Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Jigbal se pad uit die ivoortoring kan na tronk lei

In ’n onheilspellende toneel in die laaste episode van Game of Thrones staan koningin Cercei Lannister in die Red Keep, die kasteel wat hoog bo King’s Landing uittroon, met die stad en Blackwater Bay voor haar uitgestrek.

Sy kyk na waar die Great Sept of Baelor gestaan het voordat sy dit vernietig het, met al haar vyande daarin. Sy grimas. Haar vesting word aangeval, maar sy verwag om oudergewoonte oor haar vyande te triomfeer.

Met stomme ongeloof beleef sy hierna hoe haar oorlogskepe vernietig, haar leër hul wapens neerlê en die stad verswelg word deur die vlamme wat Daenarys Targaryen se draak daaroor uitblaas. King’s Landing se kloktoring en die kasteeltorings begin neertuimel en Cersei besef dat sy moet vlug. Te laat. Sy sterf wanneer die Red Keep op haar ineenstort.

Haar ondergang, waarna Game of Thrones-aanhangers jare lank uitgesien het, herinner aan die oeroue verband tussen die Griekse woord elephas, wat ivoor beteken, en die Griekse word elephairo, wat beteken om te kul of te bedrieg. Cersei sterf omdat haar ivoortoringbestaan haar verblind het. Sy het haarself bedrieg deur te glo dat rykdom en mag haar sal beveilig.

Wat ons bring by ivoortoringbewoners in die regte lewe. Omdat Game of Thrones nou eenmaal ’n meesterlike politieke allegorie is, laat nuusberigte oor die jongste maneuvers van die media-miljardêr Iqbal Survé mens wonder: Het die uitvoerende voorsitter van Independent Media, tans diep in die pekel nadat die Openbare Beleggingskorporasie hom vir R4,3 miljard gedagvaar het, saam met die res van die wêreld gekyk hoe Cersei Lannister se kierangs braai? En het hy iets daaruit wys geword?

Dalk vind hy aanklank by Gustave Flaubert: “Ek wou nog altyd in ’n ivoortoring gewoon het, maar ’n stront-gety spoel teen die toringmure aan en dreig om dit te laat inkalwer.”

Jigbal, soos hy onder sommige van sy talle vyande bekend staan, is mos self ’n man met ’n ding vir torings. Een van sy tegnologiemaatskappye, die een met die betottelde naam Sagarmatha Intergalactic Highway African Unicorn, doen sake uit die Kiks-toring op die hoek van die Heerengracht en Walter Sisulu-rylaan in Kaapstad. Boonop het hy glo R140 miljoen bestee aan sewe woonstelle in een van die silotorings in die V&A Waterfront. Hy woon vermoedelik in ’n R40 miljoen-dakwoonstel in die nr. 3-toring en bestuur sy swartbemagtigingsmaatskappy Sekunjalo vanuit ’n kantoor in die nr. 5-silotoring.

Ja, die man wat skaamteloos gejok het oor die feit dat hy kastig oudpresident Nelson Mandela se persoonlike huisarts was, die een wat so ywerig in sy eie koerante berig het oor die toekenning van niebestaande pryse aan homself en sy publikasies, het waarskynlik ’n pragtige uitsig. Byna so mooi soos Cercei s’n uit die torings van die Red Keep.

Maar wanneer hy voor sy toringvensters staan en kyk in die rigting van Newspaper House, setel van die eens trotse mediamaatskappy wat hy manalleen afgetakel het tot ’n valsnuusfabriek waar net slaafse Survé-flikflooiers dit nog uithou, weet hy waarskynlik dat sy koninkryk begin verbrokkel. Sedert minister Tito Mboweni verlede jaar in die parlement onthul het dat Survé agterstallig is met sy terugbetalings aan die OBK, en terwyl talle vrae voor die Mpati-kommissie geopper word oor die regmatigheid van die miljarde wat van die OBK na Survé gevloei het, staan hy met sy rug teen ’n muur wat dreig om op hom in te val.

Om Game of Thrones te kyk gaan hom waarskynlik nie troos nie.

“Nobody can protect me. Nobody can protect anyone,” verklaar Cercei se voormalige skoondogter Sansa Stark op ’n kol. Nie die Guptas, na wie hy eers so hard gevry het; of oudpres. Zuma, vir wie hy so graag toutjies getrek het; of die ANC vir wie hy kort voor die verkiesing R1 miljoen geskenk het; of sy Chinese beleggers gaan waarskynlik tot sy redding kom nie.

Miskien moet hy maar eerder lees. Dalk vind hy aanklank by Gustave Flaubert, wat op ’n keer in ’n brief aan Iwan Toergenef geskryf het: “Ek wou nog altyd in ’n ivoortoring gewoon het, maar ’n stront-gety spoel teen die toringmure aan en dreig om dit te laat inkalwer.”

Arme Jigbal. Die pad uit die ivoortoring, word daar gesê, lei gewoonlik reguit na die gopse. In sy geval kan die pad dalk selfs meer dramaties wees: Van toring na tronk.

Meer oor:  Iqbal Survé  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.