Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Kafka verstáán van regering wat hom doof hou vir burgers

Dit is weer tyd om Franz Kafka te lees. Nie sommer enige Kafka nie, maar sy laaste, mees onthutsende: Die kasteel.

Eintlik moet ’n mens so ’n roman lees in die hart van die winter, op ’n plek waar die sneeu buite heuphoogte gestapel lê. Dit is ’n boek vir wanneer die dae kort en die lig min is, die stiltes diep en die kontak met jou medemens selde en skraal. Die herfs wat ons tans beleef sal egter deug, want ons is verskrik en swaar van gemoed genoeg om die woorde diep te laat insink.

’n Man wat net K. heet, beland in ’n dorp wat in die skadu van ’n kasteel geleë is. Die kasteel, gehul in mis en sneeu, is skynbaar die setel van die graaf wat oor die dorp heers, en van dié se regering.

Met K. se aankoms blyk dit dat daar administratiewe verwarring oor sy aanstelling as landmeter heers en dat die knoop nie deurgehak kan word nie.

Dit is die begin van ’n uitgerekte stryd waarin hy hom tromp-op loop teen ’n ondeurgrondelike staatsamptenaar-hiërargie. K. wil na die kasteel gaan om duidelikheid te kry oor sy posisie, maar dit mag nie. Die kasteel duld nie vrae nie, gee nie antwoorde nie. Kortom: Die kasteel hou hom nie op met die mense waaroor hy uittroon nie.

Die kasteel duld nie vrae nie.

Vir die res van die roman word al K. se pogings om die kasteel te bereik, verydel. Hy word op allerlei wyses vir die gek gehou, op dwaalspore gelei en uitoorlê. Dit is duidelik dat die dorpenaars allermins vry en gelukkig is. Hulle is uitgelewer aan ’n regering wat geen enkele teken van ongehoorsaamheid duld nie. Nogtans begroet ook húlle K. se pogings om toegang tot die kasteel te kry met vrees, vyandskap, agterdog en ergernis. Die paar dorpenaars wat bereid is om hom te help, is óf self uitgeworpenes óf mense met so min invloed dat hulle in elk geval niks kan doen nie.

K. raak geobsedeerd. Hy weet nie meer of hy goddelike genade of duiwelse ongenade in die kasteel sal aantref nie, maar hy is vasbeslote dat hy die reg het om die regering tot verantwoording te roep. Ná elke nederlaag, probeer hy weer. Hy word aangedryf deur sy begeerte na erkenning, respek en begrip, en sy brandende behoefte om werk te vind.

In een van die kwellendste tonele beland hy per toeval in die hotelkamer van die amptenaar Bürgel, wat skynbaar in ’n senior hoedanigheid in die kasteel werksaam is. Dit is nag en die heer Bürgel lê in die bed, maar hy bied aan om K. te help. Dit is die oomblik waarvoor K. so lank gewag en waarvoor hy so hard baklei het! Dit is sy eerste en waarskynlik sy laaste kans!

Maar wat doen K.? Hy luister skaars, kan sy oë nie oophou nie en raak van skone vermoeidheid aan die slaap. Wanneer hy wakker word, is hy terug waar hy begin het.

Wat ’n uitmergelende roman! Kafka is dood voordat hy dit kon voltooi. Sy testament het bepaal dat dit “verbrand en uitgedoof” moes word omdat dit volgens hom niks meer was nie as ’n gestoei met sy eie angsspoke. Oor homself het hy ewe hard geoordeel: “Ek is geen lig nie, ek is verdwaal tussen my eie dorings, ek is ’n doodloopstraat.”

Hoe verkeerd was hy nie. Die roman wat volgens hom betekenisloos was, is ’n trefseker-uitbeelding van ’n regering wat verantwoordbaarheid ontduik deur die oprig van burokratiese skanse. Terwyl dit al hoe duideliker raak dat ons eie regering hom horende doof hou vir die pleidooie van sy mense, en ons president al hoe verder in die mis van onbereikbaarheid verdwyn, is K. se aandrang om raakgesien, gerespekteer en geantwoord te word vir ons almal ’n wekroep.

Die roman eindig in die middel van ’n sin, sonder dat K. sy doel bereik het. Maar hierby sou mens kon voeg: Ook sonder dat hy moed opgegee het.

  • Dr. Sonja Loots doseer Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan Ikeys.
Meer oor:  Franz Kafka  |  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.