SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Sonja Loots: Minister Gigaba, ek hoop jy lees ook dié boeke

Wie sou ooit kon raai dat Malusi Gigaba, benewens duur driestukpakke van Armani en Versace, blink Martegani-skoene en 12 jaar oue Johnnie Walker Black, ook van poësie hou? En ons praat nou nie hier van sommer so ’n ou versie of uittelrympie nie.

Gigaba se mediumtermyn-begrotingsrede het herhaaldelik verwys na ’n strofe uit Ben Okri se “Mental Fight”, ’n epiese werk waarin Okri in digterlike gesprek tree met belangrike temas en motiewe uit die Romantiese digter William Blake se “Jerusalem”. Indrukwekkende leesstof vir iemand wat mos eintlik ’n syferman en modepop is.

Dit is hartverblydend dat ons minister van finansies so belese is – en so entoesiasties oor die Okri-oeuvre – want ons kan dus veronderstel hy weet dat Okri, soos sy mede-Nigeriërs Wole Soyinka en Chinua Achebe, oor min dinge meer krities was as oor korrupsie.

Okri se debuutroman, Flowers and Shadows, handel oor ’n jong man se ontnugtering oor korrupsie in postkoloniale Nigerië.

Ook die publikasies wat daarop gevolg het, kan gelees word as ontledings van korrupsie waarin Okri die medepligtigheid van plaaslike en internasionale kartelle belig, maar primêr die skuld voor die deur van Afrika self lê.

Soos Gigaba sekerlik weet, synde so ’n groot Okri-kenner, is die hoogtepunt van hierdie oeuvre die Bookerprys-bekroonde The Famished Road. In hierdie roman is Afrika verarm en bykans verlam deur korrupsie. Die karakters, ’n optog van verdruktes en verarmdes, bevind hulle in ’n wêreld van politieke geweld en gulsige materialisme.

Okri se debuutroman, Flowers and Shadows, handel oor ’n jong man se ontnugtering oor korrupsie in postkoloniale Nigerië.

Miskien wou Gigaba ons aan dié roman herinner toe hy ’n vers aangehaal het waarin Okri ’n beroep doen op mense van Afrika om ’n nuwe werklikheid te droom, om hulself anders te droom.

Gigaba weet ongetwyfeld dat die droom in Okri se werk ’n uitgesponne metafoor is wat nie losgedink kan word van die skrywer se konsekwente standpuntinname teen korrupsie nie.

In The Famished Road, sal ons minister jou kan vertel, gaan dit byvoorbeeld om ’n stryd tussen verskillende soorte dromers. Teenoor die hoofkarakter en sy pa, wat droom van ’n wêreld buite die krotbuurt waar hulle dag ná dag vergaan, is daar die drome van die leiers en lede van ’n korrupte politieke party.

Laasgenoemde se drome vloei voort uit partytjies en orgies, verkwisting en fuifpartye, en disintegrasie. Meer nog: Hul drome tap die drome van almal anders droog. Terwyl hulle geheime ooreenkomste sluit en kontrakte opstel, word almal anders se toekoms verpand.

Miskien het die tyd minister Gigaba ingehaal. Miskien wou hy nog vir ons vertel dat korrupte regeerders die burgers van ’n land se drome steel.

Of dalk hou hy dit vir die volgende begrotingsrede, waarin hy ook gaan aanhaal uit die werk van Chinua Achebe. Omdat hy so ’n Renaissance-man is, ewe tuis in die wêreld van syfers en woorde, besef hy dalk hy moet wegstuur van die titel van Achebe se bekendste roman: Things Fall Apart.

*Dr. Sonja Loots doseer Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Malusi ­Gigaba  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.