Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Ontvangers van dié grade is nie almal ewe eerbaar

Wat het die paddapop Kermit, die akteur Liam Neeson, oudpres. Jacob Zuma, die ANC-politikus Ace Magashule, die sultan van Broenei, die sportstadionbaas Jaques Grobbelaar en die wynmaker Jan Boland Coetzee in gemeen?

Maklik, liewe lesers! Hulle is almal die ontvangers van ’n eredoktorsgraad, oftewel ’n honorandus honoris causa. Daardie deftige Latyns beteken dat hulle, anders as studente wat jare lank daarvoor gewerk het, die graad ontvang as ’n “saak van eer”. Maar soos mens uit die lys name hier bo kan aflei, is nie alle ontvangers van eregrade ewe eerbaar nie.

Volgens ’n goed gedokumenteerde artikel in Noseweek se Februarie-uitgawe het Grobbelaar sy doktorsgraad van die sogenaamde Commonwealth University gekoop (soos ook van die ander pryse en eerbewyse op sy CV). En Magashule se doktorsgraad van die Bahcesehir-Universiteit in Turkye het natuurlik alles te doen met die feit dat dié universiteit finansieel gebaat het by ’n patronaatskap wat Magashule met belastingbetalersgeld gefinansier het. Terwyl die ANC in mediaverklarings liries geraak het oor hoe Magashule se doktoraat aan jongmense wys hoe ver opvoeding en studie ’n mens kan bring (so al asof die man ’n regte egte graad behaal het), het die EFF prontuit verklaar dis ’n “onverdiende boggraad”.

Ook werklik vooraanstaande universiteite trap gereeld in die strik om volslae mamparras te mantel en kap. Die Universiteit van Oxford en King’s College London is tans in die spervuur oor hul eredoktorate aan Hassanal Bolkiah, beter bekend as die sultan van Broenei, daardie bedompige plek waar beoefenaars van gay seks vanaf vandeesweek volgens wet gestenig sal word. En sy doktoraat van Oxford is nogal in die regte!

En wat dan nou van Kermit en Jan Boland Coetzee?

Die Queens-Universiteit in Belfast sit ook met ’n dilemma. Nadat hulle ’n eredoktoraat aan Liam Neeson toegeken het, het hy in ’n onderhoud vertel hoe hy op ’n keer gefantaseer het oor hoe hy ’n swart mens met ’n knuppel wil doodmoker.

Nog meer verleentheidswekkend as wanneer universiteite eredoktorsgrade moet terugtrek (soos die George Washington-Universiteit met Bill Cosby s’n gedoen het ná sy smerige seksskandale), is universiteite wat nié die ruggraat het om dit te doen nie. In laasgenoemde kategorie val die Universiteit van Fort Hare (UFH) en die Universiteit van Zoeloeland (Unizulu), wat nog nie ’n vinger gelig het om hul eredoktorate aan oudpres. Zuma ongedaan te maak nie. Dat die UFH nou juis ’n doktorsgraad in administrasie aan hom toegeken het, is so lagwekkend dat mens amper wonder of hulle Markus Jooste as ’n volgende kandidaat oorweeg!

En wat dan nou van Kermit en Jan Boland Coetzee? Ontspan. Hulle is onbesproke. Kermit is glo ’n kampvegter vir aardbewaring soos geen ander paddapop nie; en hy het nog nooit ’n poot verkeerd gesit nie. Jan Boland Coetzee is volgens dié wat hom ken, ’n reus van die wynbedryf wat kop en skouers bo almal anders uittroon, ’n mentor vir vele generasies en ’n ware heer. En dis benewens sy vermoëns aan die kant van die skrum, word ek vertel.

Ongelukkig verander Kermit en Jan se aanneemlikheid min aan die feit dat die toekenning van eredoktorsgrade, wat in 1470 by Oxford begin het as ’n kniebuiging aan koninklikes, rykes en invloedrykes, ’n verouderde en twyfelagtige praktyk is. Dié eeue-oue, elitistiese Britse praktyk voel veral onvanpas in ’n land waar eerbaarheid by verreweg die meeste van ons leiers so opvallend afwesig is.

Dit is hoogtyd dat ons die voorbeeld begin volg van die prestigeryke Amerikaanse navorsingsinstellings, byvoorbeeld die Massachusetts Institute of Technology (MIT), Stanford, Cornell en Rice, wat almal sterk gekant is teen die toekenning van eredoktorsgrade. In die beroemde woorde van William Barton Rogers, MIT-stigterslid, is dit nodig om standpunt in te neem teen “die uitdeel van aalmoese... onverdiende eer en raserige gewildheid.”

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.