Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: My hond het ’n anti-vakser gebyt

My hond het verlede week ’n anti-vakser gebyt.

Eers het ek nie mooi verstaan wat gebeur het nie. Die hond is bejaard, bedaard en so vredeliewend dat sy ’n nikswerd waghond is. Onder normale omstandighede kan bedelaars, nutsmanne, posmanne, pizza-afleweraars, tuinwerkers en selfs deurtrapte skelms en diewe daarop reken dat sy hulle volkome vriendelik in ons huis en tuin sal verwelkom.

Die afgelope jaar het sy onverstoord gadegeslaan hoe ons rot en kaal besteel word. Duikpakke, drie fietse, twee skaatsplanke en gellings duur drank is weggedra terwyl sy haar nimlike self was met wie ook al hulle gehelp het aan ons goed.

Daarom was my verbasing groot toe sy op ’n salige skemeraand, terwyl die son in sagte pienk sliertwolkies sak en die voëltjies hul skemerliedjies sing, skielik met ’n kwaai knor mik vir die kuit van ’n drawwer wat verbygeskommel kom terwyl ons op die sypaadjie staan. Waddehel het nou in háár gevaar, was my oorblufte reaksie.

Dit was ’n kneusing eerder as ’n byt, maar dit het nietemin gesorg vir ophef in ons stil, voorstedelike straat. Die drawwer se kuit is ontsmet en suikerwater aangedra. Terwyl ons verskonings in ’n wolkbreuk oor haar neerstroom, merk ons dat sy dramaties terugdeins en skynbaar nog banger vir ons as die hond is. “Jammer, ek is ’n anti-vakser,” prewel sy.

Die hond kyk my veelseggend aan. “Sien jy nou,” sê haar blik. “Nóú weet jy hoekom. Ek het ook maar net breekpunt bereik,” voeg sy by. “Ek voel soos die dokters en verpleërs wêreldwyd wat sê hulle het alle empatie verloor met anti-vaksers.”

Sy het hond se gedagtes oor sulke mense.

Ek probeer my blind en doof hou, maar my hond gaan voort. “Anti-vaksers moet verby ánder huise gaan draf,” sê een gespitste oor. “Hulle moet iewers anders broeiplek gaan wees vir variante as hier voor ons hek,” sê die ander oor. Ek antwoord haar nie. Dis nie nou die tyd vir debatte nie.

Vir die drawwer sê ons sy moet veiligheidshalwe ’n klem-in-die-kaak-inspuiting kry (natuurlik op ons onkoste). En al was dit net ’n oppervlakkige velbreuk, ook ’n antibiotika-voorskrif.

“Ek hoop net hulle sal my in die hospitaal toelaat sonder dat ek ingeënt is,” dink sy hardop. Ons stel haar gerus. Alles verloop klopdisselboom en sy word bekwaam bygestaan in die ongevalle-afdeling met, nota bene, geen sprak of sprook van protes van haar kant af nie. Om redes wat diep onduidelik is, het iemand wat probleme het met ’n entstof teen Covid-19 volle geloof in ’n entstof teen klem-in-die-kaak.

Toe die storm uitgewoed is, gaan soek ek die hond en kyk haar uitermate streng aan. Gewoonlik verlep sy by die aanskoue van só ’n blik, maar hierdie keer lyk sy min gepla. “Ek het hond se gedagte oor sulke mense,” sê sy.

Tyd heel alle wonde, ook dié van honde wat skielik vanuit die bloute ’n bevlieging oor anti-vaksers kry. Die drawwer sterk pragtig aan. Die klem-in-die-kaak-inspuiting het haar nie radio-aktief gemaak nie, sy het nog nie ’n ekstra oor of neus gegroei nie en as daar nou ’n manier is om haar met die druk van ’n knoppie in ’n DStv-dekodeerder om te skakel, weet ons nie daarvan nie.

Die rekeninge is pligsgetrou betaal, ’n wildspastei is aangedra as vredesoffer en ons het dit almal reggekry om die beste van ’n slegte situasie te maak. As ons mekaar in die buurt sien, wuif ons hoflik. Op ’n afstand, want sommige mense is mos nog steeds nie ingeënt teen Covid-19 nie, al help die skommeldraffies min en laat hulle die skaal ordentlik les opsê.

Wanneer my gewete my weer begin pla en ek verwytend na die hond kyk, ontmoet sy my blik onberouvol. Sy het intussen teruggesink in haar natuurlik staat: slapend, kwylend en poepend iewers in ’n sonkol, almal se beste vriend. Behalwe anti-vakser s’n. Miskien is sy tog nie so ’n nikswerd waghond as wat ek altyd gedink het nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.