Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die ander kant:
Sonja Loots: Helperus wou lugballonne laat vlieg, vroue nie

Die eerste keer dat Helperus van Lier my laat lag, is toe ek verby sy graf in Nuweland, Kaapstad, stap.

“Hy is begrawe in die platteland waarvoor hy lief was,” staan daar op sy grafsteen, maar in die halfminuut wat dit my neem om hierdie sin te lees, rammel ’n swaar vragmotor vol bakstene en sement, ’n Pizza Hut-bromponie, ’n skoolbus vol jillende insittendes, en ’n maatskappy wat sekuriteitskameras installeer se diensvoertuig verby die akkertjie waar hy ingespit lê. Bepaald nie so rustig as wat Helperus wou hê nie.

Ek lag ’n tweede keer oor die inleiding van ’n bloemlesing van sy preke (hy was in die laat 1700’s die derde predikant van die NG Kerk aan die Kaap). Verzameling van eenvoudige leerredenen aan de gemeente van de hoofdplaats van Cabo de Goede Hoop is sieldodend saai, maar komieklik vind ek die geleerde Nederlandse heer, ’n briljante student wat op 18 sy doktoraat in filosofie aan die Universiteit van Groningen verwerf het, se ontnugtering oor die muur van onbegrip waarin hy hom hier kom vasloop het. Steen en been kla hy: “Verre het grootste deel myner Toehoorders bestaat uit ongeleerde en eenvoudige lieden, die my naauwlyks verstaan, wanneer ik meene my zeer klaar en duidelyk te hebben uitgedrukt.”

Minder amusant is navorsing oor die rol wat hy sou gespeel het in die verharding van die NG Kerk se houding teenoor ongehude moeders en hul buite-egtelike kinders, tot op die punt waar hulle onder sy leiding die eerste keer toegang tot die doop en Nagmaal geweier is. Die kerkhistorikus Christina Landman skryf ontstellend oor die uitwerking wat dié soort morele polisiëring van vroue deur mans op mense na aan die vrome predikant (soos sy suster) en op die Afrikanervroue van talle latere generasies gehad het.

Meer nog: Hy het sulke proefnemings verdedig teen dogmatici wat lugballonne bestorm en met hul vuiste uitmekaargebreek het omdat hulle geglo het dis sonde om die aarde te probeer verlaat.

Gelukkig val ek gou by ’n ander hasetonnel af en land in die wonderwêreld van sy navorsing oor lugvaart. In 1783, voordat hy Kaap toe gekom het en terwyl hy met sy teologiestudies besig moes wees, het hy ’n wetenskaplike verhandeling oor die samestelling van lug geskryf. In die jaar daarna, steeds ten koste van sy teologiese werk, publiseer hy sy Verhandeling over het algemeen en bijzonder gebruik der aërostatische machines. Dit was die eerste Nederlandse boek oor lugvaart, destyds ’n onderwerp van bespiegeling en eksperimen-tering. Benewens hoofstukke oor die werking van lugballonne (vir hom ’n embleem van die Verligting), het hy verslag gedoen oor ’n geslaagde proefneming met ’n lugballon deur Jan Modderman en Gerrit van Olst in Groningen. Meer nog: Hy het sulke proefnemings verdedig teen dogmatici wat lugballonne bestorm en met hul vuiste uitmekaargebreek het omdat hulle geglo het dis sonde om die aarde te probeer verlaat.

Van Lier sou later wêreldberoemd raak ná die publikasie van ses briewe oor Verligtingsidees in die teologie wat hy in Latyn aan John Newton, ’n eweknie in Engeland, geskryf het, maar dit is die lugballonne wat my na sy graf laat terugkeer. Nie meer laggend nie, want die 27-jarige se tuberkulosedood in Afrika terwyl hy ’n briljante wetenskaplike in sy vaderland kon wees, is wrang. Sy wens vir ’n graf in die platteland is verydel, sy sienings oor vroue se gebrekkige moraliteit het gelukkig ook nie stand gehou nie, maar die lugballonne wat hy so vuriglik teen heethoofde verdedig het, sou nooit weer ophou sweef nie. En meer as honderd jaar ná sy dood het lugvaart, waaroor hy as 19-jarige kind van die Verligting gedroom het, eindelik ’n werklikheid geword.

Daarom meen ek hy verdien my seënwens en saluut: Soete rus, Helperus.

Meer oor:  Kaapstad  |  Nuweland  |  Maatskappy  |  Skoolbus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.