Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Kom ons skep nuwe toekoms te midde van eensaamheid

Ons leef in die eensaamste eeu ooit. Só skryf die Britse ekonoom Noreena Hertz oor die eensaamheidsepidemie in haar boek The Lonely Century, wat in die eensaamste jaar ooit verskyn het.

In Japan het sy byvoorbeeld te hore gekom van Saito-san, ’n bejaarde vrou wat winkeldiefstal gepleeg en gesorg het dat sy betrap word sodat sy tronk toe kan gaan. Die bewaarder van die Totsjigi-gevangenis het boonop aan Hertz vertel dat tronkstraf vir vroue bo 65 vervierdubbel het omdat al hoe meer eensame bejaardes doelbewus hul vryheid opoffer in ruil vir geselskap in die tronk.

Nog erger is die verhaal van die bejaardes in ’n hoëtegnologie-versorgingsoord wat so geheg raak aan hul robotversorgers dat hulle in die winter vir die robotte musse begin brei het.

Hertz noem Japan die wieg van 21ste-eeuse eensaamheid. Omdat dit ’n tendens is wat so skerp aan’t styg is, het die Japannese selfs ’n woord, hikikomori, vir middeljarige of jong mense wat ’n kluisenaars­bestaan voer.

Boonop is eensaamheid ’n wêreldwye probleem wat dramaties aan’t toeneem is in alle lande, in alle lae van die samelewing en in alle ouderdomsgroepe. In Japan word 35% van alle huishoudings deur ’n enkeling bewoon. In Australië is dit waar vir ’n kwart van alle huishoudings en in Swede, Denemarke en Duitsland is dit die algemeenste opset.

In Amerika voel drie uit vyf mense eensaam, in Swede is dit een uit vier, en 9% van alle Nederlanders voel gereeld ernstig eensaam. Dit is teen hierdie agtergrond dat Theresa May in 2018 die wêreld se eerste minister van eensaamheid aangestel en gemaan het dat eensaamheid ’n stille epidemie en een van die grootste gesondheidsuitdagings van ons tyd is.

Mense wil tyd saam met ander deurbring.

Dit gaan nie net oor ’n gebrek aan vriendskap of te min kontak met familielede nie. Die beroemde UCLA-eensaamheidskaal, wat in 1978 ontwikkel is, is volgens Hertz verouderd. Hedendaagse eensaamheid wentel ook om mense se verhouding met hul werkgewers, medeburgers en regerings. Dit is eensaam om afgesny te wees van jou werkplek, nie deel te voel van ’n gemeenskap nie, ekonomies weerloos te voel, te wonder of tegnologiese vooruitgang en kunsmatige intelligensie jou oorbodig gaan maak, of om te glo dat jou regering nie oor jou omgee nie.

Die slegte nuus is dat eensaamheid so sleg vir ons gesondheid is dat dit vergelyk kan word met meer as ses drankies of 15 sigarette per dag. Dit is ’n sneller vir kumulatiewe stresreaksies wat ons immuunstelsels inhibeer en die risiko vir hartsiektes, beroerte en demensie verhoog. Eensames se kans om voortydig te sterf is 30% hoër. Hulle is boonop meer vatbaar vir samesweringsteorieë, ekstremisme, populisme en gepolariseerde denkwyses.

Die Massachusetts Institute of Technology (MIT) het navorsing oor die band tussen honger en eensaamheid. Eensaamheid beïnvloed breinwerking op dieselfde maniere as fisieke honger. Die implikasie is dat ons behoefte aan mekaar so basies is soos ons behoefte aan kos.

Hertz meen die grondoorsaak vir eensaamheid is die bevoordeling van ekonomieë bo maatskappye en die gevolglike verbrokkeling van bande binne gemeenskappe. Kommerwekkend is dat die koms van die koronavirus alles vererger het. “Tog is ek hoopvol,” sê sy in ’n onderhoud in de Volkskrant. “Juis die krisis bied ons ’n kans om ’n ander toekoms te kies.”

Ekonomiese en politieke hervormings gaan tyd neem, maar intussen meen sy almal kan help. Koop by winkels in jou buurt, kyk die petroljoggie in die oë as jy groet, gesels met jou bure en sit meer dikwels daardie selfoon weg, skryf sy. Eensaamheid is ’n siekte, maar die medisyne is gedeeltelik byderhand. ’n Minder materialistiese ingesteldheid. Mededoë en solidariteit. Klubs, kerke, vakbonde, biblioteke. Bankies op promenades. Gemeenskapstuine en parke. Vriendskap.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.