Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Hoe Camus in 1947 kon skryf oor vandag se plaag in China

In hierdie dae van koronavirus-kwellings kyk mens met nuwe oë na tekste oor plae en peste. In die klassieke kanon is groot pandemies konsekwent uitgebeeld as goddelike wraak. In Aischulos se Oresteia-trilogie wil die Furies Orestes se moedermoord straf, in Homeros se Die Ilias het dit te make met Apollo se woede jeens Agamemnon; en in Sophokles se Oedipus: Die koning volg die plaag in Thebe as straf vir Oedipus se moord op sy vader.

In al hierdie tekste sien mens spookherinnerings aan die plaag wat tydens die Peloponnesiese oorlog in Athene uitgebreek en verwoesting in die oud-Griekse wêreld gesaai het, soos opgeteken deur die historikus Tukidides.

In die Middeleeue het die mensdom opnuut gesteier toe “die Pes” of “Swart Dood, veroorsaak deur ’n bakterie wat rotte vanuit China via handelsroetes na Indië en Italië versprei het, sowat ’n derde van die Europese bevolking uitgewis het. Giovanni Boccaccio skryf byvoorbeeld in Die Decamerone oor die grootskaalse lewensverliese onder Florentyne. Sulke diep letsels het die Swart Dood op die Europese psige gelaat dat Albert Camus in 1947 daarna teruggegryp het met Die Plaag, sy kultusroman oor ’n epidemie in die Algerynse stad Oran.

By Camus vind ons geen God of god wat die mens wil straf nie, maar absurde gebeure as enigste oorsaak. ’n Gek ou man spoeg gereeld vanaf sy balkon op katte onder in die straat. Die katte raak al minder en die rotte al meer; so talryk dat hulle mettertyd die draers raak van ’n pes wat die hele stad verlam. Camus, die groot filosoof van die absurde, beskryf hoe sy karakters in die aangesig van die dood betekenis soek deur in opstand te kom teen onregverdigheid, passievol te leef en vryheid na te streef.

Dit is fassinerend om Camus se roman te herlees.

Benewens filosofiese besinning skryf hy ook ’n politieke allegorie oor die “bruin plaag”, oftewel fascisme, die verspreiding daarvan deur Europa in die 1930’s en die besetting van Frankryk deur Nazi-Duitsland in 1940. Oran is Frankryk: Dit is in die greep van die virus (fascisme) en terwyl die stad afgesny is van die buitewêreld, moet inwoners besluit of hulle vir lief gaan neem met die dood (Duitse oorheersing), of gaan terugveg deur aan te sluit by sanitasiespanne (die Weerstandsbeweging).

Dit is fassinerend om Camus se roman te herlees as een waarin Oran en Wuhan oorvleuel en die virus Chinese onderdrukking eerder as Duitse fascisme verbeeld. Begin gerus met Camus se beskrywings van hoe sy karakter dr. Rieux alarm probeer maak en moet spartel om die stadsvaders sover te kry om op te tree totdat hulle, wanneer dit reeds te laat is, die stadspoorte sluit. Dit herinner onmiskenbaar aan die Chinese regering se aanvanklike ontkenning, geheimhouding, sensuur en intimidasie van fluitjieblasers, asook die ommeswaai na drakoniese maatreëls om beheer te probeer herwin.

Dr. Rieux, die karakter wat sy lewe beskryf as ’n oneindige reeks nederlae, raak ’n weergawe van Li Wenliang, die dokter in Wuhan wie se waarskuwing oor die nuwe virus teen einde Desember tot gevolg gehad het dat die Chinese regering hom gedwing het om ’n spytbetuiging oor sy “lasterlike gerug” te onderteken. Hy is intussen dood aan die virus.

“Dit gebeur oor en oor dat daar in die geskiedenis ’n bepaalde oomblik aanbreek wanneer die mens wat dit waag om te sê dat twee plus twee vier is, met die dood gestraf word,” skryf Camus.

Die karakter Rambert, ’n joernalis wat aanvanklik wil vlug, maar later kies om in Oran te bly om te help met pesbestryding, herinner aan die Chinese menseregteprokureur en joernalis Chen Qiushi. Qiushi het die laaste trein na Wuhan gehaal voordat die stad in kwarantyn geplaas is. Vandaar het hy krities berig gedoen oor die behandeling van die siekes en oor die regering. Hy het intussen spoorloos verdwyn en daar word allerweë vermoed dat hy óf dood óf in aanhouding is.

Op hierdie en talle ander maniere herinner Camus se roman ons dat nie net die koronavirus gestuit moet word nie. Die ystergreep van ’n wêreldmoondheid wie se onderdane nie mag sê dat twee plus twee vier is nie, hou ook ’n gevaar in vir die hele wêreld se gesondheid.

Meer oor:  Albert Camus  |  Sonja Loots  |  Skuinskyk  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.