Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Liefdeloosheid teenoor jeug totaal onvanpas
Foto:

Die dinge wat ouers, onderwysers en dosente oor jong mense dink en sê, verklap meer oor óns as oor hulle. Daarom is Chimamanda Ngozi Adichie se tirade oor twee van haar oudstudente, en oor jong mense in die algemeen, onverkwiklik.

Die Nigeriese skrywer het Dinsdag ’n essay getiteld “It is obscene” op haar webwerf geplaas waaroor sedertdien wyd en syd berig word. Adichie skryf oor haar woeste vetes met twee studente wat haar Lagos-skryfwerkseminaar bygewoon het.

Haar verskoning is dat hierdie oudstudente háár op sosiale media gekritiseer en beledig het. Sy skeur die twee jong mense wat eens onder haar vlerk studeer het, uitmekaar. Sy kom tot verdoemende gevolgtrekkings oor hul generasie, wat volgens haar “verstik aan heiligmaking en gebrek aan medelye”.

Sy pak vreeslik af oor jong mense wat gekenmerk word deur “ ’n koelbloedige gegryp, ’n honger om te neem en te neem en te neem, maar nooit te gee nie; ’n massiewe gevoel van geregtigheid; ’n onvermoë om dankbaarheid te betoon; ’n gemak met oneerlikheid en pretensie en selfsug wat verbloem word as ‘selfsorg’; ’n verwagting om altyd gehelp en beloon te word, of dit nou verdien word of nie; taal wat glad en gepoleerd is, maar met min emosionele intelligensie; ’n verstommende vlak van selfgesentreerdheid; ’n onrealistiese verwagting van ander mense; ’n oorskatting van hul eie vermoë of talent; ’n onvermoë om opreg en volledig verskoning te vra sonder regverdiging; en ’n passievolle openbare uitspeel van deugsaamheid in die openbare ruimte van Twitter, maar nie in die intieme ruimte van vriendskap nie.”

Sjoe. Wat ’n mondvol.

Die olie op die vuur is ouer mense wat heeltemal vergeet om jong mense lief te hê en met deernis te mentor.

Sonder om in te gaan op die besonderhede van waaroor Adichie en haar studente vasgesit het, is daar baie van haar essay wat pla. Die klink asof sy wraak wil neem omdat haar protégés uit hul beurt gepraat het. Haar beskuldiging dat hulle nie daartoe in staat is om verskoning te vra nie, rym nie met hul e-posse wat sy in haar essay insluit nie. Eintlik was die verskonings wat sy gekry het nederig, smekend, selfkrities en gelouter op ’n manier wat enige jong mens tot eer sal strek.

Wat my nog meer pla, is Adichie, wat ek voorheen mateloos bewonder het, se liefdeloosheid teenoor mense wat nog besig is om te eksperimenteer met hoe hulle wil wees en klink. Haar woede en haatdraendheid is onthutsend.

’n Opvoeder of ouer wat jong mense probeer kwets of breek, is self nie die toonbeeld van volwassenheid nie. Dit is veel meer obseen as jong mense se flaters.

Ongelukkig is Adichie se ingesteldheid algemeen. Die media wemel die afgelope tyd van berigte, lesersbriewe en kommentare wat skoolkinders en studente uitkryt.

Die olie op die vuur is ouer mense wat heeltemal vergeet om jong mense lief te hê en met deernis te mentor. Dit alles nogal in die maand waarin ons veronderstel is om die jeug te huldig en aan te moedig om die wêreld beter te maak.

Die ander kant van die munt is die pragtige woorde en mooi houding van Anne M. Krouse, die dekaan van die skool vir verpleegkunde van die Widener-Universiteit in Pennsilvanië. ’n Bohaai het daar losgebars toe twee professore hul studente op ’n Zoom-vergadering bespreek en per ongeluk ’n opname van die gesprek op die studente se leerportaal gelaai het.

“Hulle gaan in die eksamen heeltemal misluk,” sê die een vir die ander in die opname. “Ek het die anatomievrae aspris moeilik gemaak omdat ek so keelvol is vir hulle.”

“Ek gee nie genoeg om nie,” antwoord die ander. “Laat hulle druip.”

Die dekaan het hierna twee verskonings gerig aan die studente van dié fakulteit.

Sy het erken dat hul dosente, ene Mary Francis en Mary Marquis, heeltemal verkeerd opgetree het.

Die insig en bewoording van haar brief aan die studente is ’n teregwysing en alternatief vir almal wat ’n onregverdige oorlog teen jong mense voer.

“Julle is die middelpunt van alles wat ons doen,” het sy geskryf. “Jul sukses is ons sukses.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.