Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Mag vroue se beelde pryk waar mans val

Marthinus Steyn, Jan Smuts en Cecil John Rhodes bevind hulle nie naastenby alleen in die visier van standbeeldbestormers nie en dit is pikant om dop te hou hoe die debat elders verloop.

In New York is die beeld van J. Marion Sims, wat sedert 1890 in Central Park gestaan het, met ’n vurkhyser van sy voetstuk verwyder ná ’n vurige debat. Sims, die “vader van moderne ginekologie”, se mediese deurbrake het gepaardgegaan met ondenkbaar pynlike eksperimente op vroueslawe in ’n agterstraathospitaal in Alabama – sonder narkose. Een van hierdie vroue, wat spesiaal vir dié doel aangekoop is, moes 30 van sy operasies deurstaan. Soms is ander dokters genooi om te kom kyk terwyl hy op die vroue “oefen”.

Die oorlog oor sy standbeeld is geveg in die gebruiklike loopgrawe van identiteitspolitiek. In die marges van daardie snuifgetrapte slagveld word egter ook toenemend aangedring op ’n ander belangrike perspektiefverskuiwing. Reeds in 1881 het die dokter Marie E. Zakrzewska, ’n Sims-tydgenoot, gevra of daar ooit ’n monument sou wees vir baanbrekervroue in haar veld. Meer onlangs is daarop gewys dat die biblioteek van die New York- akademiese instituut vir mediese wetenskap, oorkant die plek waar Sims so grillerig geplant gestaan het, argieftekste bevat wat die karakterisering van Sims as die “vader van moderne ginekologie” uitdaag. Een daarvan is deur ’n vrou uit die 12de eeu, Trota van Salerno, wat oor die behandeling van kraamkomplikasies geskryf het 700 jaar voordat Sims beroemd geraak het.

Diegene wat gehoop het om ’n beeld van ’n vrou in Sims se plek te sien, is teleurgestel. Van die 23 standbeelde van historiese figure in Central Park is nie één van ’n vrou nie. Die enigste beeldhouwerke van vroue in die 166 jaar oue park is van Alice in Wonderland en moeder Gans.

Slegs 8% van alle standbeelde in Amerika is van vroue en die regstellingsproses vorder met ’n slakkegang.

Eers volgende maand kry die park sy eerste standbeeld van vlees-en-bloed-vroue: Die suffrajette Susan B. Anthony, Elizabeth Stanton en Sojourner Truth.

Slegs 8% van alle standbeelde in Amerika is van vroue en die regstellingsproses vorder met ’n slakkegang. Rosa Parks, wat in 1955 in hegtenis geneem is toe sy nie haar sitplek op die bus aan ’n wit man wou afstaan nie, is eers verlede jaar vereer met ’n standbeeld in Alabama (die einste staat waar Sims so bedrywig was).

Die beeld van Parks, wie se optrede tot ’n busboikot gelei het en eindelik tot die Amerikaanse hooggeregshofuitspraak dat rassesegregasie op busse onkonstitusioneel is, is van ’n tenger vrou wat haar handsak met albei hande vasklem.

Nog ’n beeld van ’n vrou met ’n handsak waarvoor hard baklei moes word, is van Danuta Danielsson in Swede. Danielsson, wie se ma ’n Nazi-konsentrasiekamp oorleef het, het ’n neo-Nazi-optog in haar tuisdorp laat misluk toe sy die kaalkopleier van die Nordiese Ryk-party bestorm en met haar handsak bygedam het. Foto’s van die oomblik het ikoniese status in Swede en toe die owerheid nie wou byt aan die idee van ’n standbeeld vir die huisvrou met die handsak nie, het Swede oor die land heen handsakke aan bestaande standbeelde se arms begin hang totdat hulle hul sin gekry het.

Benewens handsakke werk swaarde ook goed. Van die mooiste standbeelde van vroue is van die Middeleeuse Johanna van Arkel by die Place des Pyramides in Parys, en Thornycroft se beeld van Boudica op Westminsterbrug in Londen. Yl gesaaide hoogtepunte, want ook in Frankryk en Engeland is standbeelde van vroue verreweg in die minderheid.

Nelson Mandela het glo, terwyl hy in die 1960’s verby ’n standbeeld van Jan Smuts op Londen se Parlementplein stap, vir Oliver Tambo gesê: “Eendag sal daar ’n standbeeld van ons in sy plek wees.”

Terwyl standbeelde van mans nou wêreldwyd met toue om hul nek weggesleep word, wonder vroue as variasie hierop wanneer daar van “ons” in hul plek sal staan. Met of sonder handsakke, met of sonder swaarde, met gebalde vuiste of met kinders aan die bors: Dit sal ’n welkome alternatief wees op ’n hele aardbol vol brons- en marmerbeelde van mans, mans, mans.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk  |  Standbeelde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.