Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Het jy geweet die kind wat mielies wou koop, is dood?

Dit was die week van swart skerms op die Instagram- en Facebook-bladsye van talle Suid-Afrikaners. ’n Breë spektrum mense en instansies – van glanspersoonlikhede tot gewone mense, van senior akademici tot tieners, van meubelwinkels tot kunsgalerye – het vanuit die suidpunt van Afrika só hul steun betoon vir die stortvloed protes oor die dood van George Floyd in Minneapolis.

Wat ’n nuttelose en oppervlakkige geposeerdery, wat ’n sieklik lafhartige en deursigtige poginkie om skielik te probeer lyk soos iemand met ’n beduidenis van ’n politieke gewete! Byna sonder uitsondering het die swartskermskape nog nooit as te nimmer op selfs die geringste manier protes aangeteken oor die vertrapping van swart lewens deur ons eie regering nie. Hul reaksie op die buitensporige hardhandigheid van die polisie, weermag en regering in Suid-Afrika is om soos ieterma­gogge op te krul en dood te speel.

Die dood van George Floyd is ontsaglik ontstellend. Om na beeldmateriaal te kyk van Derek Chauvin wat met sy knie op Floyd se nek druk, terwyl Floyd stadig versmoor, is onhoudbaar.

Rasend woedend en diep bedroef raak mens boonop van die swart skermpies van vriende en vreemdelinge, van ondernemings en gemeenskapsblaaie, wat in alle tale swyg oor die 11 swart mans wat deur lede van die Suid-Afrikaanse polisie doodgemaak is sedert 27 Maart. En oor Collins Khosa, wat deur die Suid-Afrikaanse weermag doodgemaak is. En oor vrae oor die dood van Elma Robyn Montsumi, ’n sekswerker, in polisieaanhouding tydens inperking. En oor die dood van ’n agtjarige swart seun wat tydens inperking deur ’n polisieman in ’n township naby Lichtenburg doodgery is toe die honde-eenheid ’n klompie mense wat mielies verkoop het, gejaag het.

Voertsek dan met jou swart skermpie.

Toe dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, verskeie LUR’e en lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, die seun se familie gaan besoek het, was hul motief waarskynlik om vure dood te slaan. Dit was nie nodig nie. Dit kon Suid-Afrikaners nie minder skeel nie. Daar is geen beeldmateriaal nie, dit is nie nuus op CNN nie en daar is geen hashtag wat trend nie.

Laat jou swart skermpie jou beter voel oor George Floyd se dood? En oor die dood van die kind van Noordwes? En Collins Khosa? En Sibusiso Amos, Petrus Miggels, Adane Emmanuel en Ntando Sigasa? Lui daardie name ook ’n klokkie? Wat dink jy oor nuusberigte dat daar in Suid-Afrika meer mense tydens inperking in hegtenis geneem is as in enige van die 177 ander lande waar inperkingsmaatreëls gegeld het? Hoe voel jy oor die feit dat die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat 83 sake ondersoek wat regstreeks verband hou met sake van polisiegeweld tussen 26 Maart en 4 Mei? Het jy gelees dat daardie klagte wissel van sterftes in polisieaanhouding tot aanranding en verkragting? Jy het darem seker, jy met jou swart skermpie, want jy is mos ’n politieke dier. Hoe voel jy oor pres. Ramaphosa se stelling dat polisiegeweld die skuld is van sekere polisielede wat deur “entoesiasme” oorweldig is? Wat maak jy van min. Cele se reaksie op medianavrae oor polisiegeweld? “As iemand sê dat ek ’n hoender gesteel het, is dit net ’n bewering.” Nogal bisar, of hoe?

Wat gaan jy oor al hierdie dinge sê? En wat gaan jy daaroor doen? Laat ek raai: Presies dieselfde as toe die regering tydens inperking verhinder het dat liefdadigheidsorganisasies vir honger mense kos gee. Jy gaan kwetter oor hoe moeg arme Cyril lyk en goed kwytraak soos dankie-tog-hy-is-nie-Zuma-nie. As hy verby jou draf, gaan jy ’n selfie neem. Jy gaan sê jy is trots op jou regering. Jy gaan #I’mStaying-soetsappighede kwytraak, want ai, daar is darem regtig nie nog ’n plek soos Suid-Afrika nie.

George Floyd is dood. Die kind wat mielies wou koop, is dood. Collins Khosa is dood. 11 swart mans is dood. Die Suid-Afrikaanse regering, polisie en weermag hurk elke dag met hul knieë op swart kele. As jy nie siedend daaroor is nie, en dit nie sê nie, voertsek dan met jou swart skermpie. Jy modegebaartjie is nutteloos. En jy gee nie regtig om nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.