SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Net honde het nog tyd om ’n bietjie te lê; ons is te ‘bheezzig’

Ek weet eerlikwaar nie hoe en waar ek hierdie week tyd gekry het om ’n rubriek te skryf nie. Dit gaan woes. Doller as kop-af. Wilder as die wildtuin.

Dis werk en kinders en die hond en kat en parakiet en belastingvorms en kruideniersware en . . . Hei! Ek kan sien jou aandag dwaal. Ek weet wat kom. Nou gaan jy natuurlik begin vertel hoe besig jý is.

Dis nou as jy een van daardie mense is wat weier om te aanvaar dat ek besiger is as jy.

Dis soos wanneer ’n mens berge versit en brandende wêrelde in jou spoor agterlaat om, so verrinneweer maar vasberade soos Brueghel se Dulle Griet, betyds by die tandarts se spreekkamer op te daag – en dan deur sy dunlip-dametjie verwittig word dat jy 45 minute moet wag, want “dhokthorr is bheezzzig”. Die subteks hier is natuurlik dat die kiestandkenner met ’n hele leër­skare dametjies om sy afspraakboek te bestuur, bheezziger is as jy, omdat hy belangriker is as jy.

Almal wat ek ken, is waansinnig besig. Ons kinders is ook besig. Dis net die honde wat soms nog tyd het vir lê.

Almal is bedrewe in die nimmereindigende drafstappery; ingeoefen in ons bestudeerde kombinasie van kommer en uitasem hulpeloosheid oor die vinnige pas van ons lewe. Ten minste is ons nie lammelinge en luiaards nie! Ten minste is ons nie stoepsitters en huislêers nie!

Besigwees is die mantra van almal wat hulself as suksesvol posisioneer. Om te sê dat jy besig is, is ’n statussimbool. As jy besig is, is jy besig om geld te maak. As jy besig is, is jy besig om een of ander leer te klim. Daarom is ons alewig besig om te kompeteer oor wie nou eintlik die besigste is. So vlieg ons na ons einde toe, soos die Psalmis dit gestel het. So verdwyn ons dae in stiltes soos kwartels in lang gras, soos D.J. Opperman gedig het. Daar is niks aan te doen nie.

“Busy is the new stupid,” meen Warren Buffett egter. Sy woorde word die laaste tyd wyd en syd in die kuberruim getwiet, gelaaik en gedeel.

Mantra van dié wat hulle as suksesvol posisioneer.

Vir Buffett is die saak eenvoudig: Hy het genoeg geld om alles wat hy begeer, te koop. Slegs tyd kan hy nie koop nie. Daarom sorg hy dat sy afspraakboek baie leë dae en leë ure het. Hy hou dit oop sodat hy kan dink. Daar is boonop tyd om op sy mondfluitjie te speel en gemiddeld 12 uur per week brug te speel. Soggens lees hy minstens vyf koerante. Lekker salig.

Dit is ’n groot versoeking om geïrriteerd te raak met Buffett. Dit is waarskynlik nie hy wat met die honde gaan stap of sorg dat daar melk in die yskas is nie. Tipies mansmens. Sit lekker en kaartspeel terwyl ander mense sy lewe vir hom uitstryk.

Die waarheid is egter dat nie een van ons so besig is as wat ons dink nie. Al hoe meer navorsing wys dat die gemiddelde volwassene in middel- tot hoë-inkomstegroepe meer vrye tyd het as wat ons voorgee. Dit vergelyk wêreldwyd uitstekend met ons eweknieë in ander eras. In ons professionele en persoonlike lewe sorg tegnologiese vooruitgang en stygende lewenstandaarde vir al hoe minder aansprake op ons tyd.

Dit is die gepraat oor die gejaagdheid van ons lewe wat ons siek maak eerder as die gejaagdheid self; en die drukdoenery wat ons moeg maak eerder as dit wat ons regtig doen.

Dis tyd om eerliker te wees hieroor. Ek weet jy is baie belangrik, maar jy is nie regtig so besig soos jy sê nie. Selfs die tandarts is nie regtig so vreeslik besig nie. En nee, dit is nie waar dat ek hierdie week te min tyd gehad het om ’n rubriek te skryf nie. Ek het niks beter gehad om te doen nie. En jy, liewe leser, het niks beter gehad om te doen as om dit te lees nie.

  • Potjie brug, iemand? Dr. Sonja Loots doseer Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.