Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Hierdie skrywe is vir júlle twee wat Admire laat huil het

Hierdie rubriek is vir die twee mense wat Admire by die verkeerslig opgelaai het. Selfs al lees julle dit nooit nie, het ek nodig om dit te skryf.

Hy het saam met ’n bondel verwers, bouers, loodgieters en teëllêers daar by die kruising voor die hardewarewinkel gestaan en wag vir stukwerk.

Dit was ’n ruk ná die los werkie wat hy vroeër vir my kom doen het, in ’n stadium toe ek nie nog werk vir hom gehad het nie.

Dit was in die inperkingstyd en almal was honger en arm. Dis hoekom hy so bly was toe julle stilhou. ’n Man en ’n vrou, besig met huisverbeterings en op soek na ’n ekstra paar hande.

Uit almal wat nader gedraf het, het julle vir Admire gekies omdat hy die enigste was met ’n teëlsnymasjien en ’n sak met toerusting. Dit wys hy weet wat hy doen. Ek verstaan hoe julle koppe gewerk het, want dit is ook hoekom ek hom uit al die ander gekies het toe ek mý teëlwerk moes doen.

Julle het gevra of hy kos vir die dag het en toe by ’n kafee gestop, vir hom R100 gegee en gesê hy moet gou ’n Coke en iets te ete gaan koop sodat hy nie op ’n leë maag hoef te werk nie. Dit was bedagsaam van julle. Maar toe hy uit die winkel kom, was julle nie in die parkeerterrein nie. Hy het gewag. Vier uur lank. Hy het bly hoop dit is nie waar dat julle sy duur teëlsnymasjien en al sy toerusting gesteel en hom net daar gelos het nie. En hy het gewag omdat hy geen geld by hom gehad het nie en dus geen manier om by die huis te kom nie.

Dis hoekom hy so bly was toe julle stilhou . . .

Die bestuurder van die supermarkie het Admire later jammer gekry en vir hom taxigeld gegee. Admire het die Coke en brood wat julle hom laat koop het vir ’n hawelose gegee, al was hy self ook nog steeds honger, want hy was te woedend bedroef om te eet.

Toe ek Admire daarna kontak om met ’n tweede projek by mý huis te kom help, het hy gevra dat ek hom asseblief – in ruil vir sy dienste – na die winkel neem en vir hom ’n nuwe teëlsnymasjien koop. Die soort wat teëls van meer as 100 cm lank kan sny. Hy moet sy verlore eiendom vervang, want daarsonder kan hy nie werk nie.

Ons het so gemaak. Toe ons by die winkel uitstap, hy met die blinknuwe teëlsnyer van R5 000 onder die arm, trek hy sy rug reguit en verklaar: “Nou is my naam weer Admire.”

En voordat hy aan die werk spring, kerf hy sy naam in die metaal uit, sodat dit hopelik duidelik sal wees in die toekoms: Dit behoort aan hóm. Dit is hoe hy sy brood verdien, dit is hý. Daarsonder is sy naam nie Admire nie.

Natuurlik is wat julle gedoen het, eintlik maar ’n kleinigheid in hierdie land waar mense elke dag erger dinge oorkom. Julle het nie ’n mes teen sy keel of ’n geweerloop teen sy ribbes gedruk nie. Maar weet julle wat sy suster my vertel het? Sy sê sy het Admire nog net twee keer in haar lewe sien huil. Die dag toe hul ma dood is, en die aand nadat julle hom besteel het.

Ek dink julle het sy moed gebreek. Op ’n manier het julle ook myne gebreek. Want dit is die feit dat daar elke dag op ’n duisend-en-een maniere só met mekaar gewerk word, dit is presies daardie koelbloedige wreedheid wat op die ou end alles om ons fyn en flenters breek.

Ek wonder oor jul badkamer, die een wat julle gesê het moet oorgeteël word. Natuurlik ’n leuen. Maar julle hét tog seker ’n badkamer en daar hang tog seker ’n spieël. Ek wonder wat julle sien as julle soggens daarin kyk.

Ek wonder of julle dit regkry om die weerkaatsing te bewonder?

* Dr. Sonja Loots doseer Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.