Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Om elke dag op klein maniere beter te wees as wat ons is

Ag tog. Al weer een van daardie weke. Ek het laatnag op straat my rug gedraai op ’n seun van so om en by 16 wat my soebat om vir hom ’n brood te koop. Ek het gehoor hoe mooi hy vra, hoe hy sméék, maar ek het weggeloop.

Dit was nie al nie. Ek het al weer nie met die arme hond gaan stap nie. My biblioteekboeke is laat en ek het my jogaklas gemis omdat ek aan’t rinkink was. Twee weeksaande ná mekaar het ek twee glase wyn pleks van water gedrink. Ek het pure, onverdunde jaloesie gekoester teen wie ook al die PowerBall-miljoene gewen het. Op my foon gepraat terwyl ek agter die stuur van my motor in die verkeer gesit het. Onwettig geparkeer (meer as een keer). Op my kinders gegil. ’n Vriendin se verjaardag vergeet. Vurig en met ongebreidelde genot oor iemand geskinder. My humeur erg verloor met ’n sekretaresse. Sterk bewoorde e-posse geskryf wat kon gebly het. Simpel twak op Netflix gekyk toe ek moes gewerk het. Vleis geëet, kos in plastiekhouers gekoop en water gemors.

Ook: Toe ek besef dat die seun wat die brood vra se smeekroep ’n stuk van my hart flenters gebreek het, het ek omgedraai en hom gaan soek. Maar toe hy nie meer daar is nie, het ek gesug en in my motor geklim en huis toe gegaan en in my heerlike bed gaan klouter.

Nogtans het ek soos ’n renoster geblaas en gestoom en pootstampend rondgestorm toe ek lees dat Jason Rohde se ma meen hy is ’n goeie mens. Die man wat sy vrou verkul, met ’n kussing versmoor en haar lewelose liggaam met die koord van ’n haartang aan ’n klerehaak opgehang het sodat dit soos selfmoord moet lyk ’n goeie mens? Ja, het Brenda Rohde in die hof volgehou. Hy was ’n maklike baba, geduldig en liefdevol met sy dowe sussie, ondersteunend toe sy ma siek was. Hy is sagmoedig. Hy gaan kerk toe.

Hoe weet mens of iemand goed of sleg is?

Landswyd het mense, veral vroue, van verontwaardiging gestik. ’n Goeie mens vermoor nie sy vrou nie! Meer nog: ’n Goeie mens maak nie ’n moordenaar groot nie! Maar saam met die beeld van die klein vroutjie met die silwer kruis om die nek het dit by my bly spook: Hoe weet mens of iemand goed of sleg is? Hoe weet jy of jy sélf goed of sleg is?

As mens na Freud luister, is ons almal sleg. Ons vernaamste impulse is selfbeskerming, aggressie, ’n behoefte aan liefde, die soeke na plesier en die vermyding van pyn.

Dus: ’n Diepgesetelde geneigdheid om die self bo ander te stel. Christene glo die mens word in sonde gebore, maar kan deur God se genade gereinig word. En Aristoteles het geskryf daar is vier maatstawwe waaraan die goedheid van ’n mens gemeet kan word: wysheid, gematigheid, regverdigheid en moed. Die wyse mens is versigtig, stel verstandige maatreëls in en neem taktvolle besluite ná objektiewe en deeglike oorweging. Die matige mens waak teen emosies, gewoontes, behoeftes, denkwyses en sienings wat gesonde balans versteur. Die regverdige mens respekteer ander se regte en behandel hulle soos hyself behandel wil word. En die moedige mens doen die regte ding, kom op vir die waarheid, aanvaar verantwoordelikheid vir foute en mislukkings en rig sy lewe volgens ’n morele kompas.

Dit is moontlik en selfs waarskynlik dat Jason Rohde se ma haar aan skynsedigheid skuldig gemaak het en skaamteloos gelieg het om haar bose kind se bas te probeer red; en dat hy, en al die ander soos hy, tot in sy kern swart en verrot is. Dit is moeiliker om te glo dat goed en sleg vloeibare begrippe is en dat die slegte man wat sy vrou vermoor het, soms ook goed was en weer goed sal word. En dat die res van ons harder gaan probeer, elke dag, op honderde klein maniere, om beter te wees as wat ons is.

Moeilik, maar nie onmoontlik nie. Te midde van onuitspreeklike wreedheid en diep in die skadu’s van wanhoop, het die Joodse tiener Anne Frank in ’n dagboekinskrywing volgehou: “Ondanks alles geloof ik in de innerlijke goedheid van de mens.”

Meer oor:  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.