Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Ons skole moet oases wees; liefs nie eilande nie

Afrikaanse skole het enorm baie om op trots te wees. Dit is eintlik verstommend: Altesaam 12 Afrikaanse skole is vanjaar onder die 20 skole wat landwyd die meeste onderskeidings behaal het.

Dit is name wat wyd en syd bekend is onder Afrikaanssprekende ouers. In Gauteng is die drie voorlopers in die wedloop om onderskeidings die hoërskole Waterkloof, Menlopark en Garsfontein. In die Wes-Kaap is dit Paul Roos Gimnasium en die hoërskole Stellenberg en Parel Vallei.

Dit is almal groot skole, maar die top-20 klein skole (skole met minder as 40 matrieks) met die meeste onderskeidings landwyd is almal Afrikaanse skole.

Afrikaanse skole het drie keer soveel onderskeidings in wiskunde behaal as die nasionale gemiddelde en hoewel slegs 10% van die land se skole Afrikaans is, maak hulle 20% van die beste presterende skole uit.

Wees verseker dat sowel vriende as vyande bewus is daarvan dat Afrikaanssprekende leerlinge die voorreg het om onderrig te ontvang aan instellings wat bekend is vir akademiese uitnemendheid. Die welslae wat hulle behaal, maak Afrikaanse skole gesog, maar kan ook van hulle teikens maak.

As Afrikaanse skole nie in pas bly met die res van die land nie, gee dit skietgoed aan diegene wat hulle wegwens. Dit strek ook tot nadeel van die kinders wat by daardie skole se deure uitstap. Sonder re­spek en verdraagsaamheid vir ander sal selfs ’n matrikulant met agt onderskeidings struikel in tersiêre en professionele omgewings wat meer uitdagend is as die betreklik beskutte kring van ’n Afrikaanse skool.

My ervaring van die vier Afrikaanse skole waar my kinders al skoolgegaan het, het gewissel.

Die gehalte van Afrikaanse skole kan dus nie net aan onderskeidings gemeet word nie. Die vraag is of leerlinge toegerus word om staande te bly in ’n land van groot diversiteit en voortdurende verandering. Is dit skole wat vorentoe kyk, of skole waar die verlede stowwerig voortleef?

My ervaring van die vier Afrikaanse skole waar my kinders al skoolgegaan het, het gewissel. Oorwegend was daar ’n gesofistikeerde omgaan met die kompleksiteite van ’n land wat baie verander het, en steeds aan’t verander is. Daar was ’n balans tussen die waardering vir ryk geskiedenisse en die noodsaak om nuut te dink oor sekere aangeleenthede.

Ongelukkig het ek ook al by meer as een geleentheid beleef dat Afrikaans as voertaal die verskoning raak om eng beskouings oor Christenskap, die Bybel en geloof aan my of my kinders op te dwing; of vir onverdraagsaamheid teenoor ander rasse en kulture; of vir diskriminasie op grond van seksuele voorkeur; of vir ’n onbereidwilligheid om vir verskillende denkwyses en leefwêrelde voorsiening te maak.

Sulke voorvalle is die uitsondering, maar wanneer dit wel gebeur dat ek moet protesteer teen krenkende houdings of vir groter verdraagsaamheid moet pleit, hoor ek altyd ’n reël uit David Kramer se “Skipskop” in my gedagtes: “Wanneer hou die dinge op?’’

’n Mens raak moedeloos as jy jou vasloop in dikvellige opvoeders wat nie verstaan wat alles op die spel is nie. Elke keer wanneer ek in die media lees of met die riemtelegram hoor dat daar ’n storm losgebars het in die een of ander Afrikaanse skool omdat kinders se hare ’n halfmillimeter te lank en hul roksome ’n halfmillimeter te kort is, of omdat daar jou wrintiewaar steeds teen gay leerlinge gediskrimineer word, of omdat onderwysers in akademiese tyd dweperige lekepredikers raak pleks van oopkop opvoeders, dink ek aan die onheilspellende Engelse spreekwoord: “You will win the battle, but lose the war”.

Daar is ook die kwelling hoe dit na buite beleef word, want Afrikaanse skole kan slegs op welwillendheid en voortbestaan reken indien hulle die politieke en maatskaplike landskap rondom hulle in ag neem. Afrikaanse skole, onderwysers en leerlinge word met valkoë dopgehou en moet daarom brugbouers wees.

Terwyl ’n nuwe groep matrikulante reeds weer hard aan’t leer is vir die eindeksamen en Afrikaanse skole besig is om hulle uitstekend daarvoor toe te rus, is dit die moeite werd om voortdurend oor waardes en identiteit te bly besin. Afrikaanse skole moet oases van uitnemendheid wees; nie eilande van onvanpaste verstoktheid nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.