Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Les van Friese muurteëltjie en nederige SA kookkontrepsie
Foto:

Die verhaal van die klein, wit, vierkantige teëltjie uit Friesland, met ’n handgeskilderde afbeelding van ’n doodgewone trekskuit daarop, is die soort ding waaroor jy jou verbly as die nuus op eie bodem te neerdrukkend raak.

In ’n Nederlandstalige koerant lees ek hoe Meindert Seffinga, direkteur van die Friese Skeepsvaartmuseum in Sneek, jare lank op soek was na presies so ’n muurteëltjie: een met ’n trekskuit op. Sy hoop dat die museum deur skenkings en bruikleen so iets sou kon bekom, het beskaam.

Maar tydens die gewerskaf met grootskeepse verbouings aan die museum het bouwerkers afgekom op ’n muurholte wat iewers in die verre verlede met teëls opgevul en toegepleister is. Seffinga het die teëls, wat met hul geglasuurde en beskilderde kant teen die muur vasgeplak was, versigtig laat loswikkel. Daar was vyf: vier met skilderytjies van mandjies vol blomme, en die vyfde, ja sowaar, uiteindelik ’n trekskuit!

Daar is vasgestel dat die teëltjie in 1660 in ’n pottebakkery in Harlingen gemaak is, sowat 15 jaar nadat Friesland sy eie trekskuit gekry het. Die handgeskilderde trekskuit op die teëltjie was ’n huldeblyk aan wat destyds die modernste vorm van openbare vervoer was. Trekskuite wat deur perde (wat langs die kanaal loop) oor die water gesleep word, was meer prakties as swaargelaaide skepe wat op wind lê en wag, of as oorlaaide koetse wat moeisaam op slegte paaie voorthobbel. Dit word gesien as een van die geheime suksesfaktore van die Goue Eeu, maar teen die tyd dat die teëltjie in die muur gestop is, iewers in die 19de eeu, was niemand meer beïndruk deur die trekskuit as uitvindsel nie.

Ook teëls, vroeër algemeen gebruik rondom vuurherde, was teen daardie tyd nie meer modieus nie.

Skatte lê soms vlak onder ons neus.

Dit het lank geneem voor iemand weer die teëltjie na waarde kon skat. Selfs al is dit wat geldwaarde of skoonheid betref nie die skouspelagtigste aanwins nie, en al gee Seffinga toe dat dit dalk selfs ’n bietjie onooglik is, sal die museum nooit bereid wees om daarvan afstand te doen nie.

Dit is die teël se verhaal wat dit besonders maak, die feit dat dit die heeltyd weggekruip het ín die museum wat so hard daarna op soek was. “Vlak onder ons neus,” sê Seffinga.

Aan dié klein petalje dink ek weer die afgelope week toe dit bekend raak dat ’n Suid-Afrikaanse vervaardiger van ’n nederige kosbereidingskontrêpsie, die sogenaamde Wonderbag, deur die tydskrif Fortune gehuldig is as een van die toptien-vroue-entrepreneurs ter wêreld; en haar maatskappy deur Time as een van die top-50 ter wêreld gelys is.

Sarah Collins se “Wonderbag” is ’n draagbare insulasiesak wat gebruik word om kospotte warm te hou en kos gaar te laat prut sonder die verdere gebruik van elektrisiteit of hitte. Sy het dit bedink in reaksie op iets wat haar jare lank gepla het in arm, landelike gebiede waar daar geen elektrisiteit is nie, of waar mense elektrisiteit nie kan bekostig nie: hoeveel tyd ma’s, oumas en dogters, wat eintlik op die skoolbanke moet sit, bestee aan die versamel van brandhout – of wakend langs vure met kospotte op. En toe onthou sy hoe haar ouma warm kospotte van die plaat afgehaal en in kussings toegepak het sodat dit self verder kan stoom.

In slegs ’n dekade het sy haar idee – ekovriendelik en gerig op armoedeverligting en die bemagtiging van vroue – stil-stil omskep in ’n internasionale, multimiljoen-dollar-onderneming. So het dit gekom dat haar onderneming nou genoem word in dieselfde asem as groot kanonne soos Airbnb, die rekenaarspeletjie Fortnite en Harvard-graduandi se Silicon Valley-tegnologiemaatskappye.

En só herinner ’n goedvoelstorie op eie bodem, oor ’n vrou wat haar ouma se kussingtruuk in ’n gedigitaliseerde en hipertegnologiese wêreld na waarde kon skat, aan die les van die Friese muurteëltjie: Soms gaan soek ons veels te ver na skatte wat vlak onder ons neus skuil.

Meer oor:  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.