Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: ’n Gety van metamorfoses en mirakels

In 1924, twee jaar nadat sy vader vermoor is, het Vladimir Nabokov agter sy lessenaar ingeskuif om ’n Kersverhaal te skryf.

In die verhaal arriveer Sleptsov, vermoedelik ’n wewenaar, op Oukersaand by sy vakansiehuis op die Russiese platteland. Op Kersdag wandel hy tot by ’n toegesneeude voetbrug en onthou hoe sy seun die afgelope somer daar ’n skoenlapper in ’n net gevang het. Die kind is pas oorlede. Sy laaste woorde was oor skool in St. Petersburg, oor sy fiets en oor die een of ander reusemot uit die Ooste.

Sleptsov keer terug na die huis. Deure huil wanneer hy hulle oopstoot, die blokkiesvloer kreun onder sy voete. Die meubels is onder doeke toegegooi.

Hy dwaal van een stil vertrek na die volgende. Hy vind van sy seun se besittings en dra dit na die enigste verhitte vleuel in die huis. Hy gaan sit agter sy lessenaar en laat sak sy kop, eers sy lippe en dan sy nat wange, teen die stowwerige houtblad en klem met sy hande aan die verste hoeke van die blad. Dit is ’n oomblik van algehele reddeloosheid. Sleptsov sien sy toekoms voor hom uitstrek en dit is (in die woorde van die Engelse vertaling): “Ghastly in its sadness, humiliatingly pointless, devoid of miracles.”

Maar dan gebeur daar ’n Kersmirakel in die kleine. Tussen die kind se agtergelate besittings is daar ’n kokon. Die kokon kraak oop en ’n atlasmot kom te voorskyn. Hy vou sy vlerke oop, al wyer.

Die skoenlapper in Nabokov se verhaal sou hom herinner het aan sy vader, wat behalwe ’n aristokratiese staatsman ook die skrywer was van ’n vierdelige entomologiese studie getiteld Die skoenlappers en motte van die Russiese ryk. Soos sy vader was Nabokov self ’n ywerige lepidopteroloog, miskien die beroemdste een nog.

Hy het op 20-jarige ouderdom die eerste van sy 21 vakartikels oor skoenlappers publiseer, maar hy moes die skoenlapperversameling wat hy sedert sesjarige ouderdom opgebou het, agterlaat toe sy gesin tydens die Bolsjewistiese revolusie uit St. Petersburg moes vlug.

In sy Kersverhaal dui skoenlappers op hoop en hergeboorte.

Die opbrengste uit sy tweede roman is gebruik om ’n skoenlapperekspedisie te finansier, maar toe die Nazi’s Frankryk beset en Nabokov noodgedwonge besluit om Europa vir Noord-Amerika te verruil, moes hy weer sy skoenlappers agterlaat.

In Amerika het hy ses jaar lank as entomoloog in ’n museum gewerk en hom op die bestudering van Lycaenidae toegespits, maar mettertyd het letterkunde die plek van Lepidopterae in sy lewe oorgeneem. Die skrywer van Lolita en Pale Fire is dood voordat hy sy halfvoltooide studie oor die skoenlappers van Europa en die beloofde boek oor kunstenaarsuitbeeldings van skoenlappers kon publiseer.

Tog is daar ’n skoenlapper in elkeen van sy romans. ’n Mens sou verstaan het as skoenlappers vir Nabokov ’n simbool was van verlies in die aangesig van politieke omwenteling. In sy Kersverhaal dui dit egter op hoop en hergeboorte. En met hierdie lang ompad kom ons eindelik uit by die verband tussen die witgesneeude Russiese winters en die sonverbleikte somersdae waarin óns Kersfees gedenk.

Terwyl ons oor die groot dae, met een oog op die televisienuus en onrusbarende koerantberigte, wonder of ons geskiedenis dalk ook op omwenteling en ontworteling afstuur, sou ’n mens soos Sleptsov kon voel dat die toekoms kompromisloos somber daar uitsien. Of ons kan aan Nabokov se gevleuelde gelukbringers dink en onthou dat Kersfees, ’n fees wat wentel om ’n groot geboorte, die tyd is van metamorfoses en mirakels.

* Dr. Sonja Loots doseer Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.