Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Met borrels in hand bedink? Dit kwyn gou oor flou koffie

Laat ek raai. Minder drink en meer oefen. Gesonder eet. Nooit op die kinders skree nie. Minder spandabel wees, meer spaar. Minder tyd op sosiale media verspil. Ou foto’s uitdruk. Garage regpak. Ophou vloek. Vroeër gaan slaap en vroeër opstaan. Geen suiker. Alles mooi in toom hou van nou af aan.

Nóg ’n raaiskoot: Vele, of dalk alle Nuwejaarsvoornemens wat jy met borrels in die hand bedink het, moes jy reeds weer oor ’n flou koppie koffie vaarwel roep. Toemaar, selfde hier. Geen wonder Januarie maak ons somber nie. Benewens ons beursies wat leeg is en dat ons soos kraaie gaap in presies die soort somerweer wat welkom sou wees toe ons nog met vakansie was, maak ons elke jaar weer dieselfde fout. Die uitbundige, ontspanne, songebrande persoon van drie weke gelede word skielik streng in die bek geruk. Ons verklaar oorlog teen onsself deur die mens wat ons sou kon wees, op te stel teen die mens wat ons eintlik is. ’n Maand van selfkastyding.

Nuwejaarsvoornemens is ’n ritueel wat berus op die aanname dat ons geluk kan vind in ysere selfdissipline. Ons vergeet dat wilskrag nie bestand is teen die onvoorspelbaarheid van die lewe nie. Siekte en dood is voor die hand liggende voorbeelde, maar daarby kom ook nog ons eie grille en giere. Dit is boonop neerdrukkend om die jaar te begin met klem op alles wat moet verander, eerder as dankbaarheid oor wat ons het.

In my geestesoog sien ek Bridget Jones wat Oujaarsaand dronk in haar nagklere na ou episodes van die sitkom Frasier kyk en die tranetrekker “All By Myself” oor en oor luister. Op Nuwejaarsoggend is sy reg vir ’n nuwe begin: Sy gaan baie gewig verloor, elke oggend onthou om haar vuil broekie in die wasgoedmandjie te sit en ’n ordentlike kêrel kry. Helen Fielding wéét egter haar karakter gaan nie haar doelgewig bereik, ophou rook of drink nie. Dit sou trouens ’n fiasko wees vir die karakter en die storie, want Bridget se foute en flaters is juis wat ander aantrek (en wat lesers en fliek­gehore amuseer).

Ophou vloek. Geen suiker.

Wat sou die alternatief wees vir dié van ons wat nie deur ’n skrywer uitgedink is nie? Een opsie is om die status quo te aanvaar. Hou op vroetel met jou fiksheidshorlosie, kry ’n tatoeëermerk wat “laissez-faire” sê en sit agteroor. Gods water oor Gods akker en gedane sake het geen keer. Daar is baie spreekwoorde waarmee só ’n lewenshouding verdedig kan word.

’n Lewe wat sonder rigting of doel is, gaan egter niemand help om ’n sogenaamd goeie lewe te lei nie. Dit is maar ’n swak alternatief vir die self-saboterende patrone waarin ons elke Januariemaand verval. Effens beter is die 18de-eeuse Duitse filosoof Immanuel Kant se raad om “doellose doelgerigtheid” na te streef. Dit sou breedweg beteken om minder instrumenteel en uitkomsgerig te leef deur groter moeite te doen om in kontak te kom met dit wat vir jou mooi en sinvol is.

As dit te hoogdrawend is, bevat die lys “New Years Rulin’s” wat die Amerikaanse folkmusikant Woody Guthrie in 1943 op 31-jarige ouderdom vir homself gemaak het, hope inspirasie vir doodgewone sukkelaars wat darem nog nie alle moed opgegee het nie. Dit word soms uitgewys dat sy lys ’n goeie balans handhaaf tussen die behoefte aan gesondheid (“Eat good”, “Drink scant if any”), sekerheid (“Bank all extra money”, “Save dough”), liefde en geborgenheid (“Love mama, Love papa, Love Pete [Seeger], Love everyone”), aansien (“Wear clean clothes – look good”) en selfverwesenliking (“Play and sing good, Dance better”).

Vir my is die heel mooiste en mees universele voornemens op sy lys, die volgende: “Don’t get lonesome, Stay glad, Keep hoping machine running, Dream good” en “Help win war – beat Fascism”. Vir diegene wat Guthrie se voornemens te ambisieus vind, is daar troos. ’n Mens sal ver moet soek vir ’n nederiger ambisie as die derde item op sy lys: “Wash teeth if any.”

Miskien moet ons almal daar begin.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Nuwejaarsvoornemens  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.