Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Ons soek na Kat – in die berge met Jan Tuisbly se kar

Wie dit hierdie tyd van die jaar, midde-in die sopnat en winterkoue skoolvakansie, op Facebook waag, het hare op hul tande nodig. Dit kan mens in selfbejammering laat verval: die stortvloed foto’s van vriende en kennisse wat skouspelagtig die somer in die Noordelike Halfrond geniet. Terwyl hulle lafenis soek in fonteine in Parys (pragtige foto’s) of in saffierblou baaie van Portugal (pragtige foto’s), sit jy in jou uitgesakte grys sweetpakbroek en probeer met halfverkluimde kloutjies ’n skraal kaggelvuur stook.

“My sweetpakbroek! My sweetpakbroek! Dis my lewe en dis my look!” sing my oudste ’n Karen Zoid-song voor hy langs my neerplof. “Wat doen jy?” vra ek. “Ek kyk op Instagram na foto’s van my maats wat oorsee is.” Verbitterd volg hy dit op met ’n lang inventaris van wie waar kerjakker. Sagtewang, sy sussie, kom ook ingestrompel. “Hoekom kan ons nie ook oorsee gaan nie,” weeklaag sy. “Hoekom moet ons al wéér Sederberg toe gaan? Al my maats is oorseeeeee.”

’n Paar dae later besef sy dat “Sederberg toe gaan” selfs erger is as wat sy onthou, want ons gesin gaan nie iewers heen in die sin dat jy daar aankom en op een plek bly sit soos normale vakansiegangers nie. As jy nie berg-op geboender word in ysige wind en weer nie, moet die wiele rol. Jy bly maar heeltyd ry. Bergpasse en grondpaaie is die bestemming. Net soms hou ons by vergete ruïnes stil om te luister hoe spoke fluister, of om tussen die klipstapels rond te dwaal.

Dit is aan die einde van so ’n grondpaddag dat Sagtewang grootoog kom berig: Kat is weg. ’n Buitestander sal die speelding waarvan sy praat, nie eien as ’n kat nie. Hulle sal hoogstens ’n verslete, vuil wollerige reep lap sien wat eintlik nog net by die gehawende snoet met sy verlepte snorbaarde vol pluis geplomp is. Maar vir almal wat die afgelope 11 jaar dié twee se innige samesyn beleef het, is Kat regtig. En nou is hy regtig weg.

Sy weet waar hy is. Op ’n klip. In ’n pas.

Sy weet waar hy is. Op ’n klip. In ’n pas. Ses uur se ry van waar ons staan. Ek sluk. “Wel, dis nou die einde van Kat,” mor haar pa. Sagtewang knik. Sy raak dalk nou bietjie groot vir Kat. Ons gaan slaap. Dit sal malligheid wees om daardie hele vervlakste pad weer aan te durf agter ’n onwelriekende bondel vals pels aan.

Die slaap is nie soet nie. The Velveteen Rabbit, een van my gunstelingboeke as kind, spook by my. In dié boek leer ’n speelding op die harde manier dat die liefde van ’n kind van jou iets maak wat werklik bestaan, al moet jy ’n prys daarvoor betaal: “Generally, by the time you are Real, most of your hair has been loved off, and your eyes drop out and you get loose in your joints and very shabby.”

Teen dagbreek sug Sagtewang se pa: “Kom ons gaan soek vir Kat.” Dis moeilik. Daar is geen bakens waar ons stilgehou het nie. Ons moet na ’n foto kyk wat ons geneem het net voordat die dier op ’n klip neergesit en daar vergeet is, en die horison en klippe op die foto probeer eien in die uitgestrekte landskap. Dit neem ure, maar ons kry haar en daar volg ’n pragtige herontmoeting met trane van blydskap. En, onverwags, ook ’n oplossing vir ’n ander probleem. Toe Sagtewang weer neulend vra hoekom ons nie ook oorseeeeee kan gaan nie, want al haar maats is oorseeeeee, het ek eindelik ’n antwoord. “Want as jy dáár vir Kat verloor, is dit te ver om haar te gaan soek.”

Meer oor:  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.