Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Net omdat jy universiteit toe mág gaan, is ’n graad nie jou reg

Op universiteit moes ek en my medestudente dikwels dieselfde ou flou grappie verduur: “Wat is die verskil tussen ’n Spur-kelner en ’n BA-graduand? Die kelner kan jou bestelling neem.”

Of, as variasie daarop: “Wat is die verskil tussen ’n hamburger en ’n BA-graad? ’n Hamburger kan jou maag volmaak.”

As afgestudeerdes was die grappie effens anders. “So, jou graad het jou gehelp om ’n werk te kry waarvoor jou graad nie eintlik nodig is nie.”

Dit het gekom nadat ons op skool heeltyd oor die kop gekarwats is met die boodskap dat ons hard moet werk om universiteitsvrystelling te kry; en keuring vir die kursusse wat deel uitgemaak het van ons grade; en beurse om vir dit alles te betaal. Maar op universiteit en daarna het dit duidelik geraak dat die eintlike boodskap eerder was: Ken jou plek. Werk hard en styg uit sodat jy op ’n plek kan kom waar jy nóg harder moet werk om uit te styg. Jy het dit nog nie gemaak nie, moenie dink dit is nou tyd vir ontspan nie. Probeer bietjie harder. En: Ken jou plek. Dis darem jammer dat jy nie slim genoeg was om ’n BSC-graad te verwerf nie.

Dit was alles deel van verskeie generasies se diepgesetelde Calvinistiese werksetos, en ’n wydverspreide geringskatting van die geesteswetenskappe. Dit was dikwels krenkend, nie juis bevorderlik vir joie de vivre nie, en was boonop gewaarborg om later die middeljare se teleurstellings in ’n nog skerper fokus te plaas.

50% van studente skop op.

Maar dit was ten minste eerliker as die benadering waarmee skoolverlaters en studente tans aangemoedig word om totaal onrealistiese ideale te koester.

Die afgesaagde ou gepieker oor die statusverskille tussen Baccalaureus Artium en Baccalaureus Scientiae verdof in die aangesig van algehele onbegrip oor wat dit verg om enige van dié grade te behaal. Die sotterny oor die minimum vereistes vir universiteitsvrystelling in die Staatskoerant van 30 November is hiervan ’n stralende voorbeeld. Luidens Naledi Pandor se aankondiging hoef matrikulante wat universiteit toe wil gaan nie meer 50% in vier verpligte vakke te behaal nie. Die lys aangewese vakke is geskrap en 50% in enige vier vakke (met die uitsondering van lewensoriëntering) is nou goed genoeg. Met ander woorde: Universiteitsvrystelling kan nou behaal word met vakke soos dans, ontwerp en toerisme.

Studente moet ook hul moedertaal met 40% of meer slaag, enige vier vakke met 50% of meer, twee ander vakke met 30% of meer en hulle hoef slegs 30% in die universiteit se onderrigtaal te behaal. Só word geweldige vrot presteerders wat Engels net-net verstaan onder die groteske wanindruk gebring dat hulle in ’n akademiese omgewing kan funksioneer.

Hierdie veranderings is katastrofies. Universiteite – wat reeds tussen vyf en nege keer meer aansoeke kry as waarvoor hulle plek het – sal verder oorweldig word. Boonop sal 50% van studente wat wel toelating kry, die universiteit ná vier of vyf jaar sonder ’n kwalifikasie verlaat omdat hul skoolopleiding hulle nie toegerus het om ’n graadkursus te voltooi nie. In hul spoor laat hulle ’n slagveld vol oorwerkte dosente wat al hoe meer energie bestee aan studente wat gewoon net nie by magte is om hul kursusse te slaag nie.

Volgens die Staatskoerant mag universiteite wel nog kursusspesifieke en vakspesifieke vereistes stel. Dit raak dus die verantwoordelikheid van die universiteit om matrikulante te ontnugter. Jy dans baie mooi, maar jy hoort nie op universiteit nie. Jy bak lekker skons, maar jy hoort nie op universiteit nie. Amptelik is 30% in Engels goed genoeg, maar jy gaan nie die professor se lesings verstaan nie.

Of eenvoudiger en prontuit gestel: Jy kan onmoontlik slaag. Jy is ’n vermorsing van tyd, geld en energie. En jy verwoes die kanse van diegene wat wél hier hoort, en van die instelling wat veronderstel is om op húlle te fokus.

Dis nie jou skuld nie, maar dit verander niks. Jy het universiteitsvrystelling, maar jy hoort nie op universiteit nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.