Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Job se party het gegee en veral geneem – tog durf hy nie kla

Waar Job in sak en as sit, van kop tot toon oortrek met sere, probeer hy terugdink aan beter dae. Hy onthou toe sy provinsie ’n plek van welvaart en voorspoed was, ’n vrugbare landboustreek, ’n gewilde toeristebestemming. Hy weet egter dat daardie vroeëre toestand van gesondheid en geluk waarskynlik vir goed verby is.

Om hom sien hy spookdorpe, stukkende paaie, leeggestroopte geldkoffers en gehawende staatstrukture. Soos in die skilderye wat William Blake van hom gemaak het, sit Job met geboë hoof en krom skouers en tob oor verlies en verdriet.

Hy is nie meer ’n jong man nie, maar die teenspoed reën op hom neer. Gereeld bring ’n boodskapper nóg nuus van omvangryke rampspoed en ondenkbare chaos. “Aanskou die monster,” prewel een en wys hom nuusberigte oor on­reëlmatige besteding van R15,3 miljard in ’n enkele jaar.

“Bekyk die leviatan,” sê ’n ander en skuif memorandums oor nie-funksionerende departemente en bankrot munisipaliteite onder Job se neus in.

Job weet waarom hy hier op die ashoop sit, omgeef deur metaforiese duisternis. Hy moet sorg dat skoolkinders hul handboeke kry, veilig by die skool kom, nie in puttoilette afval nie, nie met honger mae in die klaskamer sit nie. Hy moet sorg dat munisipaliteite weer solvent raak, dat departemente funksioneer, dat hospitale en klinieke weer hul deure oopmaak, dat vullis verwyder word, dat daar water uit krane kom, dat gate in paaie reggemaak moet word. Hy trek sy vodde-agtige premierskleed reg en staal hom vir die moeilikste van alles: Hy moet dit alles doen sonder om te murmureer of in opstand te kom teen sy party.

Job probeer, maar hy kan nie die lig sien nie. Waar gaan sy hulp vandaan kom?

Van ons, mompel twee mans wat ’n ent weg ook op die ashoop sit. “Ek is die LUR vir onderwys,” sê die een. “My naam is Sello.” Job skeur ingedagte aan sy klere. Hy weet dat die man se naam ’n “geweeklaag” of “huilkreet” beteken. Dit stel hom nie gerus oor die toekoms nie.

“En ek is die uitvoerende bestuurder, belas met Noordwes in die kantoor van die OG,” sê die ander. “My naam is Success.”

Dié verhaal eindig op die ashoop.

Dit is die eerste keer in ’n lang tyd dat Job lag, maar dit is ’n bitter, wanhopige lag. Sukses in die hartjie van hierdie spul mislukkelinge, bid jou dit aan. Eers wanneer die trane ure lank teen sy wange afgerol het, ruk hy homself reg. Tot niet met die arglistige gedagtes, raas hy met homself.

Job is ’n vrome en regverdige man. Hy het ontsag vir sy party. Hy dien sy party lojaal. Dit is wel waar dat hy korrupte netwerke, skaamtelose selfverryking, die stelselmatige leegstroop van bronne en die diefstal van veekuddes sien as hy sy oë toemaak. Dit is waar dat sy party nog niks uitgerig het om die voorbok van verwoesting, sy voorganger Supra Mahumapelo, aan die pen te laat ry nie. En ja, dit is waar dat Job goeie rede sou hê om die dag waarop sy party in sy provinsie aan die bewind gekom het, te vervloek.

“Mag daardie dag in duisternis en doodskaduwee gehul wees, laat wolke oor daardie dag woon, laat swart dampe daardie dag verskrik,” sou hy kon weeklaag.

Job doen dit nie. Hy is ’n lojale partylid. Hy vryf oor sy partylidmaatskapkaartjie, krap homself met ’n potskerf en mompel: “My party het gegee, en my party het geneem. As ons die goeie aanvaar, sal ons die slegte nie ook aanvaar nie?”

Hy sal geen skewe woord uiter oor die rampokkers waarmee hy saamwerk nie. Hy sal die vernederings verduur, die ongerymdhede onderspeel en seweduisend maal sewe keer sy gewete probeer versoen met die morele bankrotskap van die party wat hy trou bly dien.

Sal Job ryklik beloon word, liewe leser? Waarskynlik nie. Anders as die Bybelse verhaal oor ’n geloofsvaste Christen wat in die land Us aan God getrou gebly het toe Satan hom genadeloos gefolter het, sal die verhaal van prof. Job Mokgoro se Noordwes-premierskap eindig waar dit begin het: op die ashoop. ’n Gelukkiger einde sal slegs moontlik raak wanneer ANC-lede krities dink oor hul blindelingse, irrasionele geloof in die ontaarde monster wat hulle soos ’n god bly dien.

Meer oor:  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.