SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Sonja Loots: Moenie media se rol onderskat in JZ se uittrede

As jy verlig is dat die land ontslae is van Jacob Zuma, en as jy bly is om te sien dat die Valke eindelik weer hul vlerke strek, hou dan aan om hierdie en ander koerante te lees.

Meer nog: Volg die daaglikse nuusgebeure op soveel maniere as moontlik. Die druk op Zuma sou minder fel gewees het, en Suid-Afrikaners minder ingelig oor die gemors waarin hy ons gedompel het, sonder die land se ondersoekende joernaliste.

Behalwe dat staatskaping en wydverspreide korrupsie in die kollig geplaas is, het die Suid-Afrikaanse media ook die afgelope tyd goeie werk gedoen met onthullings oor die rol wat Bell Pottinger gespeel het om rassespanning aan te hits. Laasgenoemde het beklemtoon dat alle Suid-Afrikaners ’n etiese verantwoordelikheid het om te verseker dat ons mediageletterd is. In ’n nuuslandskap waarin dit steeds moeiliker word om die waarheid van

leuens te onderskei omdat sosiale media die slagveld geword het vir propaganda-oorlogvoering moet ons weet hoe om “nuus” krities te beoordeel.

Dit is makliker gesê as gedaan, want in die sogenaamde post-waarheidsera weeg die vorming van openbare mening deur emosionele beroepe dikwels swaarder as feite. Die migrasie van nuuslesers na aanlyn platforms en gratis nuus op sosiale media het boonop op groot skaal eggo-kamers en “filterborrels” veroorsaak: die gerusstellende ruimte waarin ’n mens beland as jy jou omring met mense wat almal jou lewensuitkyk en politieke sienings deel en voortdurend jou vooroordele bevestig.

Dit is seker verstaanbaar dat al hoe meer Suid-Afrikaners in die versoeking kom om hulle blind en doof te hou vir die daaglikse nuusgebeure.

Daar is ook ander struikelblokke vir lesers op soek na die groter prentjie en gebalanseerde nuusdekking. Een daarvan is dat Suid-Afrika een van die mees gekonsentreerde en niediverse mediamarkte in die wêreld het. Wat eienaarskap betref, word dit oorheers deur slegs vier maatskappye, en van die 40 redakteurs van die land se belangrikste nuuspublikasies en/of platforms is slegs vyf vroue. Dit strem noodwendig die potensiaal vir ’n diversiteit aan perspektiewe.

Dit sou gehelp het as ons kon reken op ’n openbare uitsaaier wat as teenpool dien vir groot kommersiële mediabelange, maar soos ons almal weet, is die SAUK al jare lank ’n gemors met finansiële ellende en wanbestuur wat helaas ’n invloed het op die gehalte van die nuusbulletins en ander programme wat in ons huise uitgesaai word. Zuma se omstrede aanstelling van Bongumusa Makhathini as voorsitter van die SAUK-raad het sake vererger en is een van die probleme wat nie deur sy bedanking ongedaan gemaak is nie.

Dit is seker verstaanbaar dat al hoe meer Suid-Afrikaners in die versoeking kom om hulle blind en doof te hou vir die daaglikse nuusgebeure. Sulke belangeloosheid kan egter op die lange duur ’n ewe groot bedreiging raak vir mediavryheid as inmenging, intimidasie, teistering en toesig. ’n Meer verantwoordelike strategie sou wees om op betroubare bronne te reken vir verifieerbare, akkurate feite en om bereid te wees om daarvoor te betaal. ’n Goeie koerant soos hierdie is ’n uitstekende beginpunt. Soek dan gerus ook verder na die groot spektrum goeie, indringende ontledings wat op onafhanklike platforms of individuele blogs gevind kan word.

“Waarheid” is gelyk aan feite wat in konteks geplaas is, wat ’n breë spektrum ervarings weerspieël, wat begrip bevorder en wat betekenis skep. Om dit te vind, moet mens ’n kombinasie van Argos en Odusseus wees: ’n veelogige nomade. Dit is soms veeleisend, maar dit bly ’n nie-onderhandelbare reg en voorreg. Die afgelope week het immers weer getoon hoe onontbeerlik die rol van die media in ’n demokratiese samelewing is.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.