok nie, en vinnig, om weg te kom van die lot van kinders in hierdie land, vou ek die koerant toe. Maar nie voordat ek vir oulaas ’n klein beriggie raaksien nie.

Behalwe onrusbarende misdaadsyfers laat weet Statistieke Suid-Afrika dat die mees algemene name vir Suid-Afrikaanse babas in 2014, 2015 en 2016 hul ouers se optimistiese hoop vir die kinders se toekoms, liefde en aanvaarding weerspieël.

Dit geld Blessing en Gift, twee van die gewildste seunsname die afgelope jaar, asook die gewildste meisiename, Precious en Iminathi (“Hy is met ons”, ’n verwysing na die Here).

Wat kan mens anders as jou hart vashou en hoop: Mag dit so wees. Voorspoed en veiligheid vir elke Melokuhle (verteenwoordiger van goeie dinge), Amahle (die mooies), Amogelang (met dankbaarheid in ontvangs geneem); en ook vir elke Johannes, Sinoxolo en Ona.

Dalk, as dit goed gaan met hierdie kinders van generasies gekneusde gras, kan ons almal baai in Lesedi se lig en Lethabo se vreugde. Dr.

* Sonja Loots doseer Afrikaans en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Name  |  Die Ander Kant  |  Betekenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.