Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: ’n Vrou lyk op haar lelikste wanneer sy sport beoefen

’n Vrou op die atletiekbaan is teleurstellend, want sy het plat borste.

’n Vrou wat balspel beoefen, het ’n lelike lyf, harde gesig en goedkoop verstand.

’n Vrou wat tennis speel, lyk soos ’n haastige kameelperd.

’n Mens wil glo dat hierdie uitlatings deur die Amerikaanse sportskrywer Paul Gallico in die laat-1930’s hopeloos verouderd is. Die storms wat tans woed oor die voorkoms van vroueatlete laat mens egter wonder hoeveel vooroordele bly vassteek.

’n Noorweegse strandhandbalspan is vandeesweek beboet omdat hulle in kortspanbroekies pleks van bikinibroekies gespeel het. In Tokio het Duitse vrouegimnaste lang spanbroeke onder hul leotards gedra uit protes teen hul seksualisering.

Die Olimpiese swemmer Alice Dearing mog nie ’n swemkep dra wat groter gesny is vir dreadlocks en Afros nie. En in Engeland is die verspringatleet Olivia Breen berispe omdat die broekie waarin sy spring te skraps sou wees.

Hier te kort en daar te lank. Te klein, te groot, te styf, te los. Altyd bedink sportliggame nog reëls oor wat vroue mag dra en wat nié.

Te klein, te groot, te styf, te los.

Nadat die Franse tennisspeler Suzanne Lenglen in 1910 in knielengte rompe begin speel het, het die Olimpiese Komitee in 1914 teruggekap met ’n reël dat vroue slegs kon deelneem in sporte wat hulle met lang rokke kon beoefen.

Nadat roksome gelig het, moes vrouetennisspelers vanaf die laat-1920’s ’n verbete stryd veg om kortbroeke te mag dra. Toe Billie Jean King in die 1970’s moulose hempies op die baan dra, was dit omstrede. In die 1980’s is die Amerikaanse atleet Florence Griffith Joyner, oftewel Flo-Jo, belaglik gemaak oor haar eenbeenuitrustings.

En wie kan vergeet hoe Serena Williams in 2018 oor die vingers getik is oor die katpak wat sy vir ’n Roland Garros-kragmeting gedra het! Beamptes het verklaar dit sal voortaan verbode wees “omdat spelers die spel en plek moet respekteer”.

Toe Anna Kournikova jare vantevore in 2002 in kort toppies begin speel het, was daar egter geen hik of kik nie.

Dat die skraal blondine met die blou ogies kon dra wat sy wil terwyl Serena telkens onder skoot gekom het, onderstreep die ware rede waarom vroueatlete se klere tot soveel beheptheid lei.

Dit was nie die katpak wat die Franse monsieurtjies kwaad gemaak het nie. Dit was die feit dat sy dit haar “Black Panther”-pak genoem het en gesê het dit laat haar soos ’n superheld voel.

Vroueatlete is nie net fisiek sterk nie. Hulle straal ook krag uit. Hulle verskuif grense, versplinter stereotipes en baklei hand en tand vir gelyke behandeling. Hulle raak ikone wat die denke oor gender transformeer. Kortom: Hulle is ’n bedreiging.

Gallico het as sportskrywer gewerk toe Babe Didrikson Zaharias op die atletiekbaan, in die swembad, op die tennisbaan, in die bokskryt en in die gholfbaan gevestigde idees oor vroue se beperkings op hul kop gedraai het.

Sy het in 1932 drie Olimpiese medaljes in baan- en veldnommers gewen. Hierna het sy gholf begin speel en 31 groot gholftoernooie gewen.

Gallico se beriggewing het gefokus op haar prominente adamsappel, die dons op haar bolip en die feit dat haar gesig volgens hom soos ’n hamer gelyk het.

Dit was ’n voorspelbare taktiek wat helaas steeds herkenbaar is.

Wanneer vroueatlete oor hul voorkoms onder skoot kom, gaan dit nie oor hul gebrek aan respek vir die spel, soos destyds oor Serena beweer is nie. Dit gaan eerder oor ’n gebrek aan respek vir húlle, en hul ontsaglike talente.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.