Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Makoma moet weer wen – vir ons kremetarte se onthalwe

Dit is ’n storie waaroor mens in ’n weggooihoekie lees, maar wat eintlik op die voorblad hoort.

Terwyl ons Erfenismaand vier, behoort Suid-Afrikaners die blou horriepiep te kry dat die Chinese regering se “skenking” van miljarde rande die Suid-Afrikaanse regering oorgehaal het tot planne vir ’n nywerheidsaanleg in die Limpopo-kom.

Die aanleg sal ’n growwe skending wees van Suid-Afrika se verbintenis tot die Parys-klimaatsooreenkoms en ’n minagting van omgewingskonsultante se waarskuwings oor rampspoedige ekologiese skade.

Gelukkig is daar iemand soos Makoma Lekalakala. Sy eis antwoorde en sy sal nie rus totdat sy dit gekry het nie. Onder meer dring sy daarop aan dat pres. Cyril Ramaphosa en die Limpopo-regering “hul boeke oopgooi” en verklaar wat presies hul ooreenkoms met die Chinese behels.

En sy baklei al die pad vir die bome van die Limpopo-kom.

“Honderde mopanies, maroelabome en kremetarte gaan in die slag bly,” het sy luidens berigte die afgelope week gesê.

As Ramaphosa en die departement van minerale bronne en energie onder die indruk verkeer dat hierdie ’n tree hugger is wat maklik uit die pad gevee kan word, sal hulle hopelik ’n les leer. Lekalakala, direkteur van die organisasie Earthlife Africa, is immers bekend as die dryfkrag agter die hofsaak waarmee die regering in 2017 gedwing is om af te sien van ’n voorgenome ooreenkoms om Rusland R1 miljard te betaal vir die bou van kernkragstasies.

Die hof het destyds bevind die verkrygingsproses was onwettig en ongrondwetlik. Dit is waarskynlik ook die geval met hierdie nuwe fiasko-in-wording.

Die tweede beste tyd om ’n boom te plant is nou.

Boonop word bome wêreldwyd ’n politieke kwessie, met politici van Donald Trump tot Boris Johnson wat genoodsaak voel om as deel van hul verkiesingsmanifeste uit te stippel hoeveel bome hulle in hul termyn gaan plant. Toronto se John Tory het byvoorbeeld beloof dat hy 3,8 miljoen bome in ’n dekade sal (laat) plant. Die kwessie word onderlê deur die toenemende besef dat die inwoners van boomryke stede, state en lande onbetwisbaar gesonder, gelukkiger, veiliger en ekonomies beter daaraan toe is as dié wat woon in gebiede waar die uitwissing van bome die impak van aardverwarming, oorstromings, droogte en lugbesoedeling al hoe ondraagliker maak.

Sedert Roger Ulrich in 1984 ontdek het dat hospitaalpasiënte vinniger van operasies herstel in kamers met venster wat op bome en plante uitkyk, was daar al verstommende bevindings oor hoe intiem die mens se welstand met bome s’n verknoop is. In Toronto het navorsing gewys dat mense wat in boomryke strate woon, noemenswaardige gesondheidsvoordele geniet en Amerikaanse navorsers het selfs ’n verband gevind tussen boomryke buurte en minder vroeggebore babas. Geen wonder nie dat huise in boomryke buurte en langs parke soveel beter pryse haal dat daar van “treeconomics” gepraat word.

Die bome in die Limpopo-kom is om meer as een rede kosbaar. Aan die Universiteit van Kaapstad is daar al ’n doktorsgraad gedoen oor hoeveel plaaslike mense vir hul ekonomiese oorlewing van mopaniebome afhanklik is (onder meer omdat hulle mopaniewurms en “mopaniemanna” van die blare eet). En as die een wat jaarliks die regering se Orde van die Kremetart aan verdienstelike Suid-Afrikaners oorhandig, behoort die president te weet die “ondersteboboom van Afrika” geniet simboliese en byna mitiese status.

Nie om dowe neute nie is die kremetartboom vanjaar een van Suid-Afrika se twee bome van die jaar. Ewe ironies is dat die regering se planne om met Chinese finansiering ’n aanleg te bou wat hierdie kosbare bome bedreig, gemaak word terwyl China glo besig is om jaarliks miljoene rande te bestee aan herbossingsinisiatiewe in sy eie landsgrense.

Dit alles laat mens dink aan die ou sêding oor bome: “Die beste tyd om ’n boom te plant is 20 jaar gelede.” Die tweede beste tyd is nou. Die vuurvreter Makoma Lekalakala sal jou vertel die beste tyd vir die regering om af te sien van die Chinese nywerheidsaanleg in die Limpopo-kom was vóórdat hulle met die Chinese daaroor begin konkel het. Die tweede beste tyd is nou.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk  |  Bome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.