Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Nee dankie, o Jakkals, vir dié vakansie sonder kastige grense

Jakkals nooi vir Gansie: “Kom eet vanaand by my. Daar’s heerlike ou kossies en uintjies uit die vlei.” En Investec se base sê vir Investec se klase: “Van nou af, liewe mense, is daar vakansie sonder grense.”

“Nee dankie,” sê die Gansie, “al staan jy op jou kop. As ek by jou kom kuier, eet jy my sweerlik op.” En die Investec-klasies? Gaan hulle geflous word deur die jakkalsdraffies van die Investec-basies?

Dit is oënskynlik goedvoelnuus: Die goeie, gawe mense van Investec het hul werknemers verras met ’n ruimhartige aanbod. Hulle mag voortaan soveel vakansie neem as wat hulle wil, en boonop dra wat hulle wil. Die aankondiging het gepaardgegaan met heelwat sussende geluide om liggelowiges aan die slaap te sus. Fleksiedit en fleksiedat, die gelukkige drommels, en doedoe my baba, daar bo in die boom, die wind wieg die takke dat baba kan droom.

Natuurlik is dit alles te goed om waar te wees – en slegs as jy in kinderversieland leef, sal jy vergeet van die fynskrif. Die bepalings en voorwaardes lui min of meer: Jy kan enige tyd verlof kry, mits jou werk op datum is en jy nie gemis sal word nie. Die probleem is natuurlik dat die uitgemergelde werknemers van korporatiewe reuse nie met verlof gaan as hul werk klaar is nie, maar as húlle klaar en op en gedaan is. Die rede hiervoor is eenvoudig – in die meeste werkplekke is die werk nooit klaar nie. Want almal doen in elk geval twee of meer se werk.

Lesley-Anne Gatter, Investec se hoof van mensehulpbronne, verklaar in ’n onderhoud: “Met die nuwe stelsel het ons veel meer hefboomkrag, want dit gaan alles oor prestasie en minder oor tyd.” Die tandjies wys, die fluweelhandskoentjies is uitgetrek en dit gaan duidelik om meer mag vir die werkgewer in die stryd teen “kansvatters” wat, in Gatter se woorde, “agter siekte- of ouerskapverlof skuil”. Ja-nee, dit is baie ongerieflik vir ’n werkgewer as werknemers durf waag om gebruik te maak van siekte- of ouerskapverlof. Dit is ’n manier waarop hulle wegkruip vir die verwagting dat hulle altyd, oral, beskikbaar sal wees.

Dis fleksiedit en fleksiedat.

Die eintlike kansvatter is Gatter – en ander senior beleidsmakers soos sy. Dit is nie toevallig dat baie van haar stellings soos dreigemente klink nie. “Ons weet wie reeds die bestaande stelsel misbruik” en “mense wat voort­aan verlof misbruik en nie opdaag nie, sal onder druk wees” is leidrade dat werknemers tydens ’n resessie, in ’n land met hemelhoë werkloosheidsyfers, senuwees van staal sal moet hê om ’n verlofvorm in te vul. Hulle is gewaarsku: “Met die nuwe beleid wil ons die prestasiekultuur binne Investec verbeter.”

Investec se aanbod oor ontspanne kleredrag is ook oëverblindery. As jy ’n kortbroek en plakkies werk toe dra, beteken dit nie dat jy langs jou braaivleisvuurtjie staan nie. Jou werkgewer is nie jou vriend nie en jou werkplek nie jou huis nie, maar die werkgewer wil hê jy moet dit vergeet.

Digitale tegnologie beteken reeds dat weinig mense ophou werk as hulle die werkplek verlaat. Deur die grens tussen werk en speel verder te vervaag, word jy verlei om heeltyd te werk. Die bonus vir die werkgewer is dat jy nie oortyd betaal word nie, en – danksy “buigsame” verlof-skemas – nie vir ongebruikte verlof vergoed word indien jy bedank nie.

Groot firmas weet dat millenniërs minder verlof neem as enige generasie voor hulle en bedrewe is met hol­iday shaming, die gewoonte om kollegas óf subtiel óf openlik te verwyt oor die vermetelheid om vakansie te gaan hou.

Dit alles pas werkgewers piekfyn. “Dit gaan oor prestasie, produksie, lewering,” sê Gatter. Wanneer sy onthou dat dit kastig ook oor mense gaan, gee sy gladweg die versekering dat ’n welstandsprogram sal verseker dat werknemers genoeg verlof neem.

’n Korporatiewe werkgewer wat prestasie eerste stel, maar sy werknemers se welstand op die hart dra en wat regtig-egtig soveel verlof gun as wat hulle nodig het? Ai, maatjies. Wat kan mens sê?

Ek wens ’n wens op die eerste ster, al is die ster so klein en ver; En as ek na die ster bly staar, word my wens dalk môre waar.

Meer oor:  Skuinskyk  |  Investec
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.