Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Gun kinders hul nasietrots; daar’s selde rede daarvoor

Dit is veral die kinders se gesigte wat my boei op foto’s van die Springbokke se onlangse oorwinningsparades.

Ons sien hulle selde so gelukkig, en selde so trots, die kinders van ons land. Anders as byvoorbeeld Amerikaanse kinders wat grootword in buurte waar hul landsvlag algemeen voor huise wapper en wat jaarliks op 4 Julie vrolik opgaan in patriotiese feestelikheid, speel nasietrots nie juis ’n alledaagse of opsigtelike rol in Suid-Afrikaanse kinders se lewe nie.

Die redes hiervoor is velerlei. Hulle word groot in ’n land waar sosiale en politieke samehorigheid swaar gebuk gaan onder etniese vyandighede, politieke verdeeldheid en die maniere waarop die regering se mislukkings manifesteer: hoë misdaadsyfers, ineenstortende infrastruktuur, dalende prestasies op skool en universiteit, stygende werkloosheid en knellende armoede. Almal voel kwesbaar in so ’n klimaat, insluitend ons kinders.

Hul land is boonop een waar daar nie ’n eenvormige gevoel van identiteit is nie. Hulle moet hul voete vind in die warboel van veeltaligheid en te midde van ’n verskeidenheid identiteite, waaronder ook hibriede, diasporiese en kosmopolitiese vorme van identiteit en burgerskap.

Voeg hierby die groter prentjie van globalisering, en gepaardgaande verskuiwings in hoe ons dink oor wat dit beteken om iewers te hoort en dit is nie verbasend nie dat ons hulle betreklik selde in ’n patriotiese bui sien.

Miskien is dit ook maar beter so, sou ’n mens kon redeneer. Nasietrots en nasionalisme is dikwels sinoniem met vreemdelingehaat en daar is wêreldwyd kommer oor die bedreiging wat die heropbloei van nasionalisme inhou vir pogings tot multilaterale samewerking, byvoorbeeld oor die klimaat. Of soos Samuel Johnson gesê het: “Patriotism is the last refuge of the scoundrel.”

Ware helde en goeie rolmodelle is skaars.

Maar dan skielik wen die Springbokke die Wêreldbeker en wemel dit van foto’s van ons kinders wat vuis op die hart die volkslied uitbulder. Eensklaps raak dit weer duidelik dat sport die potensiële bewaarplek is vir ’n nasionale identiteit, en een van die maklikste en mees hartstogtelike maniere om ’n gevoel van nasietrots te ervaar.

Nie almal eien die verband tussen ’n nasionale span se lotgevalle en ’n nasionale identiteit nie om die eenvoudige rede dat hulle nie belangstel in sport, die nasie of die verhouding tussen die twee nie.

Die tweelingkragte van globalisering en geld sorg boonop dat atlete toenemend van een span of klub na ’n ander trek en dikwels ’n nuwe “sportnasionaliteit” aanneem. Desondanks bly die saak vir die meerderheid sportliefhebbers – en sportliefhebbers is vermoedelik al klaar ’n meerderheid – betreklik eenvoudig. Die plesier wat jy beleef as “jou” span wen, is nie iets om oor te dink nie. Dit is iets wat jy vóél.

Moet die Springbok-embleem “val”, soos dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, die afgelope week in die Nasionale Vergadering gesê het? Is dit sino­niem met wit heerskappy en hoort dit daarom in die asblik van die geskiedenis?

Selfs as ’n mens sensitief probeer wees vir die konseptuele kwessies wat hier aangeraak word, bly die gesigte van die kinders, ál die kinders, ’n mens by. In ’n land met ’n deurtrapte skelm as voormalige president, en verskeie rampokkers aan die bewind, is ware helde en goeie rolmodelle skaars. Skielik is daar ’n hele sportveld vol, ’n hele bus vol, met Siya Kolisi as die treffendste voorbeeld. Die skokkende impak wat sistemiese ongelykhede op sy lewe gehad het, behoort vir die ganse land ’n gewetensaak te wees. Sy vergewensgesindheid ook.

Wat die kinders betref: Kom ons gun hulle tog hierdie helde. So ook die kort oomblikke van samehorigheid en gemeenskaplike vreugde.

Diegene wat nie bereid is om dit te doen nie, is sweerlik familie van Dr. Seuss se Grons wat Kersfees gesteel het.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk  |  Rolmodelle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.