Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Literator wat sy eensaamheid in die ivoortoring kon raaksien

Harold Bloom, die langasem-literator wat die afgelope week op 89 sy laaste asem uitgeblaas het, sou hom min gesteur het aan kritiese besinnings oor sy nalatenskap. Hy was gruwelik geringskattend oor feministe, Marxiste, politiek-korrektes en alle ander “lemmings”.

Laasgenoemde was sy gunsteling-skelwoord vir letterkundiges wat skrywers se ras, gender, etnisiteit, seksuele oriëntasie of politieke posisionering betrek wanneer hulle tekste beoordeel, interpreteer of voorskryf.

Self het hy die sogenaamde “dwems” (“dead white European males”) as die Westerse kanon se grootstes aanbid. Shakespeare, Dante, Chaucer, Cervantes, Montaigne, Molière, Milton, Dr. Johnson, Goethe, Wordsworth, Whitman, Dickens, Tolstoi, Ibsen, Freud, Proust, Joyce, Kafka en Beckett was vir hom die elite van die elite. Om te sê hy het hulle aanbid, is geen oordrywing nie. Hy het by herhaling verklaar dat hy die stem van God in die geskrifte van Shakespeare (of Emerson, of Freud, of Dante) hoor. Meer nog: Shakespeare wás volgens hom ’n God.

Hy het kennis geneem van Dickinson, Austen, George Eliot en Woolf, maar Alice Walker het op opspraakwekkende wyse nie sy lys gehaal van kanonieke tekste nie. Toe Time hom op ’n keer gevra het oor kritiek dat hy te min aandag aan vroueskrywers gee, was sy antwoord: “I couldn’t care less.” Boonop was hy onbeskaamd elitisties. Oor J.K. Rowling se Harry Potter-boeke het hy keiserlik verklaar: “Kan meer as 35 miljoen boekkopers, en hul kinders, verkeerd wees? Ja, hulle is verkeerd en hulle sal aanhou verkeerd wees solank as wat hulle verknog bly aan Potter.”

Hy was onapologeties ’n ivoortoring­bewoner. Toe die skrywer Naomi Wolf beweer dat hy ongewens aan haar binnebeen geraak het, het hy minagtend ontken dat hy ooit binnenshuis was saam met “Dracula se dogter” (haar vader was ’n kenner van Draculatekste), en doodluiters weer op sy werk gefokus.

Boonop was hy onbeskaamd elitisties.

Niks kon tussen Bloom en sy boeke kom nie. Hy was legendaries belese en het gespog dat hy ’n roman van 400 bladsye in ’n uur kon lees. Ewe uitsonderlik as die pas waarteen hy boeke verslind het, was die pas waarteen hy dosyne van hulle geskryf het. In die laaste drie jaar was daar ses. Nie sleg vir ’n oubasie op die afdraande pad na 90 nie. Vanjaar, in sy sterwensjaar, het hy twee boeke gepubliseer. So produktief was hy dat daar vertel word hoe ’n student hom op ’n keer gebel het en by sy vrou moes hoor dat Bloom nie nou foon toe kan kom nie omdat hy ’n boek aan’t skryf was. Die student het geantwoord: Oukei, ek sal aanhou.

Bloom sal veral onthou word vir The Anxiety of Influence (1973) en The Western Canon: The Books and School of the Ages (1994). Aan die einde van laasgenoemde verskaf Bloom ’n leeslys van meer as 3 000 werke van ongeveer 850 skrywers wat volgens hom die aandag van ’n beskaafde, belese persoon verdien. Hy gee toe dat dit feitlik onmoontlik is om die Westerse kanon te bemeester en beveel ’n kortpad aan: Shakespeare.

Bloom het deeglik besef dat die vraag “wat moet ek lees?” in ons leeftyd verweef is met die vrae “hoekom moet ek dit lees” en, meer nog, “hoekom moet ek lees”. Hy was ’n kolos van belesenheid en ’n vulkaan van kennis, maar hoewel sy geleerdheid gesellig kon wees (sy boeke was blitsverkopers), het sy opinies oor wat die groot boeke is en waarom dit belangrik is, hom aan die einde van sy lewe tot Messiaanse eensaamheid begin verdoem.

Dit is dus gepas dat eensaamheid, een van die dinge waarvoor hy onthou sal word, deel is van sy mooiste antwoord op die vraag oor waarom mens moet lees. Vir ’n laaste keer, die laaste woord aan Bloom: “Al wat die Westerse kanon kan bring, is die regte gebruik van ’n mens se eie eensaamheid, die eensaamheid waarvan die finale vorm ’n mens se konfrontasie met sy eie sterflikheid is.”

Meer oor:  Harold Bloom  |  Skuinskyk  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.