Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Nou is Saartjie maar wéér net ’n blote paspop

Die Nederlandse skrywer Frank Westerman, tans op besoek aan Suid-Afrika, het in die 1980’s toevallig beland in die dorpie

Banyoles, waar ’n opgestopte, swart man – slegs bekend as El Negro – in ’n museum uitgestal is.

Westerman se boek El Negro en ik, wat pas in Afrikaans vertaal is, gaan haal die verhaal by die Franse broers Jules en

Édouard Verreaux. Toe hulle die Kaap in 1830 besoek het om eksotiese diere vir hul vader se taksidermie-onderneming te versamel, het hulle ook die lyk van ’n swart man opgegrawe.

Hy is saam met skeepskiste vol klipspringers en hartbeeste na Frankryk gestuur, opgestop en het mettertyd in die hande beland van die Spanjaard wat hom in die museum in Banyoles geplaas het.

Vir Westerman was dit ’n beskamende ervaring om El Negro as museumartefak teë te kom in ’n anneks van die soogdiersaal. Hy het ’n speurtog begin om sy identiteit te probeer agterhaal en onder meer ontdek dat die kurators van die museum in Banyoles vir El Negro ’n “rompie” aangetrek het omdat hulle ongediend was met die skamele lendekleed waarin die Franse hom uitgestal het.

“Hy het ’n soort paspop vir Europese sedes geword,” het Westerman die afgelope week in Kaapstad gesê. En ’n projeksie­skerm vir Europese politiek, sou mens kon byvoeg, want voordat El Negro in 1999 na Botswana geneem is, waar hy nou in ’n parkie begrawe lê, het die Katalane woedend beswaar gemaak teen sy verwydering omdat hulle hom opgeëis het as totem van hul etniese trots en andersoortigheid.

“Waarom sou ’n wit man ’n standbeeld wil ontklee om ’n naakte Saatjie Baartman weer eens te ontbloot?”

Let wel: Toe El Negro “gerepatrieer” is, was dit nie na Suid-Afrika, waar hy opgegrawe is nie, maar as deel van groot burokratiese verwarring na Botswana.

Die glasbolle is uit sy oogkaste gehaal, sy gips-lippe is afgesny en die metaalruggraat is uit sy lyf getrek. Sy vel, deurdrenk van arseen en skoenpolitoer, is afgeskil en die skedel en beendere is in ’n kis geplaas en na Afrika gestuur. Sy vel het in Spanje agtergebly. Sy spies is steeds in die mu­seum in Banoyles. Kritiek teen die mensonterende wyse waarop El Negro uitgestal is, het dus op skreiende wyse gelei tot verdere skending en verminking.

Dit is ’n wrang verhaal, des te meer as ’n mens in ag neem dat Westerman se besoek en die vertaling van sy boek saamval met ’n hernieude rusie oor Willie Bester se Saartjie Baartman-standbeeld in die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad. Dié beeld is in 2016 deur studente met doeke bedek omdat die standbeeld, volgens hulle, Baartman opnuut sou verneder.

Besware deur die beeldhouer, akademici en kunstenaars dat dit op sensuur neerkom, is geïgnoreer – totdat die bibliotekaris William Daniels die doeke vanjaar afgehaal het, omdat hy meen sensuur is strydig met die etiese kodes van die biblioteekwese. Dié gebaar is as uitlokkend gebrandmerk.

“Waarom sou ’n wit man ’n standbeeld wil ontklee om ’n naakte Saatjie Baartman weer eens te ontbloot?” het die UK-professor Elelwani Ramugondo reageer.

Die selfaangestelde verdedigers van Saartjie Baartman se eer was volstoom aan die gang, maar soos met El Negro se repatriasie, lei hul verontregtheid tot nuwe skendings van haar nagedagtenis.

Saartjie is opnuut in doeke toegedraai, en dié keer selfs met ’n hooftooisel van kraletjies behang. Bykans van kop tot toon bedek staan sy daar, en dit is duidelik: Soos El Negro, het haar beeld ’n paspop geword vir sedes, agendas en woedes wat weinig, dalk heeltemal niks, met haar swaarkry uit te waai het nie.

Meer oor:  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.